Voordele van oefening

By | 2 Maart 2013

Ons word daagliks uit verskillende oorde bewus gemaak van die feit dat ‘n aktiewe lewenstyl voordelig is.

Sommige groot maatskappye wat mediese fondse en lewensdekking verskaf, beloon lede wat gereeld oefen met kontantterugbetalings en verlaagde premies.  Die geld wat hierdie maatskappye spandeer op hierdie initiatiewe is niks in vergelyking met die geld wat hulle spaar op lede wat goeie gesondheid geniet en gevolglik minder dokter toe gaan nie.  ‘n Aktiewe lewensstyl hou natuurlik nog baie meer voordeel in vir die individue wat dit beoefen as vir hulle versekeringsmaatskappye!

Gereelde oefening hou die volgende voordele in:

  • Help kontroleer bloedglukose deur die insulienreseptor weer meer sensitief te maak vir insulien.
  • Help om die komplikasies van diabetes te verminder.
  • Help met gewigsbeheer:  Meer kalorieë word verbrand, nie net tydens oefening nie, maar ook omdat oefening die metabolisme vir die volgende 24 uur verhoog met 5 – 10 %.  Dit beteken die liggaam van ‘n aktiewe person verbrand kalorieë teen ‘n vinniger tempo na oefening as die liggaam van ‘n  onaktiewe person.  Dit is ook waarom ‘n mens nie maklik koud kry tydens oefening nie.  Die “vure brand hoër”. .  Dit is ook deels waarom bejaardes so koulik is. Hulle sit die hele dag stil wat veroorsaak dat hulle metabolisme feitlik afsluit .
  • Verbeter bloedsirkulasie in die hele liggaam en help om gevaarlike bloedvatkomplikasies te voorkom.
  • Verminder die risiko van hoë bloeddruk en help om ‘n bloeddruk wat reeds verhoog is, te verbeter.
  • Verbeter die bloedvet-profiel:  Oefening verlaag  trigliseriede en totale cholesterol.  Dit verlaag LDL (die slegte cholesterol), en verhoog HDL (die goeie cholesterol) wat ‘n beskermende invloed op bloedvate het.
  • Verbeter lewenskwaliteit:  ‘n Mens voel baie beter as jy meer aktief is.  Jy het ‘n meer positiewe liggaamsbewustheid en verbeter jou liggaam se bewegingspatrone.  Kyk byvoorbeeld hoe mooi grasieus stap ‘n ouer vrou wat gereeld oefen in vergelyking met haar eweknieë wat oefening vermy.
  • Bevorder balans.  Bejaardes het dikwels swak balans as gevolg van langdurige onaktiwiteit.  Vir die rede is hulle geneig om maklik te val, wat ernstige gevolge mag hê.
  • Verbeter spierkrag, wat onder andere voorkom dat ‘n mens rugpyn kry as gevolg van swak spiere
  • Help om jou dagtake makliker te doen omdat jy sterker is en beter voel
  • Verminder die risiko van osteoporose.  Die “trek” van die spiervesels waar hulle aan die bene vasheg, stimuleer voortdurend nuwe beenvorming.
  • Is ‘n uitstekende manier van streshantering.
  • Die endorfiene wat tydens oefening afgeskei word, is die beste anti-depressant bekend.  Studies het gewys dat 30 minute stap ‘n soortgelyke effek as Prozak het ‘n mens se gemoedstemming.

Photoxpress_4345812

Mnr Botha:  “As ek hierdie lys voordele van oefening sien, wonder ek hoekom ek nie self daaraan gedink het en lankal weer begin oefen het nie.  Wanneer is die beste tyd om te oefen, Dok?”

Dokter:  “Is jy ‘n vroegopstaner of ‘n laatslaper, mnr Botha?”

Mnr Botha:  “ Ek hou daarvan om vroeg op te staan.  Dan is dit ook stil buite en daar is nie veel verkeer nie.  Ek dink ek sal begin met stap, en dan kyk ons hoe dit gaan.”

Dokter:  “Probeer om elke dag min of meer op dieselfde tyd te gaan stap.  Dit hou die 24 uur- oefeningseffek aan die gang, en dit help ook om die effek op jou bloedglukosevlak die beste te kontroleer.  As jy nou hierdie tyd en dan weer daardie tyd stap, is dit ‘n bietjie moeiliker om te beplan wanneer die bloedvlak gaan daal. Dit lyk asof ‘n mens die meeste nut daaruit kry om vroeg in die oggend te oefen voordat jy enigiets geëet het..  Meer vette word so verbrand.  Is daar nie dalk ‘n stapklub in jou omgewing  nie?  Dit kan ‘n gesellige sosiale aktiwiteit word as dit is waarvan jy hou.”

“Onthou net om ‘n paar voorsorgmaatreëls in ag teneem..”  (Lees meer hieroor in die volgende blog artikel..)

2 thoughts on “Voordele van oefening

  1. Pingback: Nuwe inligting oor oefening (HIT en NEAT) | Verslanking

  2. Pingback: ‘n mens met ‘n rug | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui