Spastiese Kolon / Prikkelbare Dermkanaalsindroom

By | 14 Februarie 2016

Verreweg die meerderheid mense wat langdurige las het van maagpyn se probleem is te wyte aan ‘n spastiese kolon, of te wel prikkelbare dermkanaal- sindroom (PDK).

Die maagpyn kan krampagtig wees, of brandend van aard; soms skerp steekpyne, of stadige krampe wat erger en dan weer beter word, soms ‘n dowwe aanhoudende pyn.  Die pyn voel dikwels beter na ‘n besoek aan die toilet of passering van ‘n wind.

Dit kan gepaard gaan met ‘n verskeidenheid ander simptome soos diaree, hardlywigheid (of wisselende diaree en hardlywigheid), ‘n gevoel van opgeblaasdheid of buikopsetting, winderigheid,  dispepsie (gevoel van slegte spysvertering).  Dit bly soms vir maande lank weg en begin dan weer. Sommige mense het diaree sonder of met min  pyn, met soms slym by die stoelgang.

Rektale bloeding is nie deel van die sindroom nie, maar langstaande hardlywigheid kan aambeie veroorsaak wat dan soms bloei (altyd helder rooi bloed).  As rektale bloeding donker of swart is, is daar ander patologie, nie te wyte aan PDK nie, en dit moet verder ondersoek word.

PKD kom meer algemeen voor by meisies en vroue, maar mans spring dit nie vry nie.   By vroue kan dit gepaard gaan met sistemiese simptome soos hoofpyne, duiseligheid, moegheid, verlies van konsentrasie, angstigheid.

Die oorsaak van PDK is onseker, maar dit loop dikwels in families.  Al is dit ‘n algemene toestand, weet ons nie veel daaroor nie.  Dit hang dikwels saam met emosionele spanning en dit kan vererger word deur sommige voedselsoorte (wat wissel  –  mense sal self sê wat met hulle akkordeer en wat nie).  Dit kan gepresipiteer word deur ‘n episode van infeksie. Sommige mense het las daarvan as hulle te min vesel eet, ander weer as hulle te veel vesel eet.

Die rol van die mikrobioom in die funksionering van die dermkanaal  word al meer prominent.

Die hardlywigheidsvariant is dikwels die lastigste.  Dit verbeter dikwels met dieetaanpassing en inname van meer vesel (in die vorm van groentes en slaaie, soms semels byvoeg, of die sg “stool bulking agents”).  Begin geleidelik met aanpassing en vermeerder soos jou liggaam daaraan gewoond raak.

Soms kan medikasie soos krampwerende middels help en soms verbeter dit met sedeermiddels of anti-depressante, alhoewel lg. medikasie nooit die eerste linie of selfs die tweede linie van behandeling is nie.

Die emosionele komponent is dikwels die moeilikste om te behandel.  PDK kom dikwels voor by perfeksioniste wat hoë eise aan hulleself stel en wat ‘n spesifieke persoonlikheidstipe het.  Lewenstylaanpassing en verandering van denkwyse is hier belangrik.  Dit is ook nodig om ander siektetoestande met soortgelyke simptome uit te skakel.

PDK is ‘n lewenslange toestand wat nie genees word nie, maar wat “bestuur” moet word. Vermindering van stres, of verandering van lewensomstandighede los dikwels die probleem op.  Dit is nie ‘n gevaarlike toestand nie en veroorsaak op sigself nie patologie nie  –  die derm sal nie ruptuur nie, dit veroorsaak nie kanker of ernstige komplikasies  nie.  Gerusstelling dat daar nie ernstige onderliggende patologie is  nie, help dikwels om al klaar beter te voel.

Vir meer inligting, sien hierdie artikel uit die UpToDate databasis: Irritable bowel syndrome (Beyond the Basics)

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui