Die artikel wat hier volg, is ‘n vertaling van ‘n artikel deur Professor Paul A. Offit, professor in Pediatrie en Direkteur van die Opvoedkundige Sentrum vir Inentings, Children’s Hospital, Philadelphia, VSA. Die oorspronklike artikel is The Case for Letting Fevers Run Their Course.
Koors is nie ‘n siekte nie. Dit is die liggaam se manier om teen bakterieë en virusse te veg en hulle dood te maak. As ons dus medisyne neem om koors af te bring ry ons hierdie baie belangrike fisiologiese manier wat die liggaam se immuunsisteem gebruik, in die wiele. Die sogenaamde koorswerende medisynes vererger die graad van infeksies en verleng die herstelproses.
Heelwat navorsing is oor die jare oor die rol en betekenis van koors gedoen, hoofsaaklik op proefdiere, waarin onomwonde bewys is dat proefdiere (en daar is ‘n hele aantal verskillende spesies gebruik, selfs akkedisse en visse) wat met koorswerende middels behandel is, langer siek bly en ‘n aansienlik hoër sterfesyfer het.
Ons weet ook dat dokters in die dae voor antibiotika die liggaam verwarm het deur die pasiënt in baie warm water te laat lê (die behandeling van sifilis) en selfs vir pasiënte malariaparasiete in gespuit het om hoë koors te veroorsaak, wat dan die bakterieë doodgemaak het (gebruik vir sifilis en vir die baie onaangename geslagsiekte gonorree). Die malaria is dan later genees met kinien. (Vir hierdie navorsing het Dr Wagner von Juareg in 1927 ‘n Nobelprys gewen.)
Hierdie navorsing het bewys dat koors gebruik kan word om infeksies te genees. Sou dit dan beteken dat om koors af te bring infeksies sal vererger? ‘n Hele aantal eksperimente is uitgevoer wat gewys dat die gebruik van koorswerende medisynes werklik die duur en graad van die infeksie vererger in pasiënte (kinders sowel as volwassenes) met Salmonella-infeksie van die dermkanaal (infektiewe diaree), pneumonie, sepsis (bloedvergiftiging), influenza, verkouevirusse soos die rhinovirus en in die simptome van waterpokkies.
Wanneer die immuunsisteem gewaar dat die liggaam deur ‘n infektiewe organisme aangeval word, kom ‘n aantal meganismes in werking om die liggaam se temperatuur te verhoog, d.w.s ons kry koors. Om koors teweeg te bring, stel ons immuunsisteem verskeie chemiese stowwe af (soos interleukien 1, interleukien 2, interleukien 6 en 8, tumor nekrose faktor en nog meer). Hierdie stowwe word met die bloed na die hipotalamus in die brein vervoer, wat dit meganismes in werking stel om die liggaam se temperatuur te verhoog. Saam daarmee raak ons bewerig, trek warmer klere aan, kruip onder die komberse in, trek die warmwatersak nader, en die bloedsirkulasie verminder in die ledemate en vermeerder na die lyf self.
Waarom is koors dan so waardevol? Daar is bevind dat die witbloedselle (neutrofiele), B-selle en T-selle beter funksioneer wanneer ‘n pasiënt koors het. Elkeen van hierdie komponente van die immuunsisteem is belangrik vir die genesing van infeksies. Neutrofiele maak bakterieë dood, B-selle maak teenliggame wat virusse en bakterieë neutraliseer, en T-selle vernietig virus-geïnfekteerde selle. (Virusse dring die kern van liggaamselle binne en verander die funksies van die kern tot hulle eie voordeel)
Hoekom is ons dan so haastig om koors af te bring? Mense dink dat die koors die siekte is, en as ons die koors afbring, behandel ons die siekte – terwyl die teenoorgestelde eintlik waar is. Nog ‘n rede is die vrees dat hoë koors breinskade kan veroorsaak – wat nog nêrens bevind is nie (sommige siektes self kan wel skade veroorsaak, soos bv bakteriële meningitis). Koorswerende middels word ook gebruik uit vrees dat die koorskonvulsies (die sg koorsstuipe) kan veroorsaak, maar dis nog nie bewys dat verlaging van die koors konvulsies sal verhoed nie. Hierdie sg koorsstuipe kom slegs voor by kleuters onder 5 jaar, nooit by volwassenes nie, en is nog nooit bewys om enige vorm van blywende skade te veroorsaak nie.
Dit is wel waar dat ‘n mens beter VOEL as die koors (en ongemak of pyn) minder is. Nou kan ons opstaan en gaan werk met ons siekte en almal om ons gaan aansteek. Sou dit egter nie beter wees as diegene wat siek is warm in die bed bly, hulself isoleer van almal wat gesond is en hul liggame kans gee om te genees nie?
Die advertensies van die farmaseutiese firmas wat koorswerende medisynes maak, speel ‘n groot rol in mense se persepsie van siektes en hulle benadering tot koors. Vandat die eerste koorswerende middel (aspiriene) in 1899 vervaardig en wyd geadverteer is, het dit mense se benadering tot koors heeltemal verander en ‘n fortuin vir die maatskappy se bankrekening verdien.