Hipertensie (hoë bloeddruk) word in seker 95% van gevalle toegeskryf aan die kombinasie van ‘n genetiese geneigdheid tot die toestand, en lewenstylfaktore wat lei tot ‘n verhoging in bloeddruk. Laasgenoemde sluit in stres-sensitiwiteit, te veel sout in die kos, te min kalium- en kalsiuminname en ‘n gebrek aan fisieke oefening. Hoë bloeddruk kom baie dikwels in kombinasie voor met ander toestande soos diabetes, ‘n hoë cholesterol, niersiektes en vetsug.
‘n Hoë bloeddruk is ‘n belangrike risiko-faktor vir bloedvatsiektes, en veroorsaak, benewens hartaanvalle en beroertes, ook nierskade met nierversaking, hartversaking, aneurismes (verswakking van die wand van die bloedvate) en aantasting van die bloedvaatjies agter in die oog met die gevaar van blindheid. Vir hierdie redes is dit belangrik om die bloeddruk goed te kontroleer. Moet egter nie eerste na die pillebottel gryp nie. Daar is baie wat gedoen kan word om die bloeddruk normaal te hou of dan die hoeveelheid medikasie wat benodig word te verminder.
Weereens is ‘n gesonde lewenstyl van groot belang om hoë bloeddruk te behandel en om gepaardgaande gesondheidsrisiko’s te beperk.
Eenvoudige maatreëls kan ‘n enorme verskil maak, byvoorbeeld:
- eet die minimum sout
- eet die regte kossoorte en sorg dat daar genoeg kalium, kalsium en vitamienes in die dieet is
- oefen gereeld; stap elke dag vir 30 minute
- moenie sommer net voor die televisie sit nie – doen jou oefeninge op die mat, swaai ‘n paar handgewiggies of trap jou oefenfiets; so slaan jy ‘n hele paar vlieë met een klap
- vermy stres deur goeie beplanning en skakel dit so ver moontlik uit deur pro-aktief te wees
- slaap genoeg
- moenie rook nie! Elke sigaret wat jy opsteek dit veroorsaak onmiddellike vernouing van al die bloedvate in die liggaam
- vermy oormatige alkoholinname (1 glasie wyn vir ‘n vrou, 2 vir ‘n man is veilig)
- moenie vet word nie. As jy reeds oorgewig is, stel ‘n teiken om 10% van jou gewig af te skud. Selfs 2 kg. gewigsverlies het ‘n enorme gesondheidsvoordeel. Jy hoef nie soos ‘n model te lyk nie!
- indien hierdie maatreëls nie genoeg is nie, neem addisioneel die nodige medikasie onder toesig en toets die bloeddruk gereeld.
Bloeddruk word beskou as gering verhoog as dit konstant bokant 140/90 mmHg meet; bokant 160/110 word as matig verhoog beskou, en hoër as dit, as ernstig.
Onthou dat een hoë bloeddruklesing nie genoeg is om hipertensie te diagnoseer nie. Die bloeddruk van ‘n gesonde mens wissel deur die dag, en sal op verskillende tye verskillend meet. ‘n Styging in bloeddruk is onder andere ‘n respons van die liggaam op gevaar , of op ‘n strestoestand, en dien in so ‘n geval om die bloed vinniger te laat sirkuleer na die spiere sodat daar vinnig opgetree kan word in gevaarlike toestande.
‘n Hoër lesing as normaal kan ook gekry word as ‘n dokter of vepleegster die bloeddruk neem (die sg wit jas-effek). Soms is dit beter om ‘n 24 uur bloeddruklesing te laat doen om vas te stel of die persoon werklik ‘n hoë bloeddruk het. Hierdie is ‘n belangrike diagnose om te maak aangesien dit verreikende gesondheidsimplikasies het, nie net ten opsigte van die behandeling nie, maar ook vir langtermyn gesondheidsrisiko’s – wat weer mag behels dat ‘n lewenspolis belaai sal word.
Oorbehandeling van hoë bloeddruk kan weer lei na bewussynsverlies onder seker omstandighede – bv ‘n bejaarde pasiënt wat op ‘n warm dag in die kerk sit en dan opstaan vir gebed of sang. Die skielike dreinasie van bloed vanuit die kop en boonste ledemate na die bene, kan die bloeddruk soveel verlaag dat die pasiënt tydelik sy bewussyn verloor – ‘n tipiese floute. Dis dieselfde meganisme wat veroorsaak dat ‘n soldaat wat lank in die son op parade staan net eenvoudig omkantel, al is hy heeltemal gesond.
Soms verskil die bloeddruk van die een arm na die ander. Dit kan die gevolg wees van ‘n vernouing in die bloedvoorsiening na een van die arms, soos wat met aterosklerose kan voorkom. As die verskil in bloeddruk tussen die twee arms meer as 15% is, is daar ‘n betekenisvolle geassosieërde risiko om bloedvatsiekte in die bene te hê of te ontwikkel. Dit dui ook op ‘n verhoogde risiko vir hartaanvalle of beroertes. ‘n Spesiale ondersoek wat beskikbaar is om vas te stel of daar wel ‘n vernouing in bloedvoorsiening is, is ‘n Dopplerstudie (bloedvloeistudie) van die betrokke bloedvate, wat deur ‘n radioloog gedoen kan word.