Volg weer die basiese riglyne en dagprogram soos uiteengesit vir Dag 1.
1. Wakkerword
Dink weer na oor die doelwitte wat jy vir jou aan die begin van die program gestel het en beplan jou dag met die doelwitte voor oë.
Mantra vir dag 5: “Christus is ons vrede.” – Ef 2:14
2. Stiltetyd/Meditasie
Bybelwaarheid: Die verhaal van brood loop soos ‘n silwer draad deur die Bybel en daar is talle teksverse oor: Dit het ‘n besondere betekenis oor hoe vir ons in alle aspekte gesorg word, na liggaam en gees. Van die begin af is God hoofsaaklik die Een wat brood gee. Daar is verskeie voorbeelde: Elia word gevoer met brood deur kraaie; die weduwee van Sarfat se meel is onbeperk; Josef sorg vir sy broers; brood in die vorm van manna was Israel se voedsel in die woestyn; die manna wat in die tabernakel gehou word was agter die voorhangsel; Christus is die Brood van die Lewe; die voorhangsel in die tempel in Jerusalem is geskeur toe die Lam geslag is (Christus gekruisig is), en die brood was nie meer agter die voorhangsel nie, maar hierdie heilige offer was nou vir ons almal beskikbaar. Die breek van brood by die nagmaal simboliseer die wyse waarop Christus ons heel maak deurdat hy gebreek was. Daarom waarsku die sakrament van die nagmaal dat die nagmaal nie ligtelik gebruik mag word nie. Hierdie begrip maak die grootste verskil in siekte, gesondheid en hoe ons ervaar wat met ons gebeur, hoe ons dink, en ons hele lewe word daardeur bepaal.
3. Fisieke aktiwiteit
Doen vandag weer:
- Balansoefeninge
- Enige aerobiese ofeninge volgens jou keuse. Kyk by die idees wat genoem word by Dag 1 as jy nie self aan iets kan dink nie.
4. Ander aktwiteite
Waarvoor voel jy lus vandag? As jy aan niks kan dink waarvoor jy lus voel nie, kyk weer deur die lys van doendinge en kies een wat by een of meer van jou doelwitte aansluit. Doen ook weer ‘n sosiale aktiwiteit deur die loop van die dag.