Die eerste twee artikels in hierdie reeks, geskryf deur Carin Smit, kan hier gelees word:
Deel 2: Akute pyn
Deel 3: Chroniese pyn: die rol van chroniese inflammasie
Chroniese pyn: die rol van die brein en senuwees
In die eerste artikel in ons reeks oor aspekte van pyn het ons gesien watter komplekse gewaarwording pyn is en dat alle impulse deur die brein geïnterpreteer word. Die brein besluit dan hoeveel pyn die individu gaan ervaar. Die tweede artikel handel oor akute pyn en hoe belangrik die akute inflammatoriese proses is. Die derde artikel bespreek watter belangrike rol die toksiese proses van chroniese inflammasie speel in chroniese pyn, asook maniere om chroniese pyn te verminder.
In hierdie laaste artikel in die reeks oor pyn kyk ons na ‘n ander aspek van chroniese pyn: wat gebeur as die brein en senuweestelsel oorsensitief raak.
Die meeste mense ondervind van tyd tot tyd pyn, en baie mense sukkel met herhalende pynvolle toestande (“as ek baie stres of lang ure moet werk is my nek altyd styf en seer”), maar vir sekere mense raak die intensiteit van hul pyn werklik onuithoudbaar en onhanteerbaar. Hierdie groep mense is die fokuspunt van die artikel wat volg. Die pyn wat ons bespreek handel weereens hoofsaaklik oor muskoluskeletale pyne (wat verwys na gewrigte, spiere, ligamente, ens.), hoewel chroniese pyn natuurlik nie beperk is tot muskuloskeletale probleme nie.
Soos ons al in die vorige artikels gesien het, vervul pyn ‘n lewensbelangrike funksie. Dit hou ons veilig, beskerm ons teen verdere beserings, en verseker dat beseerde dele kans kry om te genees. In hierdie opsig kan ons aan pyn dink as ‘n sekuriteitsalarm by ons huis wat optel as daar ‘n moontlike probleem is. Om hierdie analogie vir ons liggame te gebruik beteken dit dat pyn ons waarsku dat daar iets fout is en dat ons moet ondersoek instel. Dit kan egter gebeur dat die alarm self te sensitief kan raak, en kan afgaan as die wind waai, of vir geen rede hoegenaamd nie. Dan is die probleem nie met die veiligheid van die huis nie, maar met die alarmstelsel self en gaan dit nie help as die sekuriteitsaksiespan uitkom nie, ‘n tegnikus moet na die alarmstelsel self kyk en die probleem oplos. Op dieselfde manier kan die senuweesisteem ook oorsensitief raak, en dan is die probleem nie by die weefsel waar pyn ervaar word nie, maar by die senuweesisteem.
Hoe gebeur dit? Kom ons kyk na ‘n voorbeeld. Tessa is ‘n 35 jarige vrou wat in ‘n motorongeluk beseer is. X-strale en verdere ondersoeke het nie enige frakture opgetel nie, en sy is met ‘n sweepslagbesering (“whiplash”) van die sagteweefsel in haar nek gediagnoseer en huis toe gestuur met ‘n sagte nekstut om vir ‘n paar dae te dra tot haar nek beter voel. Die besering aan die sagteweefsel in haar nek asook die meegaande akute inflammasie wat volg stimuleer die nociseptore in haar nek. (As ons terugdink aan die eerste artikel onthou ons nociseptore die gespesialiseerde senuweereseptore is wat geaktiveer word met die beskadiging of moontlike beskadiging van selle). Haar brein interpreteer al hierdie stimuli van die nociseptore as pyn.
Hierdie nociseptore raak na afloop van die besering as deel van die normale genesingsproses vir ‘n tyd lank ná die weefselskade meer sensitief en skei ook sekere oordragstowwe af wat die area nog meer sensitief maak (1). Hierdie sensitiwiteit is uiteraard aan die begin goed en belangrik, want dit verseker dat Tessa haar nek stiller hou as gewoonlik sodat dit kan genees en ook dat sy nie gou weer haar nek beseer nie omdat sy versigtig is met haar nek. Soos wat die oorspronklike besering gesond word, neem hierdie sensitiwiteit egter nie in Tessa se geval af soos wat dit normaalweg doen nie. Hierdie sensitiwiteit noem ons perifere sensitiwiteit (“perifeer” dui daarop dat dit buite die rugmurg en brein is). Die sensitiwiteit speel mettertyd nie meer ‘n belangrikie rol nie, want die oorspronklike besering aan die sagteweefsel in haar nek het al genees, so daar is nie uit ‘n besering-oogpunt voordeel daaraan om die deel stil te hou en te beskerm nie, maar haar nek bly baie seer en raak al seerder.
Dit gebeur as gevolg van ‘n proses wat ons sentrale sensitisasie noem. Sentrale sensitisasie is ‘n proses wat in die sentrale senuweesisteem, die brein en rugmurg, plaasvind. Dit lei daartoe dat die sentrale senuweesisteem in ‘n proses van verhoogde aktiwiteit bly, of dan dat dit meer sensitief bly. Dit word ook “opwenning” (of in Engels “wind-up”) genoem. Sentrale sensitisasie lei hoofsaaklik daartoe dat die area meer sensitief word. Stimuli wat net bietjie seer behoort te wees, soos ‘n ligte stampie, word dan baie seer. Soms word stimuli wat glad nie seer is nie, soos ligte massering, as ongelooflik pynvol ervaar. Sentrale sensitisasie kan ook daartoe lei dat die area van pyn uitbrei (2). In ons voorbeeld het die pyn by Tessa se nek begin, maar dit kan later sprei tot haar hele rug seer is en sy aan gereelde hoofpyne ook ly.
Ons sentrale senuweesisteme reguleer ook ons emosionele toestand en met ‘n baie sensitiewe, prikkelbare senuweesiteem kan dit lei tot geïriteerdheid, angs, swak konsentrasievermoëns, moegheid, probleme met slaap en depressie. Pasiënte met fibromialgie, waar pasiënte aan wydverspreide spierpyne ly en wat baie bekend is om sentrale sensitisasie te veroorsaak, is byvoorbeeld al in studies getoon dat sulke pasiënte fisies en intellektueel vinniger moeg te word met take wat fisiese of intellektuele inspanning verg in vergelyking met persone wat nie fibromialgie het nie (3).
Dis nie net traumatiese beserings soos Tessa s’n wat tot sentrale sensitisasie kan lei nie, daar is ‘n hele lys toestande wat dit kan veroorsaak: beroertes, rumatoïde artritis, fibromialgie, prikkelbare dermkanaalsindroom, chroniese rug- of nekpyn, ná chirurgie en chroniese uitputtingsindroom (“yuppie griep”) om maar enkeles te noem. Een van die uitstaande kenmerke van sentrale sensitisasie is dat dit ‘n probleem is wat onafhanklik is van die oorspronklike trauma of disfunksie. Hierdie tipe chroniese pyn is dus nie bloot akute pyn wat net lank aanhou nie, dit is ‘n sekondêre probleem, en moet op sy eie aangespreek word. Wanneer sentrale sensitisasie ontwikkel maak dit in der waarheid nie meer saak of die oorspronklike besering of disfunksie opgehef is of nie, die sentralisasie moet op sy eie aangespreek word.
Tot op hede kan die mediese wetenskap nie verklaar hoekom sentrale sensitisasie by sekere individue ontwikkel en by ander nie, maar soos met baie mediese toestande blyk dit ‘n kombinasie van genetiese – en omgewingsfaktore te wees.
‘n Ander aspek wat die hantering van sentrale sensitisasie bemoeilik is dat dit moeilik is om te diagnoseer. Hoewel daar ‘n verskeidenheid vraelyste en kliniese toetse en aanduidings is, is daar geen eenvoudige laboratoriumtoetse daarvoor nie. Verder mag daar ook nog steeds ‘n aanhoudende besering of ander probleem in die weefsel self wees wat die pyn veroorsaak- met of sonder sentrale sensitisasie wat die probleem vererger.
Die pad vir pasiënte met sentrale sensitisasie is ongelukkig dikwels ‘n moeilike en ‘n alleen een. Hulle word dikwels deur (soms goedbedoelde en andersyds onkundige) mediese persone vertel dat hul besering al lankal genees is (as dit as gevolg van ‘n inisiële besering was), en dat hulle “net daaroor moet kom en moet aangaan”. Familie, vriende of lewensmaats gee dikwels ongepasde ondersteuning, wat kan wissel tussen te veel – wat lei tot hulpeloosheid en meer verlies van funksie vir sulke pasiënte, tot te min – wat lei tot meer depressiewe gemoedstoestande en baie skade aan sulke verhoudings (4).
Gelukkig bied die moderne geneeskunde al meer en meer hoop vir hierdie groep pasiënte. Hoewel daar nog baie is om oor hierdie komplekse onderwerp te leer, is daar al baie wat vir hierdie pasiënte gedoen kan word.
Indien jy, of iemand wat jy ken aan hierdie tipe probleem ly is dit in die eerste plek belangrik om nie moed te verloor nie, en aan te hou totdat die regte behandeling gevind word. Dikwels is behandeling ‘n spanpoging, met verskeie professionele persone wat ‘n bydrae lewer.
Dit is in die eerste plek natuurlik van uiterste belang om eers alle gevaarlike toestande, soos byvoorbeeld kanker of soortgelyke toestande uit te skakel wat die pyn kan veroorsaak.
Die fokus van die behandeling van sentrale sensitisasie is om die senstrale senuweesisteem weer minder sensitief te maak. Medikasie kan, veral inisieël, ‘n beduidende rol speel. Die middels wat gereeld voorgeskryf word sluit in antidepressante en antikonvulsie middels (wat beide bekend is om chroniese pyn te verlig), anti-inflammatoriese middels, spierverslappers en pynmedikasie (wat wissel van paracetamol tot opoïede en narkotiese medisyne) (2). Medikasie is egter nie ‘n volledige langtermynoplossing nie, en ander behandelings moet bygesit word om die langtermyngebruik van die medikasie te verminder. Dit is nodig omdat pasiënte ‘n toleransie opbou teen medikasie en ook afhanklik kan raak van medikasie. Dit gebeur veral met medikasie wat opoïede bevat.
Ander terapieë wat met vrug gebruik word sluit in pasiënt opvoeding, gegradeerde aerobiese oefenprogramme (5) en kognitiewe terapie, wat ten doel stel om denkprosesse te verander en die liggaam se “gevaar”stimuli te verminder (6). Dit is belangrik om uit te kom by ‘n professionele persoon wat voldoende kennis dra en gespesialiseer het in die behandeling van sentrale sensitisasie. Dokters, fisioterapeute, sielkundiges en arbeidsterapeute is van die professies wat, indien hul verder hieroor opleiding ontvang het of in hierdie veld spesialiseer, van groot waarde kan wees. Dit mag wel nodig wees om eers rond te soek totdat mens iemand kry wat werklik genoeg kennis in hierdie veld het.
Dit kan ook sinvol wees om, indien daar wel ‘n onderliggende besering of disfunksie is (bv. met sweepslagbeserings soos in Tessa se geval kan daar moontlik spierspasmas met snellerpunte en styfheid van nekbewegings wees) om dit ook aan te spreek. Met muskuloskeletale probleme is daar byvoorbeeld waarde daarin om, in samewerking met jou dokter, iemand wat in muskuloskeletale probleme spesialiseer, soos ‘n fisioterapeut, wat ondervinding het in die handtering van sentrale sensitiseringspasiënte, hiervoor te sien.
Nie alle persone reageer dieselfde op terapieë nie en daar is ‘n verskeidenheid van ander terapieë wat vir sekere mense effektief mag wees, wat insluit meditatiewe terapieë (soos joga of tai-chi), versterkingsprogramme, akupunktuur, miofasiale loslatings, kreatiewe terapieë soos dans of kuns, TENS (“transcutaneous electrical nerve stimulation”) en terapieë om slaap te verbeter.
Die belangrikste beginsel in die hantering van sentrale sensitisasie is om, op jou eie en in samewerking met ander, maniere te vind om jou senuweesisiteem, wat in ‘n toestand van hoë spanning verkeer, te kalmeer en gerus te stel. Chroniese sensitisasie hoef nie ‘n lewenslange vonnis van lyding te wees nie. Dit kan ook ‘n pad wees na ‘n plek waar jy met ‘n dieper oplettentheid van jouself en ‘n fokus op dinge in die lewe wat vir jou goed is en jou gelukkig maak ‘n meer gebalanseerde en sinvolle lewe kan lei.
(1) Chaban, V. V. (2010). Peripheral sensitization of sensory neurons. Ethnicity & disease, 20 (1 Suppl 1), S1.
(2) McAlastair, Murry, J. (2017). What is central sensitisation. Retrieved from http://www.instituteforchronicpain.org/understanding-chronic-pain/what-is-chronic-pain/central-sensitization
(3) Dailey, D. L., Keffala, V. J., & Sluka, K. A. (2015). Do cognitive and physical fatigue tasks enhance pain, cognitive fatigue, and physical fatigue in people with fibromyalgia?. Arthritis care & research, 67(2), 288-296.
(4) Newton-John, T. (2015). Not helping a partner with chronic pain may be the quickest road to recovery. Retrieved from https://theconversation.com/not-helping-a-partner-with-chronic-pain-may-be-the-quickest-road-to-recovery-48978
(5) Sañudo, B., Carrasco, L., de Hoyo, M., & McVeigh, J. G. (2012). Effects of exercise training and detraining in patients with fibromyalgia syndrome: a 3-yr longitudinal study. American journal of physical medicine & rehabilitation, 91(7), 561-573.
(6) Salomons, T. V., Moayedi, M., Erpelding, N., & Davis, K. D. (2014). A brief cognitive-behavioral intervention for pain reduces secondary hyperalgesia. Pain, 155, 1446-1452.