Mense dink dikwels aan hulleself as ‘n kombinasie van individuele organe en verloor die breë prentjie van hoe ons fantastiese liggame werklik funksioneer, uit die oog. Geen orgaan funksioneer onafhanklik nie en geen siektetoestand bestaan in isolasie nie. Die liggaam is die beste voorbeeld van ‘n interafhanklike stelsel – ‘n volmaakte ekosisteem. Alle dele waaruit die liggaan bestaan moet goed werk vir optimale funksionering. As een lid ly (maak nie saak watter een nie) ly al die lede saam.
Hooflynfunksies
- Die ontwerp: genetika (die dubbel heliks waarop al ons genes geleë is, die oorerflike eienskappe wat bepaal hoe ons lyk, hoe ons organe aanmekaargesit is, wat elke orgaan doen, en hoe die liggaam homself handhaaf) en stamselle, die basiese entiteite van sel-lewe wat in enige liggaamsel kan ontwikkel vir vernuwing en herstel.
- Hoe is die liggaam aanmekaargesit (anatomiese raamwerk: embriologiese agtergrond (die ontwikkelingsfases waardeur die baba vanaf konsepsie gaan totdat ‘n volmaakte klein mensie gebore word), skelet, spiere, spierpese, gewrigte)
- Hoe funksioneer die verskillende dele gesamentlik om te oorleef:
- “Sourcing” en voedselinname: die sintuie (sien, ruik, proe) en die spysverteringskanaal, met die vertering en verwerking van voedsel om al die basiese voedingstowwe te verskaf wat die liggaam nodig het om te ontwikkel, te groei en te funksioneer; die mikrobioom.
- Sirkulatoriese netwerk: vervoerstelsels: die uitgebreide bloedvatstelsel wat elke uithoek van die hele liggaam bereik: die arteries met serum (waarin voedingstowwe en minerale opgelos is) en bloedselle (wat o.a. suurstof vervoer) wat deur die hart NA die organe en liggaamselle geneem word, en die venes wat die “opgebruikte” bloed weer terugvoer na die hart om van voor af deur die longe en spysverterigstelse gepomp te word om weer gelaai te word.
- Metaboliese stelsels: skepping van energie, kragbronne, die uitruil van glukose, aminosure en minerale oor die selmembrane heen.
- Energieverbruik/verbranding: longe en suurstofvervoer; die rol van die sinusse.
- Beheerstelsels en “surveillance”: basiese outomatiese reflekse wat die liggaam beskerm teen skadelike omstandighede; terugvoermeganismes, senuweenetwerk wat impulse vervoer, die brein as bevelshoofkwartier.
- Die toesighouers: immunologiese stelsel wat monitering en “surveillance” behartig, wat kieme, virusse en vreemde selle identifiseer en die kettingreaksie aan die gang sit om dit te beveg.
- Die boodskappers: oordragstowwe en sinapse wat die brein se boodskappe dra; sistemiese en lokale hormone wat deur die brein beheer word en wat organe laat ontwikkel en funksioneer; T-selle wat die boodskappers is van inflammasie en immuunsiektes (die liggaam se spioeneringsnetwerk)
- Instandhouding: inflammasie, nekrose, apoptose, outofagie; die meganismes waardeur siektes en beserings gesond gemaak word, en hoe die liggaam stukkende of ou weefsel hergebruik (“re-cycle”) om himself aanhoudend te herstel en te vernuwe.
- Die aksiespanne: wie doen wat: skelet en al die spiere (willekeurige spiere dryf die lokomotorstelsel, en onwillekeurige spiere dryf die onderhoudstelsel, d.w.s die spiere in die dermkanaal wat die derminhoud deur die dermkanaal stoot, die hartspier en die klein spiervesels in die bloedvatwande wat saamtrek om die bloed ongelooflik vining deur die are te jaag, sfinkterspiere (kringspiere) wat buise dig laat sluit, soos die sfinkterspier aan die ondereinde van die slukderm wat keer dat kos terugstoot vanaf die maag, en die rektum (die sluitspier aan die einde van die dermkanaal wat ons in staat stel om die lediging van die dikderm te reguleer en waarsonder geen sosiale lewe moontlik is nie) .
- Vullisverwyderaars en herwinningsaanlegte (dermkanaal, niere, vel, longe; hergebruik van bestaande beskikbare boustowwe)
- Detoks: die vergiftigingseksperts: lewer en longe wat gif en nadelige stowwe afbreek en uitskei (bv alkohol , koolsuurgas), metabolisme wat stowwe verwerk en onskadelik maak.
Wat is die doel en nut van hierdie fantastiese organisasie?: Ek, die individu, wat leef, dink, voel, geniet, funksioneer, skep.
Wanneer enige van hierdie stelsels in versaking gaan, is ons in groot moeilikheid. Beskadiging van die hart (afsterf van weefsel wanneer die hartspier van suurstof ontneem word, soos met afsluiting van ‘n koronêre bloedvat na ‘n bloedklont), lei tot hartversaking wat die pomp-aksie benadeel; beskadiging van die niere, weereens deur gebrek aan surstof, of as gevolg van vergiftiging deur giwwe of medikasie, lei tot nierversaking met die ophoop van ureum en kreatinien in die bloed wat dan dialise benodig; versaking van die beenmurg veroorsaak dat die lewensnoodsaaklike bloedselle nie meer vervaardig word nie, ensovoorts.
Die tragedie van breinpatologie: wanneer die bevelshoofkwartier nie meer in bevel is nie, stort alle beheer in duie en ons word gelaat met organe wat lukraak funksioneer sonder orde of doel .
Die konteks van my lewe: In die hele kosmos is daar, sover bekend (ten spyte van wetenskaplikes se volgehoue soektog na ander vorms van lewe in die ruimte) net een plek waar lewe soos ons dit ken, moontlik is: die klein blou planeet wat ons AARDE noem. Ons alleen in die uitspansel haal asem en besit intelligente, rasionele denke (ongelukkig soms baie irrasioneel en onnadenkend!) en skeppende vermoë.
Die mens is volgens ons wete die enigste wat ‘n ekstra dimensie aan die lewe het, naamlik ‘n siel/gees/ wat morele kodes en etiese norme handhaaf. Wanneer hierdie dimensie handuit ruk, lei dit tot misdaad teen ons medemens, morele verval, die ignoreer van etiese beginsels en chaos.
Wat maak ons met hierdie liggaam?
Hoe versorg en beskerm ons dit, en hoe wend ons ons indrukwekkende (?skrikwekkende) breinvermoëns met kosmiese dimensies, aan? En wat maak ons met hierdie gees?
(Die indeling van liggaamstelsels soos hier uiteengesit, kom gedeeltelik uit die boek “Human Physiology, an integrated approach”, deur Dee Silverthorn, uitgewers Prentice Hall)