Tinnitus is wanneer ‘n mens ‘n geluid hoor waar daar geen geluid in die omgewing is nie. ‘n Mens kan dit hoor as ‘n suising in die ore, ‘n hoë aanhoudende geluid soos sonbesies wat in jou kop lawaai, selfs soms ‘n gebrul, en dit kan halfpad van toonhoogte verander.
Tinnitus gaan meestal gepaard met ‘n vorm van gehoorverlies, hetsy tydelik of permanent. Gehoorverlies kom voor wanneer die gehoorstelsel op enige manier beskadig is.
Die algemeenste oorsaak van tinnitus is die agteruitgang van die gehoorsenuwees wat met ouderdom plaasvind. Dit gaan altyd gepaard met ‘n mindere of meerdere mate van gehoorverlies. Tot 30% van bejaardes het soveel gehoorverlies dat hulle ‘n gehoorapparaat sal benodig.
Daar is ’n lang lys ander moontlike oorsake van suising in die ore, onder andere:
- blootstelling aan harde geraas, soos musiek met klankversterkers, geweerskote, MP3-spelers met oorfone wat te hard gestel is
- enige vorm van oorinfeksies
- medikasie wat toksies is vir die gehoorstelsel soos o.a. sekere soorte antibiotika, diuretika (waterpille) en kankermedisynes
- meningitis
- fraktuur van die skedelbeen naby die oor
- Menière se siekte
- sekere aangebore afwykings en ook goedaardige of kwaadaardige tumore.
- Tinnitus wat kloppend van aard is, mag dui op patologie van ‘n bloedvat soos bv. ‘n aneurisme of blokkasie en dui dus op ‘n ernstiger toestand.
Skielike aankoms van tinnitus moet ondersoek word om die oorsaak vas te stel.
Wat kan ons dan doen om tinnitus beter te maak?
As daar ‘n direkte oorsaak is (bv. medikasie of harde geluide), moet die oorsaak natuurlik waar moontlik uitgeskakel word.
As dit ‘n ouderdomsverskynsel is kan ‘n mens die irritasie van die gesuis verbeter deur dit te vervang met ‘n klank wat aangenamer is om na te luister, soos musiek. Ander opsies is om te te luister na ‘n boekvoorlesing of ander interessante klankproduksie. As ‘n mens in die stilte sit en luister na die suising in jou ore, word dit al harder! Moenie daaraan sit en dink en wonder wat dit is nie – leer jou brein om dit te ignoreer.
As dit gepaard is met betekenisvolle gehoorverlies, kan ‘n gehoorapparaat van waarde wees. Hier kan ‘n oudioloog baie help. Sy sal die ore toets en ‘n spesifieke gehoorapparaat voorskryf. Moenie skrik vir die dra van ‘n gehoorapparaat nie. Die prentjie wat baie mense nog het van ‘n pienk plastiekkassie agter die oor met ‘n toutjie wat onder die kraag in verdwyn, geld gelukkig nie meer nie. Vandag se gehoorapparate pas heeltemal in die oorkanaal in en is nie meer sigbaar van buite nie.
Ek sukkel al baie lank met die gesuis in my ore soos sonbesies party keer erger as ander kere. Ek sukkel som met hoe bloeddruk en lae bloedruk het ook diabetes2.Ek is 70 jr oud en dit kom al ‘n baie lang tyd omtrent 6jaar.