Reeks oor pyn – Deel 2: Akute pyn

By | 30 September 2018

Die eerste artikel in hierdie reeks, geskryf deur Carin Smit*, kan hier gelees word:  Deel 1: Wat is pyn?

WhatsApp Image 2018-09-08 at 18.07.05 (1)Akute pyn

  • Die inflammatoriese respons ná ‘n akute beserings is die manier waarop die liggaam beserings genees en daarom moet ons dit nie probeer verminder of stop nie
  • Ys en rus, twee tradisionele behandelings van akute beserings, asook die gebruik van anti-inflammatoriese pynmedikasie ná akute beserings moet as gevolg hiervan heroorweeg wordSoos ons in die eerste artikel oor pyn gesien het, is pyn ‘n baie komplekse ervaring.  In hierdie artikel gaan ons stilstaan by akute pyn, die pyn wat van akute beserings kom, en die hantering daarvan

Akute beserings

So wat is ‘n akute besering?  Dit is ‘n besering wat deur ‘n traumatiese of ‘n spesifieke insident veroorsaak word en lei tot die beskadiging van weefsel.   In die eerste artikel oor pyn het ons gesien dat die nociseptore (‘n groep gespesialiseerde senuwees) sensitief is vir verskille in druk, chemiese balans en temperatuur in die onmiddelike omgewing van selle.  As daar ‘n verskil in die selle se omgewing opgemerk word wat die potensiaal vir skade het, gelei hierdie nociseptore ‘n gevaarboodskap na die rugmurg wat dan deur die brein geevalueer word en dan as pyn deur die individu ervaar word.

Met ‘n akute besering word die baie komplekse proses van inflammasie aan die gang gesit.  Inflammasie is deel van die liggaam se komplekse respons op skadelike stowwe (soos virusse of bakterieë), beskadigde selle (soos met ‘n geswikte enkel) of irritante (bv. chemiese stowwe) en is deel van die liggaam se beskermingsmeganisme.  Inflammasie verseker dat die oorsaak van die selbeskadiging verwyder word (as dit bv. as gevolg van ‘n infeksie was), dat die dooie weefsel verwyder word en dat gespesialiseerde selle na die beskadigde area gestuur word om die skade te herstel.   Sekere van die chemiese stowwe wat in die proses van inflammasie afgeskei word stimuleer ook, saam met die skade wat die inisiële besering veroorsaak het, die nociseptore. Die pyn wat ons ervaar met akute beserings, wat vererger word deur akute inflammasie, is in hierdie geval die liggaam se manier om ons aandag te vestig op hierdie akute besering, om verdere skade te voorkom en genesing te bevorder deurdat dit ons gedrag verander om op te hou met ‘n skadelike aksie, en dan die beseerde deel minder te gebruik totdat dit weer gesond is.

bike-2200155_640Almal van ons het al ‘n akute beserings gehad.  Kneusings, snye, wonde, ‘n ligament wat rek of skeur en akute spierspasmas is algemene voorbeelde van akute beserings wat aan ons almal bekend is. Die res van die artikel gaan oor die hantering van sulke tipe muskuloskeletale beserings (beserings aan spiere, ligamente, gewrigte, ens.), wat ook dikwels op die sportveld voorkom – hoewel baie tipiese sportbeserings ook deur mense opgedoen word wat nie sport beoefen nie.  Soos hierbo genoem, genees die liggaam hierdie tipes beserings deur van die proses van akute inflammasie gebruik te maak.

Die akute inflammatoriese respons

Soos ons hierbo gesien het genees die liggaam akute beserings deur middel van die akute inflammatoriese respons.  As die onderligggende besering gesond is, word die pyn van akute inflammasie gewoonlik heeltemal opgehef, indien die genesingsproses sonder probleme verloop.

Die erkende eienskappe van akute inflammasie is:

  1. Rooiheid ( vanweë verhoogde bloedvloei na die area)
  2. Hitte (ook as gevolg van die verhoogde bloedvloei)
  3. Swelling (as gevolg van opbou van vog in die area)
  4. Pyn (as gevolg van die chemiese stowwe wat die liggaam afskei as deel van die proses)
  5. Verlies van funksie van die deel (as gevolg van al bogenoemde).

Hierdie is wel bekende simptome.  Die eerste vier eienskappe is reeds in die eerste eeu ná Christus deur die Romeinse geleerde, Celsus, beskryf en die vyfde element is al in die negentiende eeu deur die Duitse dokter Virchow bygevoeg.

Of al bogenoemde eienskappe aanwesig is en ook die mate waarin dit aanwesig is hang af van die graad van besering, en ook die spesifieke tipe weefsel wat beseer is.

  • Die akute fase is die fase waar akute inflammasie teenwoordig is, en word gekenmerk deur die eienskappe van inflammasie, soos hierbo genoem.  Hierdie fase neem gewoonlik ‘n paar dae om op te klaar.
  • Die herstelfase begin geleidelik oorneem soos die fase van akute inflammasie begin opklaar.  Tydens hierdie fase word littekenweefsel gevorm om die beseerde weefsel te vervang. Hierdie fase kan, afhangend van die grootte van die besering, ‘n paar dae, ‘n week of twee of andersins etlike weke duur.
  • Ná die herstelfase is die liggaam nog steeds nie klaar met die proses nie.  Tydens die hermoduleringsfase vind daar veranderinge in die littekenweefsel plaas om dit kleiner, sterker en meer buigbaar te maak sodat dit weer die normale stressors van die lewe kan hanteer.  Hierdie proses kan afhangend van die grootte van die besering nog ‘n paar weke tot etlike maande duur, en vir groot littekens selfs jare voordat die proses heeltemal voltooi is.

a man touching knee with red highlights concept of knee and joint pain

Die akute fase is die eerste fase, met die pyn wat van daar af geleidelik afneem, met minder pyn in die herstelfase en nog minder pyn of geen pyn in die hermoduleringsfase. Komplikasies in enige fase en ander gebeurtenisse byvoorbeeld chirurgie sal uiteraard hierdie genesingsproses verleng.  

Die RICE-regime

Die tradisionele benadering in die behandeling van akute inflammasie kan opgesom word in die akroniem RICE

R Rest (Rus)

I Ice (Ys)

C Compression (Kompressie)

E Elevation (Elevasie)

In die praktyk word pynstillers, dikwels anti-inflammatoriese pynstillers ook saam met hierdie benadering voorgeskryf vir die hantering van die pyn wat met akute inflammasie gepaard gaan.  

Veral ná frakture en ernstige ligamentbeserings en spierbeserings is dit belangrik om te verseker dat, na afloop van die genesingsproses, die deel wat beseer was volle omvang van beweging en spiersterkte terugkry en volledig gerehabiliteer is.  Indien hierdie fase afgeskeep word kan dit veroorsaak dat mens langer vat om volkome te herstel, dat die deel wat beseer was nooit weer heeltemal herstel tot op die vlak voor die besering nie en kan mens ook daardie deel in die toekoms makliker weer beseer (1).

Kritiek teen ys ná akute beserings

woman putting an ice pack on her shoulder pain

Die tradisionele RICE-regime het in die afgelope jare onder skoot begin kom, onder andere van die dokter wat die regime eerste uitgedink het, Dr. Gabe Mirken.  Meer as 40 jaar nadat hy hierdie regime in 1978 beskryf het in sy boek “The Sportsmedicine Book” en dit baie wyd aanvaar as die goue standaard van die behandeling van akute beserings, het hy in 2014 in ‘n artikel geskryf dat dit blyk dat die gebruik van ys in die behandeling van akute beserings blyk om genesing te vertraag in stede daarvan om genesing aan te help (2).  Daar is ook in die afgelope tyd meer en meer ander wetenskaplikes wat hierdie siening ondersteun (3).

En dit nadat ys nou al so lank deel van die standaardbehandeling vir akute beserings is?  Hoekom het hierdie siening dan nou so drasties verander?

Hoewel die siening dat ys genesing kan vertraag nog kontroversieel is, en ys nog baie wyd gebruik word (4) is dit miskien die moeite werd om te ondersoek waarom die mediese wêreld plek-plek krities teen hierdie bekende en tradisionele siening begin staan.

Aan die basis hiervan lê wat ons siening is van die akute inflammatoriese respons.  Baie mense sien die akute inflammatorise respons bloot as iets wat swelling en pyn veroorsaak.  Die pyn is ongemaklik en swelling maak bloot die beseerde deel nog stywer en meer ongemaklik. Dit maak dus vir hulle sin dat ons hierdie pynlike proses moet stop sodat mense beter kan voel en dit is ook wat die mediese wetenskap vir baie lank gepoog het – om die inflammatoriese respons te onderdruk in akute beserings, en ys is ‘n goeie en maklike manier om dit te doen.  Wat egter belangrik is om te besef is dat die inflammatoriese respons die liggaam se enigste manier is om weefsel te genees. Sonder hierdie respons is geen genesing moontlik nie. As mens hierdie waarheid besef maak dit meer sin om die liggaam deur die akute inflammatoriese respons te ondersteun en seker te maak dat hierdie respons gladweg en volledig verloop, eerder as om dit te probeer stop, deur iets soos ys te gebruik.  

Situasies waar ys nog moontlik gebruik kan word

Ys het wel ook ‘n pynstillende effek en kan moontlik nog daarvoor gebruik word, vir ‘n kort rukkie, dadelik ná ‘n besering (5).

‘n Baie skaars toestand wat soms voorkom en waar die RICE regime wel teoreties van waarde kan wees is in die behandeling van ‘n akute kompartement sindroom.  Spiere en organe is in die liggaam saam georganiseer in kompartemente, waarvan die wande deur sterk bindweefsel gevorm word. Soms kan die druk in so ‘n kompartement opbou, as gevolg van erge bloeding en swelling van spiere, gewoonlik ná ‘n ernstige besering of fraktuur, wat dan die bloedvloei na die strukture in die kompartement kan verminder.  

Akute kompartement sindroom is ‘n seldsame toestand wat gewoondelik ná ernstige beserings soos motorongelukke en ernstige frakture voorkom en moet chirurgies behandel word, aangesien dit tot permanente skade kan lei. Simptome hiervan is buite verhouding erge pyn vir die besering, pyn met strek van die ledemaat,  gevoel van styfheid en drukking in die ledemaat, verminderde omvang van beweging, naalde of spelde, of as die toestand al vêr gevorder het verminderde sensasie. Sulke pasiënte moet dadelik na ‘n hospitaal se noodgevalle afdeling geneem word vir deeglike evaluasie en handtering.  Soos genoem kan die RICE regime hier teoreties die skade beperk op pad hospitaal toe, maar die behandeling van hierdie toestand is chirurgies van aard. Hierdie mediese noodgeval val buite die strekking van hierdie artikel – wat oor die gewone akute beserings handel wat algemeen voorkom, maar word volledigheidshalwe genoem.

Ander komponente in die tradisionele behandeling van akute beserings.

Cyclist with fracture of heel

As ons die gebruik van ys ná beserings krities bekyk is dit miskien ook raadsaam om na die ander komponente van die tradisionele behandeling van akute beserings te kyk.  Kompressie en elevasie is nog nooit werklik in studies ondersoek nie, maar dit wil nie tans voorkom of dit enige negatiewe effekte op die genesingsproses het nie.

Die aspek van rus is wel ook al verder ondersoek.  Dr Mirken se kritiek op die RICE-regime sluit ook totale rus in.  Hy het dit mettertyd aangepas om relatiewe rus aan te dui en nie totale rus nie (2).  Dit beteken dat, hoewel die liggaamsdeel uiteraard beskerm moet word teen enige beweging wat dit verder kan beseer, die langdurige stilhou van die deel baie negatief kan wees.  Mens moet reeds vroeg in die genesingsproses, so vinnig as wat dit binne perke van pyn kan geskied, begin om die beseerde deel te beweeg, steeds binne perke van pyn, en indien nodig met die hulp van ‘n professionele persoon.  In die geval van ernstiger beserings en ná afloop van operasies word mobilisering en rehabilitasie ook reeds vroeg in die verloop van die genesingsproses onder die leiding van mediese personeel gedoen – met baie goeie uitkomste.  Versigtige vroeë beweging lei nie net tot minder pyn tydens die genesingsproses nie, maar ook tot baie beter uitkomste na afloop van die proses.

Die gebruik van anti-inflammatoriese middels en pynstillers

Dr Mirken sê verder dat enige iets anders wat inflammasie kan beperk, ook genesing kan vertraag (1).  Hy noem hieronder die gebruik van anti-inflammatoriese medikasie.  Dit beteken dus dat die gebruik van anti-inflammatoriese medikasie volgens Dr Mirken verder ook die genesing ná beserings kan vertraag. Hierdie middels word  nog baie wyd gebruik vir die behandeling van akute inflammasie, en daar is uiteraard nog baie medici wat dit voorskryf. Dit is egter moontlik raadsaam om, in die lig van die belangrike rol wat akute inflammasie in ons liggame speel, te oorweeg om die gebruik hiervan met jou dokter te bespreek.  Hoewel daar nog nie onteenseglik bewys is dat hierdie middels genesing vertraag nie, is daar aan die ander kant geen goeie kwaliteit studies wat aandui dat hierdie middels weefsel vinniger laat genees en persone dus vinniger laat rehabiliteer nie (5). Daar is verder ook studies wat aandui dat genesing in proefdiere wel vertraag was ná die gebruik van sulke middels (6).  

close-up-1853400_640Indien ook in ag geneem word hoeveel potensiële newe-effekte hierdie middels kan hê – probleme met die maag en dermkanaal is die mees algemeen (pyn, sooibrand, beskadiging van die slymvlies van die maag), maar dit kan ook lei tot verhoogde neiging tot  beroertes, hartaanvalle, hoofpyne, duiseligheid, allergiese reaksies, hoë bloeddruk en dit kan die lewer of niere permanent beskadig – is dit moontlik raadsaam om in samewerking met jou dokter oor die gebruik hiervan te besin en moontlik ook pynmedikasie sonder ‘n anti-inflammatoriese komponent te oorweeg (7).

Op die punt van pynstillers is dit miskien ook raadsaam om terug te staan en oor die gebruik daarvan met akute beserings na te dink.  Pyn wat met akute beserings gepaard gaan dien ‘n belangrike doel – dit verhoed ons om bewegings uit te voer wat die besering kan vererger en dui aan hoe ver ons die deel veilig kan beweeg – wat ons nou gesien het, baie belangrik is vir die genesingsproses.  Pyn is ook ‘n aanduiding van hoe die genesingsproses verloop. Erge pyn en ongemak moet uiteraard en effektief behandel word. Ons is egter as moderne mense soms so gewoond daaraan om dadelik die pynpille te gryp as ons enige sweem van pyn voel, dat dit met minder ernstige beserings miskien raadsaam is om te oorweeg of dit werklik nodig is om pynmedikasie te gebruik,  aangesien die pyn van die besering vir ons soveel belangrike inligting oordra, en of dit nie moontlik is om eenvoudig binne perke van pyn van die besering te bly nie.

Om op te som:

Die doel met die hantering van akute pyn is om so vinnig as moontlik die besering te laat gesond word, sodat die pyn kan ophou, en om seker te maak die genesingsproses verloop reg sodat die nuwe littekenweefsel wat gevorm het so sterk en bruikbaar as moontlik is.  Soos wat kennis heeltyd vermeerder en ons voortdurend vorder in ons begrip van die menslike liggaam, word algemeen aanvaarde standaarde deurentyd bevraagteken, en aangepas indien nodig. Die hantering van akute beserings is een hiervan.

So, as jy skeeftrap en jou enkel swik, of jou dogter haar vinger op die netbalbaan verstuit, oorweeg miskien in samewerking en oorweging met jou dokter of fisioterapeut hoe julle die akute inflammatoriese respons reg en normaal kan laat verloop om seker te maak jy of sy word so vinnig en goed as moontlik gesond.  

Die volgende artikel in hierdie reeks kan hier gelees word:  Deel 3: Chroniese pyn

* Carin Smit is ‘n geregistreerde fisioterapeut en ook ‘n regskenner.  Sy werk tans in Mpumalanga as beide fisioterapeut en prokureur.  Sy is Dr. Francois Retief se jongste dogter.

Verwysings

(1) see for example:

Erickson, L. N., & Sherry, M. A. (2017). Rehabilitation and return to sport after hamstring strain injury. Journal of Sport and Health Science, 6(3), 262-270.

(2) Mirkin, G. (2017, November 22). Retrieved from http://drmirken.com/fitness/why-ice-delays-recovery.html

(3) see for example:

van den Bekerom, M. P., Struijs, P. A., Blankevoort, L., Welling, L., Van Dijk, C. N., & Kerkhoffs, G. M. (2012). What is the evidence for rest, ice, compression, and elevation therapy in the treatment of ankle sprains in adults?. Journal of athletic training, 47(4), 435-443.

And

Takagi, R., Fujita, N., Arakawa, T., Kawada, S., Ishii, N., & Miki, A. (2010). Influence of icing on muscle regeneration after crush injury to skeletal muscles in rats. Journal of applied physiology, 110(2), 382-388.

And

Bleakley, C., McDonough, S., & MacAuley, D. (2004). The use of ice in the treatment of acute soft-tissue injury: a systematic review of randomized controlled trials. The American journal of sports medicine, 32(1), 251-261.

(4)  see for example

Hurme, T., Rantanen, J., & Kaliomo, H. (1993). Effects of early cryotherapy in experimental skeletal muscle injury. Scandinavian journal of medicine & science in sports, 3(1), 46-51.

And  

Schaser, K. D., Disch, A. C., Stover, J. F., Lauffer, A., Bail, H. J., & Mittlmeier, T. (2007). Prolonged superficial local cryotherapy attenuates microcirculatory impairment, regional inflammation, and muscle necrosis after closed soft tissue injury in rats. The American journal of sports medicine, 35(1), 93-102.

And

Järvinen, T. A., Järvinen, M., & Kalimo, H. (2013). Regeneration of injured skeletal muscle after the injury. Muscles, ligaments and tendons journal, 3(4), 337.

(5) Hubbard, T. J., & Denegar, C. R. (2004). Does cryotherapy improve outcomes with soft tissue injury? Journal of athletic training, 39(3), 278.

(6) Lu, H., Huang, D., Saederup, N., Charo, I. F., Ransohoff, R. M., & Zhou, L. (2011). Macrophages recruited via CCR2 produce insulin-like growth factor-1 to repair acute skeletal muscle injury. The FASEB Journal, 25(1), 358-369.

And

Peake, J., Singh, D., Lonbani, Z. B., Woodruff, M., & Steck, R. (2015). The effects of topical icing after contusion injury on angiogenesis in regenerating skeletal muscle. The FASEB Journal, 29(1 Supplement), 826.5.

(7) Rahusen, F. T., Weinhold, P. S., & Almekinders, L. C. (2004). Nonsteroidal anti-inflammatory drugs and acetaminophen in the treatment of an acute muscle injury. The American journal of sports medicine, 32(8), 1-4.

 

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui