Wenke vir ‘n geslaagde oefenprogram en meer aktiewe lewe

By | 12 Maart 2013

Baie mense assosieër oefening met die gesegde:  “No Pain, No Gain”.  In werklik sal enige aktiwiteit wat jou vinniger laat asemhaal en jou hart vinniger laat klop jou goed doen.

Daar is ‘n groot verskeidenheid maniere om te oefen.  Soms moet ‘n mens net kreatief wees in jou soeke na ‘n vorm van oefening wat vir jou lekker, of ten minste aanvaarbaar sal wees.  Hier is ‘n paar idees:

  • ‘n Stilstaande oefenfiets wat jy sit en trap voor die TV is vir baie mense ‘n goeie aktiwteit.  Laat jouself slegs toe om jou gunsteling program of sepie te kyk terwyl jy sit en trap!  Of gun jouself elke dag ‘n halfuur om ‘n gunsteling tydskrif of boek te lees terwyl jy trap.
  • Party van ons pasiënte hou van ‘n “health walker”.  Moenie sommer ‘n nuwe stuk apparaat aankoop nie  –  gaan kyk by tweedehandse winkels of in die advertensiekolomme van die koerant.  Baie mense se goeie voornemens sneuwel.
  • ‘n Roeimasjien oefen omtrent al jou spiere.
  • Dit is redelik goedkoop om twee ligte handgewiggies aan te skaf kry dit op verskillende maniere sit en swaai terwyl jy op ‘n regop stoel sit en TV kyk  –  dis ook ‘n opsie vir dae wanneer die weer jou nie toelaat om te gaan stap nie.
  • Boks ‘n peerbal.
  • Gooi ‘n 2 kg medisynebal teen die muur.
  • As jy nog kan touspring, doen dit.
  • Jy kan oefeninge doen saam met ‘n oefeningsvideo.  Musiekoefenprogramme is ook verkrygbaar op CD.

Om die aantal kalorieë te beraam wat ‘n mens met oefening verbrand, doen die volgende berekening:
Aantal kalorieë = Die kwadraat van die afstand (in kilometer) wat jy gestap het
gedeel deur die tyd (in minute)
Vermenigvuldig met 660

Kortliks:  Aantal kalorieë = (afstand * afstand) / tyd * 660

(Die 660 is ‘n konstante wat Dokter Francois self bereken het)

Wenke vir diegene wat oorgewig is

Dit is nie vir almal maklik om eenvoudig hulle tekkies aan te trek en te begin oefen nie.  As ‘n mens totaal onaktief en oorgewig is, is dit baie belangrik om eers jou siening van jouself reg te kry.  Jou selfbeeld bepaal in ‘n baie groot mate wie jy is en hoe jy die lewe benader.

  • Kry jou kop reg!  Moenie aan jouself dink soos wat jy jou buitelyn in die spieël sien nie.  Dink aan al die spiere onder die vel (vet?) en voel hoe hulle werk  Dit verg groot spiere om soveel vet rond te dra!  Wanneer jy die vet weggewerk het, sal jy verbaas wees om te sien watter mooi fatsoen jy eintlik daaronder het.
  • Dink aan jouself as skraal en fiks!  As jou brein dit vir jou liggaam vertel, lyk hy later so.  Jou belangrikste liggaamsmate is die afstand tussen jou ore.
  • As ‘n mens lank onaktief was, “verloor” jou brein ‘n bietjie kontak met jou spiere en jy vergeet hoe dit voel om bewus te wees van hoe hulle werk. Herinner jou brein weer aan al die spiere deur hulle gereeld te gebruik.  Oefening is een manier om jou spiere weer aan die gang te kry en te gebruik.

Nog wenke om meer aktiwiteit in jou dag in te bou

Jy hoef nie noodwendig te wag tot jou volgende “amptelike” oefensessie om jou spiere aan die gang te hou nie. Daar is baie maniere om oefening in jou allerdaagse lewe in te pas. DINK BEWEGING.

oefening

  • Moet nooit in ‘n hyser ry nie  –  klim die trappe!  As jy in ‘n gebou van 24 verdiepings werk, moet net nie as jy totaal onfiks was, al 24 met die eerste slag takel nie.  Begin geleidelik en bly binne jou vermoëns.  As jy die tyd bereken wat dit jou neem om vir die hyser te staan en wag tesame met al die kere wat die hyser op die verskillende vloere stop, gaan jy nie veel tyd verloor as jy die trappe klim nie.
  • Indien enigsins moontlik, stap werk toe en terug.  Of parkeer verder en verder van die werk af en stap.  Die stap mag wel ‘n bietjie langer neem, maar om in ‘n motor te ry neem tog ook tyd en is nie naastenby so goed om spiere in stand te hou nie
  • Stap  kafee toe vir brood en die koerant en moenie met die motor ry vir kort afstande nie.
  • Moenie sit as jy kan staan nie  –  staan gebruik meer energie.
  • Sit “aktief” en regop.  Moenie soos ‘n sak aartappels op ‘n hoop sit nie.  Regop sit gebruik meer energie EN help om jou spiere in ‘n beter toestand te hou.
  • Stap na die verste toilet van jou kantoor af, verkieslik ‘n paar verdiepings ver.
  • As jy die oggend uit die bed uit opstaan, beweeg vinnig, stap vinnig, doen alles vinnig en doen verkieslik jou oefening voor ontbyt.  Oefening vroeg in die oggend gebruik kilojoules meer effektief en verbrand veral vet.
  • Stap vinnig of draf nader as die telefoon of voordeurklokkie lui en moenie slenter nie.  Beweeg altyd mooi flink.

Om, soos hierbo genoem, aktief te bly, is ‘n BESLUIT wat jy neem.  Dit gebeur nie vanself nie, maar word maklik aangeleer.  Onthou hoe jy gevoel het toe jy jonk was  –  dinamies, lewendig, vinnig, rats, asof jy opgewasse is vir enige fisieke uitdaging en in beheer is van jou liggaam.  Soek weer daardie gevoel  –  jy het dit net ‘n bietjie vergeet!

Om aktief te wees verg ‘n lewenstylaanpassing en dit beteken jy moet heel eerste jou kop reg kry.

4 thoughts on “Wenke vir ‘n geslaagde oefenprogram en meer aktiewe lewe

  1. Pingback: Nuwe inligting oor oefening (HIT en NEAT) | Verslanking

  2. Annette

    Baie dankie doc Francois vir al die inligting op jou blog; dit inspireer my weer om entoesiasties te wees oor my gesondheid en jou wenke ter harte te neem. Annette

    Reply
  3. Cornelius

    Ek moet sê ek het vandag op ‘n uiters insiggewende en raad gewende blok afgekom.
    Werklik jou wysheid en raad strek tot almal se voordeel, natuurlik sou jy dit toepas.

    Gaan voort met die goeie werk.

    Reply

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui