Alzheimer se siekte: Navorsing oor voorkoming en behandeling

By | 16 Julie 2017

In “Die Burger” van 10 Mei 2017 skryf Dr Heinz Mödler oor die baie aktuele probleem van Alzheimer se siekte (bl. 11).  Sommige vroeë tekens daarvan word genoem, insluitende agteruitgang in taalgebruik en persoonlike versorging, die neiging om te verdwaal in voorheen bekende plekke, geheueverlies, ensovoorts. Hy noem ook dat alle navorsing oor medikasie om dit te verhoed op niks uitgeloop het nie.

Helping the Elderly

Daar is oor baie jare uitgebreide navorsing gedoen om medikasie te soek om Alzheimer se siekte te voorkom of te behandel.  Miljoene dollars is daaraan spandeer, sonder sukses. Die Scientific American van April 2017 meld dat 200 verskillende eksperimentele middels oor die afgelope 30 jaar getoets is sonder dat een daarvan bewysde verbetering teweeg kan bring.

Dit is tekenend van die hedendaagse Westerse benadering dat alles met ‘n pil reggedokter moet kan word.  Dit lei tot ons huidige mediese model waar mense op soveel as 20 verskillende soorte chroniese medisynes is.

Dit is ’n feit dat die mediese wetenskap wonderlike deurbrake gemaak het in die voorkoming en behandeling van akute siektes (die eertydse epidemies van aansteeklike bakteriële siektes is so te sê uitgewis deur antibiotika of inentings, en akute beserings word uitstekend behandel), maar  in die behandeling van chroniese simptome en siektetoestande is daar veel minder oplossings.

Mense leef deesdae langer as ooit tevore in die Westerse wêreldmodel, en om honderd te haal is nie meer so uitsonderlik nie. Dit beteken dat die aantal bejaardes in Westerse lande aan die toeneem is. Daar word selfs bespiegel dat die meerderheid van babas wat vandag gebore word ouer as 100 jaar kan word. Die probleem is dat die laaste jare baie dikwels gekenmerk word deur  fisieke en geestelike agteruitgang, met swak lewenskwaliteit en ‘n toenemende las op reeds ontoereikende  gesondheidsorg en versorgingsoorde.

Daar is egter wel lig in die tonnel.  In dieselfde Scientific American word eksperimentele navorsing in Finland en Swede ( bekend vir hulle uitstekende mediese rekordhouding wat oor ‘n mens se hele leeftyd strek) beskryf wat ‘n definitiewe verskil in nie net fisieke nie, maar veral ook intellektuele vermoëns maak.

Providing care for elderly

Die verbetering van  vermoëns van die eksperimentele groep het die van die kontrolegroep oortref met 83% in uitvoerende aktiwiteite, 150% in die tyd nodig vir intellektuele take, en 40% in die uitvoering van moeilike geheue-uitdagings soos om lang lyste te onthou. Die eksperimentele groep het ook baie minder agteruitgang oor tyd getoon as die kontrolegroep.  Self die mense wat ‘n geneties hoër risiko vir Alzheimer se siekte het, het dieselfde goeie resultate getoon.

Die program wat hierdie groot verbetering in die eksperimentele groep teweeggebring het, sal geen leser van hierdie blog verbaas nie. Hierdie groep het onder toesig ‘n program van gereelde oefening, gesonde eetgewoontes en aktiewe intellektuele stimulasie gevolg.

Hierdie eksperiment lig ook een van die groot probleme in die versorging van ons bejaardes uit: wanneer daar vir oupa en ouma plek gekry word in ‘n aftree-fasiliteit of versorgingsoord (die nuwe sagter name vir ‘n ouetehuis) is die kinders tevrede, want hulle ouers is nou veilig en versorg. Die oorgrote meerderheid van hierdie fasiliteite bied egter geen programme vir die instandhouding van gesondheid en intellek nie (ja, daar is wel ‘n bussie wat hulle dokter toe en hospitaal toe sal aanry,  hulle pille word soos klokslag uitgedeel, en iemand sal hulle bloeddruk moniteer op daaglikse basis).  Daar is ontstellende ooreenkomste tussen verblyf in ‘n tronk en in ‘n versorgingsoord.

Elderly couple stretching

Die eksperimentele program in Finland en Swede bewys weereens dat “common sense” in die behoud van jou gesondheid en ‘n lewenslange verantwoordelike lewenswyse , die verskil in lewenskwaliteit op jou oudag (en selfs heelwat vroeër al) gaan maak.

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui