Het probiotika regtig waarde?

By | 9 Augustus 2017

Probiotika het een van die gonswoorde van ons tyd geword. Soos wat die mikrobioom en die rol wat dit in ons gesondheid speel al meer nagevors word, is die weg gebaan vir nog ‘n foefie om sy kop uit te steek, en dit is die gebruik van probiotika  (“goeie” dermflora) in pilvorm, in die hoop dat dit ‘n verskeidenheid van siektes sal verhoed of genees.

Bacterial colonies

Die aanwesigheid van bakterieë wat gunstig is vir ons mikrobioom, soos in natuurlike joghurt en ander gefermenteerde produkte, is goed bekend.  Probiotika word deesdae as bestanddeel genoem (of dan bygevoeg) in ‘n verskeidenheid van vrugtesappe, graankosse ensovoorts. Dit word ook al meer in pil- of kapsulevorm verkoop.  Het dit enige waarde vir die intandhouding van gesondheid of die voorkoming van siektes,  of is dit maar  net nog ‘n  geldmakery deur die sogenaamde alternatiewe gesondheidsbedryf?

Heelwat navorsing is daaroor gedoen en die konsensus van opinie is dat probiotika geen waarde toevoeg vir gesonde mense nie, en dat heelwat van die aansprake wat deur die vervaardigers gemaak word oordrewe of onwaar is.

Die menslike mikrobioom bevat ongeveer 39 triljoen bakterieë.  Die meeste daarvan is gevestig in die dermkanaal.  Ander woonplekke is die vel en lugweë (die neus, lugpyp en sinusse).  Ons weet dat ‘n normale mikrobioom noodsaaklik is vir goeie gesondheid en ons ook beskerm teen nadelige indringers.

Doctor Holding Money with Focus on MoneyDie vervaardigers wat ingespring het in hierdie potensieel baie winsgewende mark selekteer spesifieke tipe bakterieë wat maklik in groot hoeveelhede gekweek kan word.  Die geselekteerde bakterieë word dus nie noodwendig gekies omdat hulle aangepas is vir die menslike dermkanaal of omdat hulle bevorderlik is vir gesondheid nie.

Normale maagsuur steriliseer feitlik alles was ons eet. Net ‘n paar tipes bakterieë (soos byvoorbeeld die Bifidobakterieë en Laktobasille wat in natuurlike joghurt voorkom) is aangepas om hierdie suur-omgewing te oorleef.  Die bakterieë wat in vervaardige kapsules voorkom val dikwels nie in hierdie groep nie.

‘n Aantal jare gelede is boonop ‘n studie in Suid-Afrika gedoen waarin gekyk is na wat in plaaslik vervaardigde probiotiese middels teenwoordig was.  In die meeste gevalle was daar nie ‘n beduidende hoeveelheid van die bakterieë teenwoordig wat veronderstel was om daarin te wees nie!

Dan moet ‘n mens jou ook afvra watter bydrae ‘n paar honderdduisend bakterieë wat in ‘n kapsule is (mits hulle natuurlik die maagsuur kan oorleef) sal kan maak tot die reeds genoemde mikrobioom-massa van by die 39 triljoen?

Waar het hierdie produkte dan wel waarde?

  • In die geval van vroeggebore babas, by wie die dermkanaal nog nie volledig ontwikkel is nie, kan probiotika van waarde wees. Hierdie babas ontwikkel soms ‘n potensieel dodelike dermkanaalaantasting wat nekrotiserende enterokolitis genoem word, waar die weefsel van die dermkanaal selfs kan afsterf. Dit lyk asof probiotika hierdie siekte kan voorkom deurdat voordelige bakterieë die oorgroei van skadelike bakterieë mag verhoed.
  • yogurt-1442034_640Ons weet dat die gebruik van antibiotika groot skade kan aanrig aan ons mikrobioom. Dis dus algemeen dat probiotika deesdae saam met antibiotika voorgeskryf word. Net soveel waarde kan egter verkry word deur natuurlike joghurt in plaas van ‘n kapsule te eet.  (Let wel: natuurlike joghurt, nie die versoete poeding-joghurt nie! Laasgenoemde het wel ook die laktobasille in, maar bevat ‘n werklik ontstellende hoeveelheid suiker of versoeters.)

    Dit is interessant dat die mikrobioom vinniger herstel by mense wat nog hulle blindederm (appendiks) het. Dis moontlik dat die appendiks op die een of ander manier as reservoir vir die mikrobioom dien.

  • Daar is navorsing gedoen oor die gebruik van probiotika om te kyk of dit in sommige gevalle die simptome van ‘n spastiese kolon (prikkelbare dermkanaalsindroom) kan verbeter. Slegs ‘n paar klein studies is nog sover hierop gedoen en ek het nog nooit enigiets gesien wat enige waarde toon nie.  Ons moet onthou dat elke mens se mikrobioom uniek is, amper soos jou vingerafdrukke, en watter soort bakterieë van waarde kan wees vir watter individue is onseker.  Net so verskil die genetika van die spesies bakterieë verstommend baie. Prikkelbare dermkanaalsindroom is so ‘n ingewikkelde toestand dat dit vergesog is om te dink dat ‘n kapsule ‘n verskil sal maak. As jy egter vermoed dat dit vir jou werk, sal dit darem nie skade doen nie.

‘n Potensiële moontlikheid vir die toekoms is sogenaamde “personalized probiotics”, waar die stoelgang van mense met dermkanaalsiekte of simptome ontleed word en daar dan individuele aanvulling van bakterieë bereken word.   Hoe prakties dit gaan wees sal ons maar moet sien.

Dan is daar ook nog ‘n faktor wat bykom by die anti- en die pro-, en dit is PRE-biotika, net om die storie nog meer ingewikkeld te maak.  Prebiotika is substanse wat die groei van normale mikrobioom-organismes bevorder, soos bv semels, vesels en moontlik lactulose (wat ek soms gebruik).  Onthou, die mikrobioom kan alle voedselsoorte verteer wat ons eie dermkanaal nie kan verteer nie.

bacteria-808751_640

DUS:  Moenie alles wat jy lees, en waarop aanspraak gemaak word deur vervaadigers van produkte (veral in die gesondheidsbedryf, waar op liggelowige en dikwels kwesbare mense gefokus word, en waar geweldige winste moontlik is), glo nie.

Ons het ‘n Afrikaanse spreekwoord wat sê (met rede): ‘n halwe waarheid is erger as ‘n hele leuen.

(Verwysing: onder andere die artikel Do Probiotics Really Work? uit die Scientific American uitgawe van 1 Julie 2017)

3 thoughts on “Het probiotika regtig waarde?

  1. ina roux

    Baie dankie Dr. Ek vind jou artikels so leersaam. En ek verstaan dit tog…natuurlik oor die Afrikaans. Mooi dag verder. Ina Roux

    Reply
  2. Elizabeth

    Baie dankie vir die insiggewende artikel.U bevestig wat ek lankal vermoed: dat baie van die meds n oorheersend winsgewende oorsprong het.Mens.moet jou ” gut” vertrou!

    Reply

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui