Tuberkulose (TB)

By | 30 Mei 2013

Tuberkulose is baie algemeen in Suid-Afrika, maar hoe raak dit my? (Sien ook “My kinderoppasser het TB – wat nou?!”.

Tuberkulose is ‘n infektiewe siekte wat baie algemeen voorkom, en wat dodelik kan wees indien dit nie doeltreffend behandel word nie.

Ongeveer ‘n derde van die totale wêreldbevolking is met tuberkulose besmet, en die omvang daarvan is sodanig dat dit as ‘n wêreld-epidemie geklassifiseer is.  Suid-Afrika het die twyfelagtige eer om die wêreldrekord te hou vir die hoogste insidensie van TB, nl. 1000 per 100,000 van die bevolking.  Die sterftesyfer bly hoog ten spyte van grootskaalse beskikbaarstelling van inligting daaroor, en volgehoue pogings om dit te diagnoseer en te behandel.

Die siekte word veroorsaak deur ‘n kiem (Mycobacterium tuberculosis) en dit kan op verskeie maniere opgedoen word.

Die algemeenste (en bekendste) vorm is tuberkulose van die longe, en ‘n mens kan dit kry as gevolg van inaseming van geïnfekteerde druppeltjies wat uitgehoes word deur iemand met die aktiewe siekte.  Die kiem kan selfs as dit droog is, lank oorleef, en in ‘n land waar dit ‘n gewoonte is om op straat uitgehoesde slym op die grond te spoeg, is die kieme dikwels in die lug wat ons inasem, teenwoordig.  Mense wat verbyloop en hoes op ander wat by restauranttafeltjies in malls en op sypaadjies sit en eet, mense wat agter jou staan en hoes in ‘n tou, siek mense wat sit en hoes op ‘n vliegtuig of bus met swak of her-ventilasie van lug, kan alles bydra tot infektering.

Tuberkulose tas veral die longe aan waar dit ernstige weefselskade met soms groot holtes in die longweefsel veroorsaak.  Hierdie pasiënte hoes ‘n groot hoeveelheid kieme uit en is veral baie aansteeklik.  Tuberkulose kan egter in letterlik enige orgaan in die liggaam voorkom, soos in die breinvlies (tuberkulose meningitis, ‘n gevreesde siekte by veral babas en kinders, wat breinskade kan veroorsaak), die brein self, die skelet, die dermkanaal, die urinêre stelsel en selfs kleiner organe.Coughing woman

TB van die dermkanaal word veroorsaak deur melk van TB-besmette beeste te drink.  Dit was voor die era van die pasteurisasie van melk algemeen, maar kom deesdae selde voor.  Feitlik alle diere is vatbaar vir tuberkulose, en ons weet dat dit bv in die Nasionale Kruger Wildtuin ‘n groot probleem onder veral leeus en buffels is.

Vroeë simptome is moegheid, nagsweet, ‘n droë hoes (by longinfeksie) en gewigsverlies.  Mense met onderdrukking van die immuunsisteem is meer vatbaar daarvoor (mense met HIV; ook ander chroniese siektes, pasiënte wat immuunonderdrukkende medisyne kry soos vir kanker, Crohn se siekte, ulseratiewe colitis, rumatoïede arthritis).

In Suid-Afrika het ‘n baie groot aantal VIGS-pasiënte dus ook tuberkulose.

Die diagnose kan gemaak word deur:

  • sputum te ondersoek (die slym wat opgehoes word)
  • ‘n PKR-bloedtoets te doen
  • X-strale van die longe
  • Soms word die diagnose gemaak op ‘n weefselbiopsie, wanneer die siekte op ‘n ongewone plek voorkom.

Ons probeer om alle babas reeds net na geboorte in te ent teen tuberkulose met die BCG-entstof.  Dit gee ‘n redelike mate van beskerming.  Die inentingsprogram wat by alle klinieke beskikbaar is, moet getrou gevolg word.  Nie net vir tuberkulose nie, maar ook vir ander aansteeklike siektes (kinkhoes, witseerkeel, tetanus, masels ens.).

Toestande wat bevorderlik is vir die verspreiding van tuberkulose is:

  • Ondervoeding
  • Swak sosio-ekonomiese omstandighede waar ‘n groot aantal mense in klein woonplekke saamwoon
  • Swak ventilasie in woonplekke
  • Aanhoudende nat, klam weer met min sonlig (soos in die Wes-Kaapse winter)
  • Mense wat nie eenvoudige maatreels volg nie.  Dit sluit in:
    • ‘n hand voor die mond te sit as hulle hoes nie, verkieslik met die mond teen die skouer te hoes
    • nooit in iemand se gesig te hoes nie
    • en hande gereeld te was.  .

In die verlede was daar geen behandeling vir tuberklose nie en groot getalle mense het daaraan gesterf.  Dis hartverskeurend om te lees hoeveel mense steeds jaarlikse sterf as gevolg van TB.  Dit sluit in van die bekendste skrywers, digters, musici en politici (google “people who died from tuberculosis”) in die geskiedenis.

Gelukkig is TB deesdae maklik om te behandel en is daar goeie medikasie beskikbaar, maar die behandeling duur baie lank, ten minste 6 maande, soms selfs langer.  Gewoonweg kan volwassenes behandel word met ‘n kombinasie van middels, waarvan bv Rifafour ‘n voorbeeld is.  Medikasie kan gratis by alle staatsklinieke gekry word.  Daar is spesifieke protokolle uitgewerk waarvolgens pasiënte behandel word en dis BAIE belangrik om die medikasie ELKE DAG te neem en die kursus volledig te voltooi. Sien ook die artikel oor die gevare van antibiotika.

Ons groot probleem is dat, indien pasiënte nie die medikasie korrek gebruik nie, die tuberkulosekieme ‘n weerstand daarteen opbou.  Ons kry nou in SA die gevreesde MDR (multi drug resistant) TB wat mense baie siek maak en uiters moeilik is om te behandel.  Hierdie is oorwegend ‘n siekte van VIGS-pasiënte, en in hulle geval is dit so te sê onbehandelbaar en dikwels dodelik, maar daar is reeds heelwat gevalle waar dokters, verpleegsters en gesondheidswerkers dit by pasiënte aangesteek het.

2 thoughts on “Tuberkulose (TB)

  1. amarcia

    ek soek al geruime tyd vir inligting wat verstaanbaar is ,my huishulp het en ek wil vir haar gee om te lees. sy beweer dit kom van die bakproses van pasteie ,skilferkors deeg wat baie botter bevat, nou kan sy sien dit is ‘n kiem wat jy kan inasem, of dalk inkry soos saam rook wat baie van hulle doen om sigaret aan te gee.dankie vir die inligting.

    Reply

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui