Ek is Dokter Francois Retief se Kuberkaptein, met ander woorde die persoon wat hy aangestel het om die blog te bestuur. Ek is sy oudste dogter en het self ‘n mediese agtergrond. Dokter Retief se vrou (my ma), wat ‘n dokter en mediese skryfster is, is ook betrokke by die blog.
Die leserstal het oor die afgelope jaar baie toegeneem en dit is vir my ‘n riem onder die hart om te sien hoe die artikels gelees word. Baie dankie vir die waardering wat u uitspreek.
Die blog het tans ‘n funksie wat dit moontlik maak om kommentaar te lewer op artikels. Alle opmerkings word gestuur na my epos adres en eers geplaas nadat ek dit gelees het. Ek hanteer kommentaar wat gelewer word as volg:
- Opmerkings wat terugvoer gee op ‘n blog artikel of wat addisionele nuttige inligting oor ‘n onderwerp gee, word gewoonlik binne ‘n dag of twee nadat ek dit ontvang het geplaas.
- Lesers vra dikwels vir algemene mediese inligting oor ‘n spesifieke siektetoestand. In die verlede het Dok Francois baie moeite gedoen om sulke vrae te probeer beantwoord, maar ek het gou besef dat dit onmoontlik is vir hom is om hiervoor tyd te maak in sy vol program, veral namate die blog se leserstal toegeneem het. Tans neem ek kennis van hierdie vrae, maar ek stuur dit nie dadelik vir Dok Francois aan nie. Eers wanneer daar ‘n paar vrae oor dieselfde onderwerp gevra is, noem ek aan Dok Francois dat daar ‘n behoefte is na meer inligting en dan skryf hy op ‘n latere stadium daaroor.
- Soms vra ‘n leser wat reeds een of meer dokters gekonsulteer het oor ‘n spesifieke probleem Dok Francois vir ‘n tweede (of derde of vierde of .. ) opinie. Soms word die vraag gevra namens ‘n familielid of vriend. Dit is ongelukkig nie moontlik om ‘n diagnose of mediese opinie te gee op grond van ‘n paar sinne in kuberruimte nie. Ek stuur dus nooit sulke vrae vir Dok Francois aan nie.
Dok Francois se blog het ontstaan om te voorsien in die groot behoefte aan praktiese, betroubare, verstaanbare, mediese inligting wat in Afrikaans geskryf is. Die blog gee slegs algemene inligting, nie diagnoses, individuele oplossings of persoonlike antwoorde nie.
Belangrik: Vir enige spesifieke simptome, siektes of probleme, maak asseblief ‘n afspraak by u huisdokter.
Ek hoop om binnekort ‘n gesprekforum te skep, ‘n verwikkeling waaroor ek baie opgewonde is! Dit sal dit vir julle moontlik maak om gesprekke te voer oor die blogartikels. Dit sal ook ‘n ruimte skep waarin julle mekaar kan ondersteun, persoonlike ervarings kan deel, raad kan uitruil en gebedsversoeke aan mekaar kan deurgee. Hou dus die blog dop vir terugvoer hieroor!
Groete,
Marina la Grange
Dok Francois se Kuberkaptein
Baie dankie vir afrikaanse verstaanbare mediese inligting. Ek geniet hierdie blog. Baie insiggewend. Hou aan met jul goeie werk!!!!!
Ek was bevoorreg om Dokter Francois die afgelope naweek te ontmoet. Nou nie gustige omstandighede nie, maar tog. Ek was opgeneem in Mosselbaai Privaat hospitaal vir ‘n AF kondisie. Hy het my kondisie en omstandighede in ag geneem en die korrekte besluite geneem. Ek sien uit om meer van sy blog te lees. Ek is nou weer tenvolle herstel.
Mag ek vir dokter raad vra op hierdie blog????? Dankie
Goeiedag Tina, ek is Dr Retief se kuberkaptein. Ek behartig dus die administrasie en IT aspekte van hierdie blog.
Soos hierbo verduidelik kan Dr Retief ongelukkig geen persoonlike vrae antwoord op hierdie blog nie. Behalwe vir die moontlike etiese en regsprobleme wat kan spruit uit mediese opinies en diagnoses oor die internet, het Dr Retief ‘n besige praktyk en kry hy nie die tyd om al die vrae en opmerkings op die blog te lees nie.
Ek stuur dus GEEN spesifieke vrae oor simptome of siektes vir Dr Retief aan nie, soos wat ek hierbo noem.
Vir enige spesifieke simptome, siektes of probleme, maak asseblief ‘n afspraak by u huisdokter, of relevante spesialis (indien u reeds deur ‘n spesialis opgevolg word).
Groete,
Marina