Die eerste twee artikels in hierdie reeks, geskryf deur Carin Smit*, kan hier gelees word:
Chroniese pyn: die rol van chroniese inflammasie
- Chroniese inflammasie lei nie net tot baie ernstige siektetoestande nie, maar dit lyk ook of dit ‘n baie belangrike rol speel in verskeie chroniese pyntoestande
- Om chroniese pyn suksesvol te hanteer moet ons ook chroniese inflammasie verminder. Ons kan dit doen deur onder andere leefstyl-aanpassings te maak en fisies aktief te wees
In die eerste artikel oor pyn het ons gesien hoe die liggaam pyn ervaar en in die tweede artikel het ons akute pyn bespreek. In hierdie artikel gaan ons fokus op ‘n aspek van die baie meer komplekse en moeilike onderwerp van chroniese pyn.
Hoewel chroniese pyn ‘n komplekse en dikwels ‘n moeilike onderwerp is, is dit onteenseglik ‘n wêreldwye probleem. In ‘n ekstensiewe wêreldwye verslag deur die World Health Organisation, die Global Burden of Disease studie in 2010, wat onder andere deur Bill Gates befonds is, is na data van 187 lande gekyk en is daar bevind dat laerugpyn die nommer een oorsaak van fisieke beperking (disability) was, met nekpyn, migraines en artritis wat ook die top 10 gehaal het. Laerugpyn is die tweede mees algemene rede vir besoeke aan ‘n algemene praktisyn. Voeg hierby dat bevind is dat soveel as 1 uit 5 persone in Australië aan chroniese pyn ly (1) (wat ‘n goeie aanduiding is van die omvang van hierdie probleem wêreldwyd), en dan besef ons dat dit ‘n ongelooflike belangrike onderwerp is om aan te pak, nie net vir regerings en besluitnemers nie, maar nog meer so vir die miljoene mense wat hieronder ly.
Die bespreking wat volg gaan meerendeels op muskoluskeletale pyn (die pyn wat kom van spiere, gewrigte, ligamente, ens.) fokus en as verwys word na chroniese pyn in hierdie artikel, verwys dit dus grootliks na chroniese muskuloskeletale pyn.
So, wat is chroniese pyn? Die hoofverskil wat chroniese pyn van akute pyn onderskei is dat akute pyn verbygaan, in die tyd wat dit neem vir die weefsel om te genees, maar met chroniese pyn het ons met ‘n langer termyn pyn te doen. Pyn vir langer as drie of ses maande word dikwels as chronies geklassifiseer, maar chroniese pyn kan jare of dekades aanhou. Die uitstaande kenmerk is die aanhoudende aard daarvan. Die aard van chroniese pyn kan konstant wees of onderbroke en dit kan wissel in intensitieit van slegs ongemaklik tot onuithoudbaar seer. Somtyds ontstaan chroniese pyn sonder enige vooraf insident of enige duidelike mediese verklaring, maar dikwels is daar ‘n inisiële besering of onderliggende mediese toestand.
Sommige algemene chroniese pyntoestande sluit in
- rugpyne,
- hoofpyne,
- migraines,
- fibromialgie (‘n toestand wat gekenmerk word deur wydverspreide spierpyne),
- chroniese inflammatoriese toestande soos artritis,
- chronies pyn wat ontwikkel ná akute beserings as die genesingsproses nie reg verloop nie
- meganiese nek- of rugpyn (dit dui daarop dat daar probleme met die bewegende dele van die nek of rug is) – dit is ‘n baie algemene toestand, wat self-beperkend is en gewoonlik opklaar in omtrent 6 weke, maar ongeveer 50% van mense wat een insident van nek- of rugpyn gehad het, sukkel daarná met herhaalde insidente van sodanige pyn (2)
Om te verklaar waar die pyn vandaan kom in chroniese muskuloskeletale pyntoestande is ‘n baie moeilike en komplekse onderwerp, wat die mediese wetenskap nog nie ten volle verstaan nie, maar ons het in die eerste artikel gesien dat pyn deesdae as ‘n biopsigososiale probleem beskou word. Dit dui daarop dat pyn ‘n biologiese komponent het, dat die brein en denke ‘n komponent is en dat sosiale konteks ook ‘n rol daarby speel. In chroniese pyntoestande kan die prentjie tussen hierdie drie komponente al hoe meer verweefd raak.
In die res van hierdie artikel gaan ons stilstaan by die rol wat chroniese inflammasie in chroniese pyn speel. Om te verstaan wat met “chroniese inflammasie” bedoel word, gaan ons eers kyk wat die verskil is tussen akute inflammasie en chroniese inflammasie. Akute inflammasie, soos ons in die artikel oor akute beserings gesien het, is ‘n normale en lewensbelangrike fisiologiese proses. Dit is deel van die liggaam se immuunrespons en, soos ons al gesien het, die enigste manier hoe die liggaam beserings en skade herstel. Te veel van ‘n goeie ding is egter nie altyd goed nie, en beslis nie met inflammasie nie! Chroniese inflammasie is die term wat ons gebruik wanneer inflammasie aanhoudend voorkom en buite beheer raak. Met chroniese inflammasie verander die hooftipe selle in die inflammatoriese proses en kry ons ook dat inflammasie, weefselbeskadiging en weefselgenesing saam voorkom. Chroniese inflammasie is dus ‘n heeltemal ander toestand as akute inflammasie. Aanhoudende, onbeheerde inflammasie lei tot beskadiging van liggaamselle oor tyd en kan ook oorsprong gee tot ‘n verskeidenheid siektetoestande soos sekere tipes kanker, hartsiektes en Alzeimers se siekte om maar net ‘n paar te noem. Selfs die negatiewe effekte van veroudering word deesdae aan chroniese inflammasie gekoppel en word “inflammaging” genoem (3).In besprekings en artikels oor chroniese pyn duik chroniese inflammasie ook telkens op. Artritis word byvoorbeeld in twee hoofgroepe verdeel, rumatoïede artritis (‘n chroniese siektetoestand wat tot deformiteite van gewrigte en pyn lei) en osteoartritis (verwering van gewrigte, wat tot styfheid en pyn lei). Die rol van inflammasie in rumatoïde artritis is al baie lank bekend, maar ook in osteoartritis, wat ons lank as ‘n nie-inflammatoriese toestand gesien het, blyk dit dat inflammasie ‘n belangrike rol speel (4). Fribromialgie is ‘n komplekse toestand wat nog nie heeltemal verstaan word nie. Hoewel dit lank gesien was as ‘n nie-inflammatoriese toestand is daar studies wat onlangs verskyn het wat dui daarop dat inflammasie ook hier ‘n rol te speel (5).
Selfs migraines, wat tradisioneel nie as ‘n inflammatoriese toestand gesien is nie, en eerder as ‘n vaskulêre – of ander tipe probleem, word in sommige nuwe wetenskaplike studies ook as ‘n inflammatoriese probleem beskryf (8).
Dit is raadsaam om op hierdie punt weer te noem, soos in die eerste artikel, dat die mediese wetenskap nog definitief nie alles oor pyn weet nie, en nog meer so met die baie komplekse probleem van chroniese pyn. Dit blyk wel uit moderne navorsing dat ‘n stukkie van die legkaart van pyn chroniese inflammasie is. Die belangrikheid en rol van hierdie stukkie van ons legkaart sal uiteraard nie vir almal ewe belangrik of relevant wees nie, maar is vir almal met chroniese pyn iets om in gedagte te hou.
So, waar kom hierdie chroniese inflammasie in die eerste plek vandaan? Soos ons in die vorige artikel oor akute inflammasie gesien het ondervind alle normale mense van tyd tot tyd inflammasie, met blootstelling aan patogene (virusse of bakterieë), as selle beskadig word (soos met beserings) of met blootstelling aan irritante (soos byvoorbeeld sekere chemiese middels). Die probleem is as die inflammasie nie opgehef word nie, of die immuunrespons nie reg deur die liggaam gereguleer word nie, en inflammasie dus aanhou en chronies raak. Chroniese inflammasie is ‘n komplekse onderwerp en die mediese wetenskap is baie vêr daarvan om dit volkome te verstaan, maar daar is al baie faktore wat welbekend is om dit te vererger. Die geweldige belangrike rol wat ‘n gesonde leefstyl speel om ons inflammasievlakke normaal te hou is baie bekend, en aan die ander kant van die muntstuk is daar ook ongesonde leefstylpatrone wat daartoe lei dat inflammasie nie reg gereguleer word nie, en so chroniese inflammasie aanhelp. ‘n Paar groot en verkeerde leefstylkeuses wat chroniese inflammasie aanhelp (in geen spesifieke volgorde nie) is:
- ‘n onaktiewe leefstyl (9);
- ‘n dieet wat suiker, verfynde koolhidrate en diepgebraaide kos as deel daarvan bevat – ook genoem die Standard American Diet (met die gepasde afkorting “SAD”) (10);
- om oorgewig te wees (11);
- sigaretrook (12);
- te min slaap (13);
- en stres (14)
Dit blyk dus al meer uit die wetenskap dat dit van kardinale belang is om chroniese inflammasie sovêr moontlik te verminder, nie net vir algemene gesondheid nie, maar ook vir die hantering van chroniese pyn. Hoewel daar deesdae vele ongesubstansieerde (en dikwels duur) maniere geadverteer word om chroniese inflammasie te verminder, is die antwoord om dit reg te kry goedkoop, en binne ons elkeen se bereik: pas jou leefstyl aan, deur bogenoemde faktore aan te spreek.
Met die hantering van chroniese pyn kan die positiewe invloed van fisieke aktiwiteit nie genoeg beklemtoon word nie. In ‘n oulike studie (wel, seker nie vir die arme muise wat betrokke was nie!), het wetenskaplikes ‘n spesiale tipe labotoriummuis met diskusdegenerasie gebruik wat positief getoets het vir rupgyn en pyn wat in hul bene af verwys. Hierdie muise het ook meer senuweegroei in hul diskusse getoon, wat een van die fisiese veranderinge is wat ook kan voorkom by mense met langstaande diskusdegenerasie en rugpyn. Hulle het die muise in twee groepe verdeel, een groep het vrye toegang gehad tot ‘n vry roterende wieletjie in hul hokkies om in te hardloop, die ander groep se wieletjies is met ‘n skroef vasgemaak sodat dit nie kon draai nie. Na twee maande het die groep wat in hul wieletjies gehardloop het aansienlik minder pyn ervaar en na ‘n langer tydsverloop het selfs hul diskusse fisiese positiewe veranderinge begin toon, met die senuweegroei daarin wat vertraag het, opgehou het, of selfs begin verminder het. Hierdie studie wys vir ons watter positiewe effekte fisieke aktiwiteit op chroniese rugpyn kan hê (15). ’n Mens moet hier bysê dat alle muise vreeslik graag in wieletjies hardloop, en dit vanself baie doen – mens moet fisies hul wieletjies aanpas dat dit nie kan draai nie en hulle in klein hokkies sit om te verhoed dat hulle baie aktief is. As mense maar net so graag wou aktief wees soos muise! Uiteraard moet veranderinge aan jou aktiwiteitsvlakke, veral vir mense met gesondheidsprobleme, versigtig en oordeelkundig en indien nodig met die hulp van ‘n professionele persoon aangepak word, maar die boodskap bly: begin beweeg!
Fisieke oefening is deur verskeie wetenskaplike studies bewys om ‘n goedkoop, veilige en effektiewe manier te wees om chroniese pyn te help hanteer. Dit kan die hoeveelheid medikasie wat nodig is om pyn te beheer verminder, en daarmee saam ook die risikos vir die medikasie se negatiewe effekte (16).
Indien chroniese pyn net een area (soos rugpyn of nekpyn) of spesifieke gewrigte aantas (soos met artritis) is daar sin in gefokusde rehabilitasie vir daardie area. Indien mens ook byvoorbeeld lank in een posisie verkeer (sit vir die meeste moderne mense) en meer nog as dit in ‘n onnatuurlike of swak postuur is, kan dit lei tot pyn (17). Die langdurige posture kan lei tot geleidelike veranderinge in die weefsel wat ‘n persoon kan predisponeer tot beserings, of dit kan mettertyd in pyn en disfunksie ontaard. Rehabilitasie (om weer ‘n gesonde balans in die liggaam te verkry met die hulp van oefeninge en terapie) kan definitief help om die pyn vinniger te laat verminder – en ook om soortgelyke probleme in die toekoms te verminder.
Met alle pynvolle toestande is dit belangrik vir pasiënte om hul liggame te leer ken, en te weet hoe om binne die liggaam se vermoëns te bly, terwyl die liggaam aan die ander kant sterker en meer soepel word. Dit beteken dat ‘n oefeningsvoorskrif nie vir alle mense presies dieselfde sal lyk nie, en ook vir dieselfde mens kan verskil van dag tot dag, afhangend van jou toestand. Gefokusde rehabilitasie is egter soos ons gesien het net een deel van die hantering van hierdie tipe pyn – om die pyn te beheer moet die res van jou ook gesond wees!
In die laaste artikel oor pyn gaan ons kyk wat met ‘n ongelukkige groep mense gebeur wat nie net chroniese pyn ervaar nie, maar in wie hierdie pyn ‘n afwaartse spiraal vorm waarin pyn nie net hulle fisiese funksionering negatief beïnvloed nie, maar mettertyd soos ‘n onkruid wat onbeheers groei elke aspek van hul lewens binnedring en oorheers.
* Carin Smit is ‘n geregistreerde fisioterapeut en ook ‘n regskenner. Sy werk tans in Mpumalanga as beide fisioterapeut en prokureur. Sy is Dr. Francois Retief se jongste dogter.
(1) Blyth, F. M., March, L. M., Brnabic, A. J., Jorm, L. R., Williamson, M., & Cousins, M. J. (2001). Chronic pain in Australia: a prevalence study. Pain, 89(2-3), 127-134.
(2) McKenzie, R. (2011). Treat your own back. Spinal publications New Zealand Ltd. p 5
(3) Franceschi, C., & Campisi, J. (2014). Chronic inflammation (inflammaging) and its potential contribution to age-associated diseases. Journals of Gerontology Series A: Biomedical Sciences and Medical Sciences, 69(Suppl_1), S4-S9. Human aging is characterized by a chronic, low-grade inflammation, and this phenomenon has been termed as “inflammaging.” Inflammaging is a highly significant risk factor for both morbidity and mortality in the elderly people, as most if not all age-related diseases share an inflammatory pathogenesis.
(4) Berenbaum, F. (2013). Osteoarthritis as an inflammatory disease (osteoarthritis is not osteoarthrosis!). Osteoarthritis and Cartilage, 21(1), 16-21.
(5) Bäckryd, E., Tanum, L., Lind, A. L., Larsson, A., & Gordh, T. (2017). Evidence of both systemic inflammation and neuroinflammation in fibromyalgia patients, as assessed by a multiplex protein panel applied to the cerebrospinal fluid and to plasma. Journal of pain research, 10, 515.
en
Cordero, M. D., Díaz-Parrado, E., Carrión, A. M., Alfonsi, S., Sánchez-Alcazar, J. A., Bullón, P., Battino, & de Miguel, M. (2013). Is inflammation a mitochondrial dysfunction-dependent event in fibromyalgia? Antioxid Redox Signal, 18(7). 800-807.
en
Bote, M. E., García, J. J., Hinchado, M. D., & Ortega, E. (2012). Inflammatory/stress feedback dysregulation in women with fibromyalgia. Neuroimmunomodulation, 19(6), 343-351.
(6) Schistad, E. I., Espeland, A., Pedersen, L. M., Sandvik, L., Gjerstad, J., & Røe, C. (2014). Association between baseline IL-6 and 1-year recovery in lumbar radicular pain. European Journal of Pain, 18(10), 1394-1401
(7) Weber, K. T., Alipui, D. O., Sison, C. P., Bloom, O., Quraishi, S., Overby, M. C., Levine, M., & Chahine, N. O. (2016). Serum levels of the proinflammatory cytokine interleukin-6 vary based on diagnoses in individuals with lumbar intervertebral disc diseases. Arthritis research & therapy, 18(1), 3.
(8) Waeber, C., & Moskowitz, M. A. (2005). Migraine as an inflammatory disorder. Neurology, 64(10 suppl 2), S9-S15.
en
Lippi, G., Mattiuzzi, C., & Cervellin, G. (2014). C-reactive protein and migraine. Facts or speculations?. Clinical Chemistry and Laboratory Medicine (CCLM), 52(9), 1265-1272.
(9) Lees, S. J., & Booth, F. W. (2004). Sedentary death syndrome. Canadian Journal of Applied Physiology, 29(4), 447-460.
en
Lees, S. J., & Booth, F. W. (2005). Physical inactivity is a disease. In Nutrition and Fitness: Mental Health, Aging, and the Implementation of a Healthy Diet and Physical Activity Lifestyle (Vol. 95, pp. 73-79). Karger Publishers.
(10) Totsch, S. K., Meir, R. Y., Quinn, T. L., Lopez, S. A., Gower, B. A., & Sorge, R. E. (2018). Effects of a Standard American Diet and an anti-inflammatory diet in male and female mice. European Journal of Pain, 22(7), 1203-1213.
(11) Welsh, P., Polisecki, E., Robertson, M., Jahn, S., Buckley, B. M., de Craen, A. J., et al. (2010). Unraveling the directional link between adiposity and inflammation: a bidirectional Mendelian randomization approach. The Journal of Clinical Endocrinology & Metabolism, 95(1), 93-99.
(12) Lee, J., Taneja, V., & Vassallo, R. (2012). Cigarette smoking and inflammation: cellular and molecular mechanisms. Journal of dental research, 91(2), 142-149.
(13) Mullington, J. M., Simpson, N. S., Meier-Ewert, H. K., & Haack, M. (2010). Sleep loss and inflammation. Best practice & research Clinical endocrinology & metabolism, 24(5), 775-784.
(14) Cohen, S., Janicki-Deverts, D., Doyle, W. J., Miller, G. E., Frank, E., Rabin, B. S., & Turner, R. B. (2012). Chronic stress, glucocorticoid receptor resistance, inflammation, and disease risk. Proceedings of the National Academy of Sciences, 109(16), 5995-5999.
(15) Danco, A., Millecamps, M., Tajerian, M., & Stone, L. S. (2012). Effects of Running Exercise on Disk Degeneration and Low Back Pain in Mice. Global Spine Journal, 2(1_suppl), s-0032.
(16) Senba, E., & Kami, K. (2017). A new aspect of chronic pain as a lifestyle-related disease. Neurobiology of Pain, 1, 6-15.
(17) Sorensen, C. J., Norton, B. J., Callaghan, J. P., Hwang, C. T., & Van Dillen, L. R. (2015). Is lumbar lordosis related to low back pain development during prolonged standing? Manual therapy, 20(4), 553-557 vir pyn wat ontwikkel in ‘n swak staanposisie.