Dit is altyd belangrik om jou longe gesond en vry van slym (sekresies) te hou. Gedurende die Covid-19 uitbraak is daar nog ‘n groter klem op longgesondheid en dat mense wat met onderliggende longprobleme sukkel hul longe sover moontlik skoon en gesond moet hou. Dit is uiteraard nie net tydens hierdie pandemie dat longgesondheid belangrik is nie en om hieraan aandag te gee is in elk geval belangrik vir goeie gesondheid.
Mense wat met chroniese onderliggende longtoestande sukkel voel dikwels kortasem en het ook verhoogde afskeiding van longsekresies. Dit is belangrik om van hierdie sekresies ontslae te raak om jou gesond te hou, infeksies soos Covid 19 te voorkom, en ook om asemhaling te vergemaklik. Algemene chroniese longtoestande sluit in:
- Asma
- Chroniese Obstruktiewe Lugwegsiekte
- Chroniese Brongitis
- Brongiëktase
- Emfiseem
Aktiewe asemhalingsiklus
Die Aktiewe Asemhalingsiklus vorm die basis van verskeie longbehandelings. Dit bestaan uit drie dele:
- Asemhalingsbeheer
- Borskasuitsettingsoefeninge
- Geforseerde uitasemingstegniek (“huffing”)
-
Asemhalingsbeheer – Laat jou lugweë ontspan
Hierdie deel van die siklus is belangrik om die lugweë te laat ontspan. Dit verlig “wheeze” en brongospasma wat dikwels ontstaan wanneer jou bors toetrek en ook wanneer jy hoes. Dit is baie belangrik om ná die meer aktiewe dele van die siklus terug te keer na hierdie asemhalingsbeheertegniek, omdat dit weer die lugweë laat ontspan. Hierdie tegniek kan ook gebruik word as jy kortasem voel, brongospasma ondervind of angstigheid in jou alledaagse lewe. Die tyd wat in hierdie fase spandeer word sal wissel van individu tot individu.
Hoe doen ek dit?
- Sit gemaklik op ‘n stoel met jou voete plat op die grond of lê op jou bed op jou rug met jou knieë gebuig en jou voete plat op die bed. As deel van die Aktiewe Asemhalingsiklus neem pasiënte gewoonlik ses asems in hierdie fase.
- Haal gemaklik in en uit asem deur jou neus. Indien jy nie deur jou neus kan asemhaal nie, kan jy ook deur jou mond in en uit asemhaal. As jy deur jou mond uitasem, gebruik “pursed lips breathing” (pers jou lippe effens saam, soos as jy warm kos koudblaas) – dit laat die lugweë bietjie langer oopbly en fasiliteer uitasem as jy deur jou mond uitasem.
- Maak jou asemteue geleidelik langer.
- Maak jou oë toe en maak seker jy is ontspanne. Let daarop om jou skouers en bodeel van jou borskas te ontspan, en asem te haal met die onderste deel van jou borskas. Jy kan jou hande op jou maag sit om jou te help voel hoe die lug tot onder in jou longe intrek en so jou maag uitdruk na buite met inaseming, en hoe jou maag weer ontspan as jy uitasem. Moenie diep asemhaal nie (moenie meer lug in jou longe probeer intrek nie), hou jou asemhaling ontspanne en gemaklik.
-
Borskasuitsettingsoefeninge – Kry lug agter daardie sekresies!
Hierdie is ‘n oefening wat konsentreer op inspirasie (inaseming). Dit help om sekresies los te maak deur lug agter die sekresies in te laat kom.
Hoe doen ek dit?
- Hou jou nek en skouergordel ontspanne. Neem ‘n lang, diep asem in, deur jou neus indien moontlik, as dit nie moontlik is nie kan jy deur jou mond asemhaal.
- Hou jou asem in vir 2 tot 3 sekondes aan die einde van jou asem intrek (inspirasie), voordat jy weer uitasem.
- Asem ontspanne en gemaklik uit, soos ‘n sug, deur jou mond.
- Herhaal 3 tot 5 keer.
- Jy kan jou hande op jou maag plaas en jou maag uitstoot met inaseming, om die lug tot onder in jou longe in te trek en meer lug in te asem. Jy kan ook jou hande op verskillende dele van jou borskas plaas gedurende hierdie fase om ventilasie in verskillende dele te verbeter.
- Keer terug na asemhalingsbeheer indien jy lighoofdig voel.
-
Geforseerde uitasemstegniek (Huffing) – Kry nou daardie sekresies uit!
Hierdie is ‘n tegniek waar mens deur ‘n oop mond en keel uitasem, instede daarvan om te hoes. Dit word aangewend om sekresies wat losgemaak is deur die borskasuitsettings-oefeninge nader aan jou keel te beweeg.
Huffing is meer effektief om sekresies uit die klein lugweë te beweeg as om te hoes en is minder uitputtend.
Daar is twee tipe huffs. Medium volume huffs help om sekresies uit die kleiner lugweë na die groter lugweë te laat beweeg en hoë volume huffs help om die sekresies dan van die groter lugweë na buite uit te kry. Dit sal nodig wees om ná ‘n siklus van huffing te hoes om die sekresies heeltemal uit te kry.
Hoe doen ek dit?
- Medium volume huff
- Neem ‘n gewone grote asem in en dan ‘n aktiewe lang asem uit, totdat jou longe leeg voel. Verbeel jou jy is besig om ‘n spieël op te wasem.
- Jy kan ‘n paar medium volume huffs doen.
- Hoë volume huff
- Neem ‘n groot asem in, maak jou mond en keel groot oop en druk die lug vinnig uit deur jou maagspiere vinning saam te trek in ‘n kort “huff”.
- Doen net hierdie tipe huff as jy voel daar is sekresies wat reg is om uit te kom, omdat hierdie huff sekresies uit jou boonste lugweë kry.
Keer terug na asemhalingsbeheer na ongeveer twee stelle huffs, omdat huffing jou borskas kan laat toetrek.
Hoe weet ek ek huff korrek?
Die huff moet die sekresies in jou bors laat ratel of “crackle”. Indien jy met elke huff wheeze doen jy miskien die huffing te lank of te hard.
Hoes
Dit mag nodig wees om te hoes om die sekresies heeltemal uit te kry, sodat jy dit kan uitspoeg in ‘n sneesdoekie of bakkie. As huffing die sekresies heeltemal verwyder is dit nie nodig om te hoes nie. Dit is baie belangrik om lang hoesbuie te voorkom, aangesien dit uitputtend is en jou borskas seer en in spasma kan laat voel. Hoes slegs sekresies uit wat maklik kan uitkom, andersyds moet jy weer terugkeer na die begin van die aktiewe asemhalingsiklus.
- Doen die Aktiewe Asemhalingsiklus ongeveer 10 minute lank, of totdat jou longe skoon voel.
- Indien jy gesond is hoef jy slegs een of twee sessies van die Aktiewe Asemhalingsiklus per dag te doen. Indien jy egter siek is of meer sekresies het, sal dit nodig wees om die siklusse meer gereeld te doen, en dan die sessies korter te maak.
- Aktiewe Asemhalingsiklus kan maklik gekombineer word met ander longtegnieke soos posturale dreinering (om in verskillende posisies te lê sodat swaartekrag kan help om verskillende longlobbe beter te dreineer) of manuele tegnieke soos perkussie en vibrasies om die effektiwiteit van die siklusse te verhoog. Jou fisioterapeut sal jou kan help om sulke tegnieke aan te leer indien nodig.
Kontak ook jou fisioterapeut indien jy sukkel om hierdie Aktiewe Asemhalingsiklus aan te leer, of as dit nie jou sekresies kan verwyder nie.
Hierdie artikel gee slegs algemene advies. Onthou om hierdie asemhalingstegniek of ander nuwe tegnieke aan te leer met die medewete of onder die toesig van jou dokter of fisioterapeut.
Hierdie interessante en relevante artikel is geskryf deur Carin Smit. Sy is ‘n geregistreerde fisioterapeut, asook ‘n knap prokureur. Sy is Dr. Francois Retief se jongste dogter.