Van die lastigste, pynlikste en mees debiliterende chroniese siektetoestande by ouer wordende mense is osteo-artrose en osteo-atritis. Wat is dit en wat kan ons daaraan doen?
Osteo-artrose is primêr ‘n degeneratiewe siekte van die kraakbeen wat die gewrigoppervlaktes belyn. Verder veroorsaak dit veranderinge in die been self, rondom die gewrigte, wat lei tot totale verval van die gewrigte. Osteo-artrose en osteo-artritis is soortgelyke gewrigsiektes, maar osteo-artritis het ‘n addisionele komponent van inflammasie by, m.a.w. die gewrig is rooi en geswel.
Dit is bekend dat veranderinge in been self dikwels vroeg in die siekte plaasvind, en selfs die kraakbeenveranderinge kan voorafgaan. Dis dus ‘n komplekse siektetoestand.
Bloedtoetse kan nie regtig die diagnose maak nie, omdat die inflammasie wat hier ontstaan nie aantoonbaar is nie.
Vinnige feite oor osteo-artrose:
- Dit is die mees algemene skeletale siekte in die mens.
- Dis die hoof-oorsaak van debilitasie en onvermoë in ouer mense.
- Simptomatiese knie-degenerasie tas 40% van volwassenes bokant 70 jaar aan.
- ‘n Kwart van lyers het moeite om hulle gewone daaglikse aktiwiteit af te handel.
- Hoe ouer ons word, hoe algemener word osteo-artrose.
- Mense wat oorgewig is het ‘n baie groter kans om osteo-artrose te kry.
- Gewrigsiektes is dikwels geneties en kom in families voor.
Gewrigsaantasting deur osteo-artrose:
Primêre osteo-artrose tas veral knieë, heupe en die gewigdraende, eerste gewriggie van die groottoon aan, asook die onderste gedeelte van die werwelkolom en die nek. Gewrigsbesering a.g.v. motorongelukke en sport veroorsaak sekondêre osteo-artrose (veral rugby is ‘n groot sondebok wat talle knieë, enkels, nekke en skouers al heeltemal afgeskryf het).
Daar is sekere gewrigte wat baie selde aangetas word deur osteo-artrose nl. die gewrigte in die kneukels, die polsgewrig, die tempero-mandibulêre gewrig (kakebeen) en die sakro-ileakgewrig.
Ander gewrigsvernietigende siektes sluit in: jig (wat uriensuurkristalle in die gewrigte vorm wat uiters pynlik is), rumatoïede artritis, en ook siektes waar daar senuwee- aantasting is (onder andere diabetes) wat dan die gewrig onbeskerm laat en blootstel aan degenerasie – byvoorbeeld, ‘n voet sonder gevoel wat oormatig gebruik word doen gou skade op.
Die effek van Vetsug op osteo-artrose:
Een van my ortopediese vriende het altyd vir pasiënte wat groot in massa is en presenteer met osteo-artrose gesê:“Jy kan nie ‘n lokomotief op ‘n kruiwa stoot nie”.
Vetsug is ‘n risiko-faktor vir osteo-artrose van gewigdraende gewrigte en elke een punt verhoging van die massa-indeks (BMI) bo 27 dra ‘n 15% verhoogde risiko vir osteo-artrose. Aan die ander kant, elke een punt verlies van massa-indeks verbeter die siekte, pyn en funksie.
Die abnormale hoë druk op die gewigdraende gewrigte van ‘n swaar pasiënt stel inflammatoriese sitokiene vry en dit begin ‘n proses van inflammatoriese reaksie waar proteïene vrygestel word wat kollageen en ander boustowwe afbreek. Gevolglik word kraakbeen-afbraak versnel, en die opbou van kraakbeen vertraag.
Benewens die ekstra gewig wat die gewrigte moet dra, is daar ensieme en hormone wat verhoog in vetsug en wat bydra by tot die ontwikkeling van osteo-artrose – selfs in nie-gewigdraende gewrigte.
Osteoporose teenoor osteo-artrose:
Vroeërdae was daar klem gelê op die feit dat osteo-artrose en osteoporose die twee punte van ‘n spektrum is.
Iemand met osteoporose het sagte soepel been wat maklik breek, wat elasties is en wat skok en alle vorme van trauma goed absorbeer.
Daar is voorheen gesê dat pasiënte wat osteoporose het nie degenerasie kry van die gewrigte nie. Degenerasie kom meer voor by harde, nie- skokabsorberende been en daarom word hulle dus as die spektrum van ‘n siekte gesien. Dis egter ongelukkig nie heeltemal waar nie.
Behandeling:
Eerste moet ons in gedagte hou dat die behandeling is om die simptome van pyn en verminderde funksie te verbeter met medikasie sowel as ander maatreëls.
- Oefeningsprogramme, byvoorbeeld Pilates-oefeninge, kan die omvang en beweging van gewrigte baie verbeter, spierkrag verhoog, soepelheid aanhelp en pyn verlig.
- Pasiënte moet oefening doen wat hulle lewenslank kan volhou en wat hulle geniet. Daar is goeie bewys dat fietsry, swem, stap en joga saam met ander oefeninge die spiere versterk en osteo-artrose teenwerk. Gereelde oefening mag boonop help met gewigsvermindering en ook gemoedsverbetering.
- Gewigsverlies is krities belangrik en verbeter gewrigspyn en -funksie dramaties; dit verbeter kraakbeenstruktuur en verminder al die inflammatoriese merkers. Een van die belangrike redes hiervoor is omdat vetsug op sy eie inflammasie veroorsaak.
- Kundige raad deur podiaters, fisio-en arbeidsterapeute oor binne-sole, veranderde gewrigsdistribusie, hulpmiddels soos elastiese kniebeskermers, ‘n kierie/kruk/loopraam en handspalke kan ‘n groot verskil maak.
- Selfs akupunktuur of “dry needling”, termoterapie en transkutane elektriese stimulasie deur gemotiveerde pasiënte kan ‘n verskil maak.
Wat medikasie betref:
- Paracetemol is die eerste keuse. Dis ‘n veiliger middel as die meeste ander, en goed om pyn te verhoed en te verlig. ‘n Dosis van 4gram /dag is in reekse bewys om baie suksesvol pyn te verlig. ‘n Voorskrif wat ek gereeld gee is 1gram Paracetemol elke 6 ure vir ‘n maand lank en daarna na 1 Paracetemol tablet elke 6 ure. Dit is bewys om oor ‘n tydperk van 2 jaar net so goed, indien nie beter nie, as die non-steroïed inflamatoriese middel te wees.
- Sterk pynmedikasie wat saam met Paracetemol gebruik word soos Codeïen en Tramadol kan ook verligting gee van erge pyn, maar die newe-effekte moet in gedagte gehou en bestuur word.
- Nie-steroïed anti-inflamatoriese middels is baie effektief om nagtelike pyn en spierstyfheid te verlig, maar het baie komplikasies en newe-effekte. Dit veroorsaak vogterughouding wat veroorsaak dat die voete begin te swel, en die pasiënt kan in hartversaking in gaan. Daar is ‘n hoë insidensie van gastro-intestinale komplikasies soos ulserasies en bloeding sowel as perforasie en dermobstruksie. Maagsere (peptiese ulkusse) is algemeen. Dit kan sonder simptome wees, maar dit kan ook akute of chroniese maagbloedings met gevolglike bloedarmoede veroorsaak. Baie ouer mense is boonop op ‘n halwe Disprin per dag, wat die kanse op maagbloeding verder verhoog. Pasiënte met maagbloeding presenteer met bloedarmoede (ystertekort-anemie), en die diagnose word gemaak met gastroskopie.
- Nie-steroïed anti-inflamatoriese middels wat as velplakkers aangewend word, het goeie resultate met minder risiko vir bloeding.
- Die effektiwiteit van “neutraceuticals” soos glukosamien en kondrotoïen in osteo-artrose is nog nie duidelik bewys nie. Die meeste studies wys net ‘n matige verbetering in pyn, maar daar is studies wat gewrigsbeskerming bewys het. In ‘n onlangse 5-jaar studie, het pasiënte wat die middels gebruik het minder knievervangings nodig gehad as die wat dit nie gebruik het nie. ‘n Aanbeveling wat deesdae gemaak word is om vir die pasiënt glukosamiensulfaat saam met kondrotoïen vir 3 – 6 maande te gee. As daar nie simptomatiese verligting plaasvind nie, behoort dit gestaak te word.
- Inspuitings in die gewrig self met langwerkende steroïede asook ander middels is effektief gedurende inflammatoriese opvlamming en sommiges kan tot soveel as 6 maande effektief bly.
Chirurgiese behandeling:
- As geen mediese behandeling ‘n verskil kan maak nie, kan ‘n totale gewrigsvervanging oorweeg word, veral in pasiënte wat nagtelike pyn het en nie respondeer op pynstillers nie. ‘n Pasiënt wat ook nie in staat is om een stadsblok om te stap nie en nie een vloer se trappe kan klim nie, kan verbeter met gewrigsvervanging. Die heupvervanging het die grootste suksessyfer van hierdie reeks operasies, en staan hiervoor soms bekend as die “operasie van die dekade”. Heupvervangings maak dit moontlik vir mense wat na ‘n heupfraktuur permanent bedleênd sou wees om weer te kan loop – hoewel ‘n kunsgewrig natuurlik nooit so goed soos ‘n gesonde, natuurlike gewrig is nie.
- ‘n Baie algemene operasie is om in die knie te kyk en dit binne “skoon te maak” (‘n artroskopie) en dit is goed bewys dat dit hoegenaamd van geen waarde is nie en nie gedoen behoort te word vir osteo-artritis nie. (Dit is wel baie goed waar die kraakbeen in die knie beskadig is en daar ‘n los fragment in die knie is wat pyn en funksionele probleme veroorsaak).
- Die algemene gewrigdegenerasie wat by vroue voorkom – pyn in die gewrig van die duim, die sg huisvrou-duim – kan chirurgies behandel word, selfs met gewrigsvervanging.
Daar is nuwe horisonne in osteo-artrose en heelwat navorsing word gedoen. Soos ons die oorsake beter verstaan, kom nuwe behandelingsmoontlikhede na vore.
VOORKOM DIT!
Ons het reeds baie van die antwoorde oor hoe om osteo-artrose te voorkom, en ‘n belangrike aspek van voorkoming is om die risiko van inflammatoriese siekte uit te skakel:
- Beheer jou gewig
- Moenie rook nie!!! (Dis ook ‘n algemene oorsaak van osteoporose by vroue.)
- Voorkom en beheer diabetes
- Hou cholesterol binne perke
- Beheer die bloeddruk
- Wees aktief!
- Pas jou liggaam op terwyl jy jonk is en vermy beserings. (Ongelukkig gee SA se nasionale sport aanleidimg tot ernstige gewrigsbeserings wat vroeg reeds lei tot ernstige, debiliterende osteo-artritis).