Gesondheid, Geloof, Hoop en Liefde

By | 24 Mei 2012

Die grootste daarvan is die Liefde.

Dr Dean Ornish het beroemdheid verwerf danksy sy baanbrekerswerk wat bewys het dat dit moontlik is om hartvatsiektes te behandel, en selfs die skade wat dit gedoen het aan die liggaam om te keer deur middel van ‘n gesonde lewensstyl.

Ornish word gereken as een van die mees invloedryke dokters van ons tyd.*  Sy aanvanklike boeke – onder andere Stress, Diet, & Your Heart (1983) en Eat More, Weigh Less (1993) – laat baie klem val op sy opspraakwekkende dieet, bekend as die Ornish dieet.

In 1998, enkele jare na sy egskeiding van sy eerste vrou, publiseer Ornish (nog) ‘n fassinerende boek met die titel Love & Survival: The Scientific Basis for the Healing Power of Intimacy. In hierdie boek maak Ornish die volgende stelling: “I am not aware of any other factor in medicine that has a greater impact on our survival than the healing power of love and intimacy. Not diet, not smoking, not exercise, not stress, not genetics, not drugs, not surgery.”


Ornish noem in hierdie boek dat studie op studie getoon het dat mense wat alleen, depressief en geïsoleerd voel ‘n dramaties groter kans het om siek te word en voortydig te sterf – nie net weens hartvatsiektes nie, maar ook weens feitlik enige ander denkbare rede – as diegene wat ‘n ‘sense of connection’ en liefde ervaar, asook deel vorm van ‘n gemeenskap.

Een van die vele studies wat aangehaal word is uitgevoer by die Universiteit van Texas. Navorsers het twee vrae gevrae aan pasiënte wat geskeduleer was om opehart-chirurgie te ondergaan, naamlik:

  1. Is jou geloof vir jou ‘n bron van krag? (Ongeag watter geloof ter sprake was.)
  2. Behoort jy aan enige groep of klub wat gereelde ontmoetings het?

Van diegene wat ‘nee’ geantwoord het op beide vrae het 21% binne 6 maande na die chirurgie gesterf teenoor slegs 3% van diegene wat ‘ja’ kon antwoord op die vrae.

Dit is opsig self nie verbasend dat mense wat depressief en alleen voel swakker gesondheid ervaar nie. Hierdie groep mense is immers baie meer geneig om hulself te wend tot gedrag wat hul gesondheid benadeel, soos die gebruik van oormatige hoeveelhede akohol, ongesonde eetgewoontes, die rook van sigarette en selfs selfmoord. Hulle vermoë om stres te hanteer is ook ingekort en sodoende word hulle makliker oorweldig en afgetakel deur die probleme van die lewe.

Studies wat lewensstyl-faktore in ag neem toon egter dat die beskermende effek van aspekte soos liefde en geloof dieper strek as bloot die manier waarop dit ongesonde gewoontes teëwerk.

Soos met baie ander lewensstylfaktore is daar gelukkig baie wat ons elkeen kan doen om die hoeveelheid liefde en betekenis wat ons ervaar te vermeerder. Die volgende is aangepas uit Ornish se ‘Ornish Spectrum’ program:

  1. Spandeer tyd saam met vriende en geliefdes.
  2. Voer eerlike en opregte gesprekke waar jy jou ware gevoelens deel, na ander se sienings luister en hul gevoelens respekteer.
  3. Raak betrokke by ‘n groep of klub van enige aard, soos byvoorbeeld ‘n kerkgemeenskap, bybelstudiegroep, boekklub, rolbalklub, ens.
  4. Wees bereid om vergiffenis van ander te vra en ook ander te vergewe wat jou te na gekom het.
  5. Reik uit na ander en raak betrokke by gemeenskapsprojekte. Wanneer jy ander mense help en dien verswak jy die houvas van gevoelens soos alleenheid en geïsoleerdheid op jou lewe.
  6. Psigoterapie deur ‘n knap terapeut kan jou help om struikelblokke in jou lewe aan te spreek sodat jy makliker kan uitreik na, en ‘connect’ met ander mense.
  7. Gebruik fisieke aanraking in toepaslike verhoudings in jou lewe. Fisieke kontak is ‘n kragtige teenvoeter vir gevoelens van alleenheid en geïsoleerdheid.
  8. Koester die verhoudings in jou lewe. Intieme verhoudings met ander vra dat ons bereid sal wees om ons weerloosheid aan ‘n ander persoon te ontbloot. Dit verg moed en is virdie meeste van ons nie maklik nie.
  9. Raak gereeld stil en beoefen gebed en/of meditasie.

Dit is maklik om te besluit dat jy sal aandag gee aan vriende, verhoudinge en jou geloofslewe nadat jy genoeg gewerk het aan die ‘belangrike’ dinge in die lewe, soos jou beroep, studies, dieet, oefening en so meer. Tyd is immers ‘n beperkte bron. Wanneer ‘n mens egter kyk na die verskil wat geloof, hoop en liefde maak aan beide die kwalteit van lewe asook aan gesondheid en lewensverwagting, dan is hierdie duidelik eintlik die belangrike dinge in die lewe.

“The most important things in life aren’t things.” – Anthony J. D’Angelo

Is dit nie interessant dat moderne navorsing dus eindelik ontdek het hoe geweldig belangrik die liefde is nie, net soos wat Paulus soveel jare gelede reeds geskryf het: “En nou bly geloof, hoop, liefde — hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” (uit 1 Kor 13:1)

*  Kliek gerus hier om te kyk na die indrukwekkende lys van toekennings wat aan hom toegeken is.


Addisionele leesstof:

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui