Inligting oor ‘n Kolonoskopie

By | 15 Oktober 2017

‘n Kolonoskopie is ‘n prosedure waar die hele kolon van begin to end, vanaf die rektum tot in die sekum, deurgekyk word. ‘n Gastroënteroloog sal ook die terminale ileum intubeer.  Dit is ‘n uitstekende hulpmiddel om enige patologie in die kolon te diagnoseer, en is ‘n maklike en klein ingreep wat vinnig gedoen kan word met min pyn of ongemak. Dit gee andersyds gemoedsrus indien daar kommer oor moontlike onderliggende siektes bestaan.

Gesunder Darm. 3d rendering.

Gesonde dermwand

Dit kan eweneens in die spreekkamer gedoen word, maar in die geval van ouer pasiënte, of as u dit self so verkies, of by mense met ander bykomende siektes soos hartsiektes, erge asma ensovoorts word dit verkieslik in die hospitaal gedoen as ‘n halfdagtoelating.

Binne-aarse sedasie word gegee en indien nodig sal ‘n indruppeling aan die gang gehou en suurstof toegedien word. Daar is gewoonlik ‘n ander dokter of ‘n narkotiseur teenwoordig wat die sedasie of narkose sal toedien.

‘n Kolonoskoop is soortgelyk aan ‘n gastroskoop, maar is heelwat langer. Die groot verskil teenoor ‘n gastroskopie is dat die hele kolon leeg moet wees om ‘n effektiewe ondersoek te doen, en daarvoor is deeglike voorbereiding nodig. Die dokter sal vir u presiese aanwysings gee wat om te doen.  Dit behels in ons geval die volgende (die voorbereiding mag verskil, volgens die spesifieke dokter se voorkeur) :

  • Pasiënte moet vir 24 uur voor die ondersoek net helder vloeistowwe drink (geen vaste kos van enige aard eet nie):
    1. Water (drink baie)
    2. Swart tee of koffie, helder vrugtesap, Bovrilwater, helder deurgesygde sop, jellie
    3. Geen melk
    4. Geen pitjies, sade, tamaties of volgraanbrood vir 48 uur voor die tyd nie
  • ‘n Voorskrif word gegee vir:
    1. Senokot tablette, 6
    2. Picoprep, 3 sakkies
    3. Klean prep 1 liter
  • 24 uur voor die tyd: drink die 6 Senokot tablette gelyk.
  • Picoprep vir kolonlediging: meng met water en neem soos verduidelik op die vorm.  Maak seker dat u naby ‘n toilet is, en dat die derm heeltemal leeg deurspoel. U moet uiteindelik net helder vloeistof passeer met geen stukkies daarin nie.
  • Klean prep word met ‘n liter water aangemaak en die tyd wanneer dit gedrink word, sal afhang van of u die prosedure in die oggend of in die middag kry.

Woman with a mobile computer in the toilet

Dit is baie belangrik om die instruksies noukeurig te volg en nie kortpaaie te probeer nie.  Indien daar nog derminhoud teenwoordig is, kan die dokter nie die kolon behoorlik sien en deurkyk nie, en dit is onmoontlik om ‘n definitiewe diagnose te maak of uitspraak te gee.

Die los stoelgang veroorsaak dikwels irritasie, brand of pyn rondom die anus.  Dit kan verlig word deur ‘n lagie Vaseline of sagte olie om die anus te smeer voor die voorbereiding begin; vee af met watte wat in warm water geweek is eerder as met toiletpapier, en was versigtig met ‘n sagte lappie na elke stoelgang.  Sê vir u dokter as u las het van aambeie, dat  hy vir u ‘n setpil voorskryf om daarna in te sit.

Die prosedure duur gewoonlik 20 – 40 minute; soms langer as bv poliepe verwyder moet word.  ‘n Kolonoskopie in ervare hande is baie veilig en komplikasies kom selde voor. Deur die kolonoskoop kan weefselmonstertjies met ‘n biopsietang geneem word, of indien daar poliepe tenwoordig is, kan hulle meestal deur die skoop verwyder word.  Soms is ‘n poliep te groot, of daar is ‘n gevorderde kankergewas teenwoordig, en dan sal ‘n operasie moontlik daarna gedoen word om dit te verwyder.

Die kolonwand is baie dun, en  ‘n moontlike komplikasie kan wees dat die  wand ruptuur.  Die gevaar hiervoor is groter wanneer erge inflammasie teenwoordig is (soos by erge ulseratiewe kolitis of Crohn se siekte);  wanneer daar groot divertikels is en die skoop in een van hulle beland; of waar daar groot gewasse met bloeding en degenerasie van die kolonwand is.  Indien  perforasie gebeur, word ‘n operasie gedoen om  die derm weer te heg.

Darmkrebs

Kolonkanker, soos gesien tydens ‘n kolonoskopie

Indien ‘n pasiënt op bloedverdunners soos Warfarin is, en tydens die ondersoek ‘n poliep gevind word, mag dit nodig wees om eers die Warfarin vir ‘n week te staak en dan die kolonoskopie te herhaal om die poliep te verwyder. ‘n Mens moet dan in gedagte hou waarvoor die bloedverdunners in die eerste plek voorgeskryf is, en soms moet die risiko om dit tydelik te staak, opgeweeg word teen die noodsaaklikheid van die werk aan die kolon. Disprin en aspiriene dra ook ‘n groter gevaar vir bloeding.

‘Tydens die kolonoskopie word lug deur die skoop in die kolon ingeblaas om beter te kan sien, en dit mag na die tyd ongemak of pyn veroorsaak.  Rapporteer dit aan u dokter;  ook as daar bloeding uit die dermkanaal is.

Eet ‘n bietjie natuurlike joghurt na die tyd om die mikrobioom te help herstel.

Sien ook die artikel Ondersoeke vir maag- en dermkanaalsiektes.

 

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui