Volg weer die basiese riglyne soos uiteengesit vir Dag 1.
1. Wakkerword en Refleksie
Mantra vir dag 7: “Moenie bang wees nie.” – Hierdie frase kom 366 keer voor in die Bybel, een vir elke dag van die jaar en een vir die skrikkeljaar
As jy die week se program volledig gevolg het, het jy reeds die volgende reggekry:
i – Jy het nuut begin dink en nuwe doelwitte gestel.
“Brain derived neurotrophic factor”, ‘n senuwee-groeifaktor wat deur die brein vervaardig word, is afgeskei.
Dit stimuleer groei in die brein, die hele senuweestelsel en die hart. Dit verbeter die werking van al hierdie organe!
Hierdie faktor is in Skandinawië geïdentifiseer in navorsing oor die voorkoming van Alzheimer se siekte. Dit kan nie in fabrieke vervaardig word nie en kan dus nie in pille of inspuitings ingeneem word nie. Net die liggaam kan die spesifieke groeifaktor maak. In al die navorsing wat wêreldwyd oor Alzheimers gedoen is, is daar nog GEEN pil of medisyne gevind wat die toestand kan voorkom nie. Al die navorsing dui daarop dat ‘n eenvoudige lewenstylprogram soos hierdie al manier is om geestesgesond te bly.
Die proses van apoptose en outofagie is aan die gang gesit of opgeskerp, d.w.s jou liggaam hernuwe sy eie selle nou teen ‘n vinniger tempo en gebruik stamselle om weefsels te vernuwe. Die liggaam se herwinningsnetwerk, “recycling”, werk beter!
ii – Jou intellektuele vermoëns en geheue het verbeter.
Daar is verskillende goeie maniere om die brein se werking te verbeter, soos jy nou begin doen het: eet die regte kosse, bly fisiek en intellektueel aktief, bly sosiaal geïntegreerd en kry gereeld sonlig op jou vel.
Sonlig stimuleer die vervaardiging van Vitamine D, wat nie net die skelet in stand hou nie, maar ook depressie voorkom. Baie mense kom nooit meer in die son nie, of smeer hulle so vol sonblok dat die son se strale nie tot die vel kan deurdring nie. Dit is wel so dat die son in ons binneland baie skerp is en gou sonbrand veroorsaak; wees versigtig. Ons toets deesdae roetineweg mense se Vitamine D-bloedvlakke by my praktyk en dis ontstellend hoe laag die meeste mense s’n is. Dink net hoe sonlig ons opgewek laat voel. In lande met lang koue winters en min sonlig is depressie baie algemeen as gevolg hiervan. Onthou ook dat Vitamine D ‘n vet-oplosbare vitamine is. Dus, as jy ‘n lae vet-eetpatroon het, kry jy reeds min in. (Vitamine D kom voor in dierlike, suiwel- sowel as plantvette en olies). Depressie is ‘n geweldig nadelige situasie wat breinweefsel, en volgens nuwe navorsing ook die hart, ernstig beskadig.
iii – Kreatiewe denke het ingeskop
Interessante lyste van doendinge stimuleer altyd kreatiwiteit! Jy het hopelik nuwe belangstellings gevind of oues weer herontdek.
iv – Spierkrag is beter
Jy kan waarskynlik makliker trappe klim, uit ’n stoel of van die grond af opstaan; jy word minder uitasem met gewone aktiwiteite aangesien jou hart ook sterker is – onthou dat jou hart ook ‘n spier is. Hoe langer jy kan voortgaan met hierdie weeklikse oefenprogram, hoe duideliker sal jy die verskil kan agterkom!
v – Balans, reaksietye en soepelheid het vebeter
Jou daaglikse oefenprogram het reeds hierdie vermoëns begin verbeter.
vi – Bloedsirkulasie en bloeddruk het verbeter
Oefening stimuleer die afskeiding van ‘n verskeidenheid van hormone wat almal daarop ingestel is om die liggaam beter te laat funksioneer.
vii – Jy het meer energie
As jy soetgoed uitgeskakel het, asook alle vrugtesappe/koeldrank, benut jy insulien beter en voel jy meer energiek. (Diabete wat hulle dieet sodoende aanpas het tipies minder medikasie nodig.)
viii – Jy slaap beter
Jy slaap waarskynlik beter en rus ook beter uit tydens die nag.
ix – Jy is rustiger
Jy voel hopelik rustiger en meer in voeling met jou omgewing en Skepper.
2. Stiltetyd/Meditasie
Bybelwaarheid: Die beloftes van gesondheid in die Bybel: Lev 26, Deut 28, Eks 15:26: Ek is die Here wat jou gesond hou.
Hoe ‘n mens voel, is nie noodwendig gekoppel aan fisieke siektes nie. Selfs mense wat baie “siek” is, beskou hulleself nie as siek nie en voel elke dag goed; aan die ander kant is daar baie mense wat geen fisieke siektes het nie, maar wat altyd siek en ellendig voel. ‘n Diagnose maak ‘n mens nie siek nie.
‘n Mediese diagnose is dikwels net die Latynse of soms Griekse woorde vir die simptome, bv urtikaria is net ‘n woord vir outydse “boere”- jeukbulte.
3. Fisieke aktiwiteit: Rus
Vandag is dit tyd om te rus! Rus gee aan die liggaam kans om te herstel en is ‘n belangrike komponent van enige oefenprogram.
4. Selfondersoek/evaluasie
Vra jouself die volgende af:
- Dink ek anders?
- Wat doen ek deesdae anders?
- Loop ek anders, is ek meer beweeglik, meer soepel?
- Geniet ek my lewe meer?
- Het ek meer kontak met ander mense opgebou?
- Het ek ‘n nuwe belangstelling gevind?
- Hoe het my spierkrag en oefenvermoë verbeter: doen weer die 6 minute staptoets en die opstaan en stap-toets. Hoe vergelyk dit met dag 1?
Begin nou gerus weer by Dag 1! Die doel van die program is om jou lewensstyl te verander en oor die langtermyn gelukkiger en gesonder te lewe. Probeer dus om soveel as moontlik van die beginsels van hierdie program deel van jou lewe te maak.