Hoe bly ‘n mens gesond?

Daar word soveel gepraat oor wat gesond sou wees en wat nie dat selfs ingeligte mense later nie weet wat die feite is nie!    Boonop (soos reeds in vorige artikels genoem is) speel die advertensiemedia so ‘n groot rol in ons lewens, en is daar soveel maatskappye wat miljoene rande wins maak uit dieëtaanvullings en ander gesondheidsfoefies, dat ons toegegooi word met halwe waarhede en selfs hele leuens.

‘n Wetenskaplik-gefundeerde benadering is nodig.  Ek het reeds tevore kortliks daarna verwys, en gee graag meer hieroor, soos wat ek die laaste 30 jaar vir my pasiёnte sê  – ‘n basiese lewenstylvoorskrif.

A.  Die Brein:  Oefen beheer uit

1)       Die vereiste is dat ‘n ontspanne lewensbenadering gevolg word.  (Sien Mediese simptome van stres.)  Almal is deesdae, met of sonder rede, meer gestres. Werk doelbewus daaraan om nie jou gedagtes op loop te laat gaan nie  –  dissiplineer jou denkwyse!  Mense bekommer hulle gewoonlik die meeste oor dinge wat nooit gebeur nie.   Wag eers om te kyk waarvoor jy moet skrik, en skrik dan as jy wil.  Laughing guy with cell phone close up

2)      Sorg dat jy genoeg slaap. Sommige mense het meer slaap nodig as ander  –  ken jouself.  Moegheid dra by tot stres omdat jy stadiger dink, stadiger reageer en minder produktief is in alles wat jy doen.  Gee jou brein kans om af te skakel vir ‘n goeie nagrus.

3)      Om gereeld te skaterlag dra by tot gesondheid.

4)      Moenie rook nie!!!  (Sien HOU OP ROOK!)  Moet geen dwelms of onnodige medisynes inneem wat jou breinfunksie beïnvloed nie (soos slaappille, opkikkers, stimulante en alkohol).

B.  Spiere, liggaamskrag en ‘n effektiewe liggaam

Walking away woman exercising outdoorsOm gesond te bly, het ‘n mens ‘n sterk, goed funksionerende liggaam nodig.   Die liggaam is ontwerp vir fisieke aktiwiteit.  As spiere nie gebruik word nie,  word hulle swak en kan nie meer hulle werk doen nie.  Onthou, die hart en die diafragma (mantelvlies) is ook spiere.  ‘n Swak, ongeoefende hartspier sal jou gouer in die steek laat, en ‘n swak diafragma sal makliker ‘n  mantelvliesbreuk ontwikkel;  swak keelspiere predisponeer tot slaap-apnee;  swak rugspiere kan nie die werwelkolom stut nie met eindelose rugprobleme tot gevolg, ‘n werk waar ‘n mens  die hele dag sit, lei tot algemene spierverswakking en ‘n verkeerde liggaamshouding met nekpyn, skouerpyne, rugpyn en allerhande krankemente;   en so kan ‘n mens aangaan.

Ons moet verkieslik meer as 1600 kal/ week verbrand in oefening.   Verkieslik moet dit aerobiese aktiwiteit (stap, swem, draf, fietsry ens.) sowel as kragwerk insluit.  Laasgenoemde kan in ‘n gimnasium gedoen word, maar net sowel tuis gedurende jou dagtaak  (dink bv. hoeveel gewig verskuif ‘n ma met babas en kleuters per dag as sy hulle herhaaldelik optel; en watter tonnemaat verskuif sy per jaar net met supermark-inkope en kosvoorbereiding;  ‘n nutsman tuis wat swaar voorwerpe hanteer doen ook baie kragwerk).  Selfs sit en handgewigte swaai terwyl jy nuus kyk op die TV, het baie waarde vir die instandhouding van spiere.

Onthou, alle bietjies help en selfs min aktiwiteit is beter as geen aktiwiteit.   Moet dus nie lê as jy kan sit nie; moenie staan as jy kan stap nie; parkeer die motor verder weg en stap na waar jy wil wees; stap werk toe; neem die trappe in plaas van die hyser of roltrap!

Vir meer hieroor, sien die artikel Wenke vir ‘n geslaagde oefenprogram en en meer aktiewe leweVoorsorgmaatreëls wanneer jy oefen en Voordele van oefening.

C.  Eetgewoontes (van die meeste mites en onwaarhede lê hier!)

Die dieëtvoorskrif berus op eenvoudige onweerlegbare beginsels.   Nie net die inhoud nie, maar die totale hoeveelheid wat jy inneem bepaal hoe jy van binne en van buite gaan lyk.Family Sitting Around Table At Home Eating Meal

Hierdie is kortliks die riglyne wat ek oor baie jare vir al my pasiёnte  gee  –  vir algemene gesondheid, vir dermkanaalprobleme, vir voorkoming van hart- en bloedvatsiekte, vir diabete, vir mense wat gewig wil verminder.  Daar is slegs in uitsonderlike gevalle (soos bv. glutensensitiwiteit – sien Glutensensitiwiteit en seliaksiekte) spesiale dieëtvoorskrifte.

1)      Moet nie te veel proteïene eet nie. Kinders het wel proteïen nodig omdat hulle groei en weefsel bou, maar volwassenes benodig baie minder  –  ons hoef slegs in stand te hou.

2)      Moet nie meer as drie maal per week rooi vleis eet nie.

3)      Die stapelvoedsels van die wêreld bly die basis van die meeste mense se diëet, hoewel sommige mense gesonder is wanneer hulle stysels (en alle vorms van koolhidrate) sover moontlik uitsny (soos volgens Tim Noakes se diëet).  Maak jou kaloriebehoeftes op uit onverfynde stysels , wat mag insluit koring, mielies, hawermout, sorghum, growwe rys, aartappels (in die skil verkieslik, nie gebraai of in olie gebak nie!), tensy jy soos genoem rede het om koolhidrate te vermy.

4)      Ses groentes en /of slaaigroentes per dag  –  klein porsies is al wat nodig is, maar verskeidenheid is belangrik.

5)      Twee tot drie vrugteporsies /dag.  Dit is so dat vrugte gesond is, maar vrugte is ook soeter en bevat meer kalorieё.  Groente bevat meer vitamienes en minerale en is steeds meer belangrik.  Pasop vir te veel vrugte eet (veral belangrik vir diabete).

6)      Eet stadig,  gebruik maaltye as ontspanningstye,   moenie laat saans eet en op ‘n vol maag gaan slaap nie.  Die dermkanaal het ook rus nodig!

7)      Eet kos as jy honger is en drink water as jy dors is.

8)      Bly sover moontlik weg van hoё kalorie voedselsoorte, soos suiker en soetgoed  –  konfyt, heuning, lekkers, sjokolade (ook kunsmatige versoeters), en enige vorm van vrugtesap en koeldrank.  Al hierdie kossoorte plaas ‘n baie hoё werkslading op die pankreas, groot hoeveelhede insulien word benodig om die bloedglukosevlak konstant te hou, en alle oortollige kalorieë wat die liggaam nie opgebruik nie, word gestoor as vet.

9)      Bly ook weg van fyn meel – wit brood, wit rys,  fyngebak,  koek  ens.

10)  Speserye, Worcestersous,  tamatiesous en soorgelyke geurmiddels is skerp vir die dermkanaal en bevat dikwels baie sout, preserveermiddels en ook kleurmiddels.  Beperk dus jou inname hiervan soveel as moontlik, of vermy dit eerder heeltemal.

11)  Koffie bevat kaffeïen, ‘n sterk stimulant;  drink verkieslik nie meer as 1 koppie per dag nie.  Daar is ook baie kaffeïen in sommige vitamienpreparate soos Bio Plus, en in drankies soos Red Bull.

12)  Skakel alle verwerkte vleis uit die dieët uit, soos salami, polonie, spek,  frankfurters, weense worsies ens.

13)  Gebruik die minimum sout.  Onthou dat verwerkte vleise en ander kossoorte dikwels ‘n hoё soutinhoud het, wat stremming op die niere plaas en veral baie nadelig is vir mense  met hoё bloeddruk, of selfs ‘n familiegeskiedenis van hoё bloeddruk. (Sien Eet minder Sout! vir meer inligting hieroor.)

14)  As jy reg eet, het jy geen,  of ‘n absolute minimum dieëtaanvullings nodig.  Onthou, vitamienes, minerale en alle ander voedingstowwe is die mees effektief in hulle natuurlike vorm, en pille, kapsules, “shakes” en groente- en vrugtesappe is nie noodwendig gesond nie.  Vergelyk bv. die snaakse gewoonte om wortelsap te drink (wat gekonsentreerd, veselloos en te veel van een soort is, en onder andere karotinemie kan veroorsaak  –  d.w.s. selfs die vel word geel a.g.v. die ophoping van karoteen).  Wie sal nou sistematies ‘n hele bos wortels sit en opkou, tensy jy BAIE honger is en dit werklik al is wat daar is om te eet?

Lees hier vir meer inligting oor die belangrikheid van gesonde eetgewoontes by kinders, asook vir praktiese wenke om jou kinders gesonder te laat eet.

Beter gesondheid is tot ‘n baie groot mate ‘n besluit!

4 thoughts on “Hoe bly ‘n mens gesond?

  1. Maggi Hough

    Beste dr. Retief,. Baie dankie vir die oproep & Wonderlike Geselsie. Ek voel nou absoluut bevry. U is so reg ,,Geloof is ons beste beste Heler.” Ek is so Positief & Weet dat Hy my sal lei van dag tot dag. Liefdegroete, Maggi Hough

    Reply
  2. Hein Marx

    Baie goeie logiese raad. Ons sal dit beslis volg en dit kan my na my beroerte ook net help. Baie dankie vir die vriendelike ontvangs in die hospitaal en vir die openlike gesprek ivm my vrou se ondersoek. Ons kyk na n maand of daar enige verbetering is aan haar pyne. Baie dankie. Hein Marx

    Reply
  3. Lanka van Niekerk

    Baie dankie! Hierdie artikel bevat praktiese uitvoerbare raad. In ‘n wêreld vol van vreemde idees en oorvloedige “kennis” is dit so lekker om soveel “common sense” op een plek raak te loop!

    Reply
  4. Stephanus Hennig

    Dokter
    Dankie vir al jou raad!
    Dis mooi om te sien hoedat jy graag jou medemens tot hulp wil wees.
    Hou so aan!
    Groete!

    Reply

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui