Let wel: Dokter Retief het voorlopig genoeg deelnemers vir sy lewenstylprogram. Dankie aan almal wat hulle tuisevaluasies ingestuur het en deelgeneem het. Verdere deelnemers sal nie betrek kan word by die program nie.
Die behoud van ons gesondheid lê aan die basis van alle vorms van lewenskwaliteit. Dit kan vir ons baie produktiewe en genotvolle jare bring. Dit is ook ‘n vereiste vir finansiële welvaart.
Gesondwees is tot ‘n groot mate ‘n besluit wat ‘n mens neem en soos met alle doelwitte verg dit beplanning oor die kort, medium en langtermyn. Ouderdom is nie sinoniem met ‘n afname in liggaamskrag en toenemende kwale nie. Mense word deesdae baie ouer en met meer gesondheid en lewenskrag as voorheen.
In ‘n tyd van stygende mediese kostes en onsekerheid oor voldoende gesondheidsorg, is dit logies en relevant om mediese uitgawes so laag as moontlik te hou. Dit is veral die chroniese siektetoestande wat op die lang duur die meeste pyn, ongerief en uitgawes meebring.
Baie van hierdie toestande is grootliks voorkombaar, o.a. rugpyn, chroniese obstruktiewe lugwegsiekte en emfiseem, en iskemiese hartsiektes.
Hierdie blog bevat reeds baie inligting wat verduidelik hoe ‘n mens moet probeer lewe om jou gesondheid te behou of verbeter.
Uitnodiging
Ek nooi vervolgens al die blog-lesers uit wat belangstel om gesond te bly en hulle lewenskrag tot op ‘n hoë ouderdom te behou, om in te skakel by ‘n lewenstylprogram. Die program is gratis, vrywillig, individueel, en kan ingepas word by jou persoonlike voorkeure. Dit is beskikbaar vir almal, ongeag waar in die wêreld jy woon.
Deelnemers sal inskakel by ‘n groter projek van evaluasie, rehabilitasie en lewenstylaanpassing wat reeds in my praktyk aan die gang is. Die program sal bedryf word as ‘n wetenskaplike navorsingsprojek met die volgende doelwitte:
- om vas te stel tot watter mate gemotiveerde mense hulleself tuis gesond kan hou
- om te bepaal watter finansiële besparing mense hierdeur vir hulself teweeg kan bring
Elke projekdeelnemer se teiken is om veroudering en agteruitgang teë te werk deur die volgende:
- Verbeter of behou ‘n voldoende aktiwiteits/oefeningsvlak
- Verbeter of behou jou intellektuele vermoëns
- Volg ‘n gesonde eetpatroon en bereik of behou jou ideale gewig
Die stappe van die program is kortliks as volg (dit vervolgens in meer detail verduidelik):
- Neem kennis van die verskillende gesondheidsvelde (domeins) waaraan ons gaan aandag gee, asook hoe ideaalweg opgetree moet word in die verskillende domeins.
- Doen ‘n basiese tuisevaluasie van jou huidige gesondheid en vermoëns. Stuur dit in om basiese terugvoer te kry.
- Skerp jou kennis oor gesonde eetgewoontes op en kyk watter veranderinge jy kan maak om jou eetgewoontes te verbeter.
- Vind maniere om jou basiese aktiwiteitsvlakke of oefengewoontes te verbeter en uit te brei.
- Herhaal stappe 2 tot 4 elke 2 maande.
Hoe om deel te neem aan die program
STAP 1: Neem kennis van die verskillende gesondheidsareas (domeins) en hoe om om in die domeins op te tree
Die plan is om in die toekoms artikels op die blog te plaas wat verdere praktiese kennis bevat oor hoe om in die gesondheidsareas op te tree om gesondheid te bevorder en behou.
Hier is die domeins waarbinne ons gaan werk om gesondheid te behou en/of verbeter:
1. Fisiologies
- Eet gesond, wat onder andere behels (meer hieroor in Stap 3):
- Beperk soutinname. (Sien Eet minder sout!)
- Skakel suikers (insluitende fruktose) en verfynde stysels sover as moontlik uit.
- Vermy preserveer- en kleurmiddels.
- Vermy onnodige dieet-aanvullings.
- Beperk soutinname. (Sien Eet minder sout!)
- Moenie rook of dwelms gebruik nie. (Sien Hou op rook!)
2. Fisiek
- Dit is ideaal om ten minste 2000 kalorieë per week in oefening te verbrand. (Meer hieroor in Stap 4.)
- Volg ‘n veilige strekprogram om die spiere en skelet in balans te hou. (Meer hieroor in ‘n volgende artikel, so hou die blog hiervoor dop.)
3. Neurologies
- Hou jou balans in stand. Dink aan aktiwiteite waarmee jy jou balans kan oefen. Hier is idees van aktiwiteite wat vir jou mag werk:
- kyk of jy jou langbroek en skoene kan aantrek terwyl jy staan
- stap op ‘n smal muurtjie of dalk eerder net ‘n streep
- staan op een been terwyl jy kos voorberei of jou tande borsel
- Doen enige soort aktiwiteit/oefening wat koördinasie verg, byvoorbeeld:
- gooi veerpyltjies
- beoefen ‘n balsport, bv. tennis, muurbal of golf
- gooi ‘n balletjie teen die muur (en vang dit!) 50 keer of soveel moontlik per dag
- goël met balle (”juggle”)
- probeer karate
- Bou nuwe sinapse in jou brein: Leer of doen iets nuuts, volgens jou belangstelling. Die internet is ‘n ryk bron van inligting. Hier is ‘n paar idees:
- studeer iets
- begin plante kweek
- maak ‘n studie van voëls of plante
- begin foto’s neem
- neem dans-of kunsklasse
- sluit aan by ‘n belangegroep en woon hulle byeenkomste by
- gaan op staptogte
- begin goeters versamel
- leer jouself kitaar speel
- koop ‘n kookboek (die “Real meal revolution” is ‘n goeie beginpunt) en probeer die resepte uit
Die moontlikhede is eindeloos! Gee jou brein ‘n nuwe uitdaging.
4. Geestelik
- Maak tyd vir stil wees in jou dag. Begin jou dag met ‘n rustige koppie koffie; stiltetyd; tyd vir dink en bepeinsing; beplan pouses in jou program om tot verhaal te kom
- Fokus jou denke; moenie toelaat dat jou gedagtes weghardloop of in jou kop maal nie.
- Koester die verhoudings in jou lewe, wees opreg en reik uit na ander mense. Sien Gesondheid, Geloof, Hoop en Liefde.
STAP 2: Doen ‘n tuisevaluasie
Lees die volgende artikel vir volledige instruksies wat verduidelik hoe om die evaluasievorm af te laai, die evaluasie te doen en die evaluasievorm in te stuur: Tuisevaluasie: Hoe gesond is ek?
Jy is welkom om die vorm anoniem in te vul (bv. deur net voorletters of ‘n skuilnaam te gebruik vir identifikasie).
Die evaluasievorm is in MS Excel formaat en gee reeds basiese terugvoer in sommige afdelings deur probleemareas in oranje of rooi te merk op grond van die antwoorde en waardes wat jy intik.
Inligting op evaluasievorms wat ingestuur word mag onder die gegewe naam/alias deur Dok Francois se personeel in ‘n databasis ingevoer word. Hierdie databasis mag gebruik word om te bepaal tot watter mate gemotiveerde deelnemers hulle teikens kan bereik, hul gesondheid kan verbeter en hulle risiko’s kan bestuur of verminder.
Dok Francois se personeel sal sover moontlik poog om binne ‘n redelike tyd per epos terugvoer te gee aan almal wat ‘n evaluasievorm instuur, afhangende van die hoeveelheid inskrywings. Die personeel sal so ver moontlik poog om terugvoer te gee, wat die volgende mag insluit:
- ‘n Eenvoudige interpretasie van die evaluasie, asook ‘n paar moontlike probleemareas en wenke oor hoe om dit te adresseer.
- Kommentaar en moontlike advies oor die persoonlike doelwitte wat jy op die evaluasievorm ingevul het.
Onthou dat die vordering wat jy maak baie belangriker is, as jou aanvanklike evaluasie.
STAP 3: Skerp jou kennis oor gesonde eetgewoontes op en kyk watter veranderinge jy kan maak om jou eetgewoontes te verbeter.
In die Fisiologiese domein, soos hierbo genoem, word daar baie klem gelê op gesonde eetgewoontes.
Lees afdeling C van die artikel Hoe bly ‘n mens gesond? terwyl jy besin oor jou huidige eetgewoontes. Watter veranderinge kan jy aan jou eetgewoontes maak om gesonder te eet? Skryf neer watter veranderinge jy in die volgende maand wil maak om gesonder te eet. Hou dit eenvoudig en prakties.
Vir deelnemers wat getroud is: onthou om met jou huweliksmaat te gesels voordat jy besluit watter veranderinge jy wil maak – veral as jou huweliksmaat betrokke is by die aankoop en maak van jou etes! Ideaalweg moet julle die program saam aanpak.
Indien jy rook, lees die artikel Hou op rook! en maak werk daarvan om op te hou.
STAP 4: Vind maniere om jou basiese aktiwiteitsvlakke of oefengewoontes te verbeter en uit te brei.
Lees afdeling B van die artikel Hoe bly ‘n mens gesond? terwyl jy dink aan hoe aktief (of onaktief!) jy daagliks is. Watter veranderinge kan jy maak om meer aktief te lewe? Skryf neer watter veranderinge jy in die volgende maand wil probeer maak om meer aktief te wees. Hou dit weereens eenvoudig en prakties.
Lees ook die volgende artikels wanneer jy met ‘n oefenprogram wil begin, of jou huidige oefenprogram wil verbeter:
- Voordele van oefening
- Voorsorgmaatreëls wanneer jy oefen
- Wenke vir ‘n geslaagde oefenprogram en en meer aktiewe lewe
STAP 5: Herhaal stappe 2 tot 4 elke 2 maande.
Herhaal die tuisevaluasie op min of meer ‘n 2-maandelikse basis om jou verbetering of instandhouding te monitor. Stuur dit weer in om verdere terugvoer te kry. Gebruik die terugvoering om te kyk watter aspekte van jou gesondheid nog kan verbeter en kyk weer watter lewenstylaanpassings jy kan maak om jou gesondheid verder te verbeter of in stand te hou.
Hou tussendeur die blog dop vir verdere artikels wat gesondheidsadvies aan projekdeelnemers gee en kyk wat daarvan jy in jou lewe kan toepas.
Die span wat betrokke is by die beplanning en bedryf van hierdie projek sluit in:
- Dr Francois J Retief, Internis, M.B.Ch.B., M.Med.(Int.), FCP (SA), B.Sc. (Hons) Sportgeneesk., Dipl Theol. (Wellington)
- Prof Celie Eales, Fisioterapeut, M.Sc., D.Phil.
- Dr E G Labuschagne, Algemene Praktisyn, M.B.Ch.B., M.P.A.
- Jan H Retief, Besigheidsanalis, BOP, BML.IT, BA(SETA Akkreditasie), Dip.PR
- Nada Oosthuizen, Prokureur en Aktevervaardiger, BCom LLB H.Dip (Arbeidsreg)
- Marina la Grange, kuberkaptein van hierdie blog, B.Arbeidsterapie, B.Sc.IT
- Carin Smit, B.Sc. (fisioterapie), LL.B.
- Francois Retief, Stelselingenieur by Iono, B.Ing.
- Hanno Retief, IT Bestuurder, B.Com.