Ondersoeke vir maag- en dermkanaalsiektes

By | 15 Oktober 2017

Stomach Jigsaw Puzzle Pieces Abstract‘n Groot verskeidenheid simptome en siektes setel in die dermkanaal, en die ondersoek hiervan sluit ‘n wye verskeidenheid diagnostiese velde in.

Die wegspringplek is altyd om te luister na die pasiënt se beskrywing van presies hoe die probleem beskryf word.  Dan volg ‘n gewone fiesiese ondersoek, en op grond hiervan sal die dokter besluit watter verdere ondersoeke, indien enige, nodig is. Die ervare geneesheer sal dikwels reeds met die aanhoor van die storie vermoed wat die diagnose gaan wees.

Alvarez het gesê: die dermkanaal is die klankbord van die mens se gees.

Aspekte van die dermkanaal wat ondersoek kan word:

  • Motoriese funksie:  Dit behels die peristaltiek (beweging) van die spierkomponente.
  • Absorpsie-funksie: Tipies word dit ondersoek deur laboratoriumondersoeke.
  • Immunologiese funksie:  Hier word gesoek vir kwaadaardighede of immuunsiektes.
  • Bloedsirkulasie in die dermkanaal: Dit word deur vloeistudies, soos angiogramme, ondersoek.
  • Die mikrobioom:  Hier word deur middel van laboratoriumondersoeke gesoek vir verskillende infeksies.

Hol organe (derms) word endoskopies  (met ‘n lang buis met ‘n kamera vooraan wat ‘n beeld op ‘n rekenaarskerm projekteer) ondersoek.  Soliede organe (lewer, niere, kliere) word daarteenoor deur sonars en skandering ondersoek.

  1. DIE MOND, SLUKDERM (ESOFAGUS) EN SLUKPROSES.

Probleme op hierdie vlak kom veral voor by babas,  bejaardes, breinbeseerdes en bedlêendes. Dink ‘n bietjie watter ingewikkelde meganismes kom in werking wanneer ons die alledaagse handeling uitvoer van kos in die mond plaas, dit kou en dit sluk.

As die lippe nie mooi dig sluit nie (bv verlamming van gesigspiere na ‘n beroerte) kan daar met moeite gesluk word en die kos loop by die mond uit.

Terwyl ons kou, moet die boonste deel van die slukderm dig sluit sodat ons kan aanhou asemhaal terwyl ons kou, maar die kos nie in ons longe beland nie.  Die oomblik wanneer gesluk word, moet die  boonste sfinkter (kringspier) oopmaak, die spier van die esofagus moet sekwensieel saamtrek (die peristaltiese golf) en die kos afvoer na die maag, die onderste sfinkter moet op die regte tyd oopgaan, die boonste een moet toegaan (om te keer dat kos weer teruggestoot word na die mond), en die kos moet in die maag ingestoot word.  Teen daardie tyd is ons al weer druk aan die kou en sluk, en met kitskos en kits-afsluk geskied die hele proses in rekordtyd (dis die dat kitskos gewoonlik vetterig is, of bedien word met tamatiesous, sodat dit vinniger kan afgaan).

Hierdie mooi gesinchroniseerde proses kan op enige plek verkeerd loop.

Overweight woman eating a burger while watching tv

Disfagie (die gevoel dat die kos vassteek in die keel), kan dui op ‘n vertraging op enige van die bg vlakke, en kan te wyte wees aan:

  • so ‘n voor-die-hand-liggende probleem soos dat die kos nie goed genoeg gekou en stadig genoeg geëet word nie;
  • die feit dat mense wat op hulle rug in die bed lê en nie swaartekrag aan hulle kant het nie, moeiliker sal sluk;
  • dat daar fout is met die peristaltiese golf weens ‘n spierprobleem;
  • of dat daar vernouing aan die ondereinde van die slukderm is en die laer esofageale sfinkterspier nie mooi oopmaak nie, bv. as daar littekenweefsel (fibrose) ontstaan het weens iets soos langdurige sooibrand.

Die ondersoeke wat hiervoor gedoen kan word, is ‘n sluk-evaluasie deur ‘n spraakterapeut, ‘n gastroskopie waar die dokter direk na die binnekant van die slukderm en maag kan kyk, ‘n manometriese studie wat spesifiek die peristaltiese golf meet (dis nie orals beskikbaar nie), en ‘n bariumsluk (deesdae word eintlik nie meer barium gebruik nie, maar ander radio-opaak vloeitowwe).

In die Bybel is verskillende verwysings n a die ongemak wat die dermkanaal vir ‘n verskeidenheid van denkers en skrywers veroorsaak het.  Ons lees byvoorbeeld van Jeremia se jeremiades en van Timoteus wat so las gehad het van sy maag dat Paulus vir hom met spesifieke raad daarvoor geskryf het en so vir die nageslag iets gegee het om oor na  te dink. In die Bybel is 39 verwysings na die maag en derms, onder andere na mense wie se maag hulle afgod is.

2)  DIE MAAG

‘n Verskeidenheid van patologie kan hier voorkom:  esofagitis (irritasie of letsels in die slukderm), ‘n mantelvliesbreuk, gastritis (ontsteking van die maagslymvlies), ‘n maagseer of duodenale ulkus, of kanker.

Die beste ondersoek van die maag is ‘n gastroskopie, waar die dokter direk met die gastroskoop kan kyk wat aangaan, en met ‘n klein tangetjie weefselmonsters (biopsies) kan neem vir verdere ondersoek in ‘n laboratorium.

patient at a reception at the endoscopist

Soms is ‘n  bariummaal van hulp (en word ook gebruik as gastroskopie-fasiliteite nie bekikbaar is nie).

3) DIE DUNDERM (ILEUM)

Die ileum is sowat 7 meter lank en is ‘n lang gekronkelde orgaan wat binne die buikholte opgevou lê.  Hier vind absorpsie van al die verteerde voedingstowwe plaas en dit word met die bloed vervoer na waar dit nodig is vir direkte gebruik, of waar dit gestoor moet word vir later (bv. in die lewer of die vet-store).

Patologie wat in die dunderm kan voorkom, sluit in:

  • obstruksie, dikwels a.g.v  ‘n fibrotiese band wat ontstaan het na ‘n vorige operasie en nou die derm toedruk; ‘n inflammatoriese swelsel soos by Crohn se siekte, of ‘n kankergewas
  • bloeding

Die ileum kan nie met ‘n gewone kamera-endoskopie bygekom word nie. Daar is wel ‘n sg. kapsule-endoskopie beskikbaar, waar die pasiënt ‘n kapsule sluk wat letterlik ‘n klein kamera in het.  Hierdie klein kamera reis dan reg deur die dermkanaal en stuur die hele tyd beelde uit van wat hy sien, wat met ‘n rekenaar gevolg word om te kyk waar die probleem is. Dis ‘n duur en skaars ondersoek wat  op min plekke beskikbaar is, en wat met die huidige tegnologie min antwoorde gee gemeet teen die koste daarvan.  Hierdie duur stukkie toerusting word vir ooglopende redes net een keer gebruik.

 X-strale gee die diagnose van obstruksie, maar nie die oorsaak nie, en dikwels loop dit dan uit op ‘n operasie om die oorsaak te bevestig en te verwyder.  ‘n Barium-deurvolging kan ook help.

Wanneer ‘n pasiënt bloeding uit die dermkanaal het wat nie van die maag of kolon af kom nie (soos bv wanneer ‘n pasiënt herhaaldelik presenteer met yster-tekort anemie (bloedarmoede) word soms ‘n radio-isotoopstudie gedoen.  ‘n Klompie  radio-isotoop gemerkte bloedselle word vir die pasiënt ingespuit,  en die buik word dan geskandeer om te kyk of en waar die bloed “lek” uit die dermkanaal.  Hierdie stadige “lek” kan gebeur vanuit ‘n versameling van klein bloedvaatjies in die slymvlies van die derm, wat ons angiomata noem.  (Angiomata kan op enige slymvlies voorkom, ook in die maag en dikderm, maar daar sal dit sigbaar wees met ‘n endoskoop.)

4) DIE DIKDERM (KOLON)

Hierdie ou groot orgaan se gemiddelde lengte is 187 cm, dus amper 2 meter.  Die kolon is berug vir  ‘n groot verskeidenheid patologie en kan baie ongemak, pyn en lyding veroorsaak:  spastiese dikderm (seker een van die algemeenste oorsake vir maag- of dan buikpyn), ulseratiewe kolitis, Crohn se siekte, divertikels (“blasies”) en dan poliepe of kanker.

Die rol van die kolon is om vloeistof te herwin uit die vloeibare verteerde kosmengsel wat daar arriveer na die lang tog deur die ileum. Die kolon begin in die sekum, regs in die onderbuik, waar die blindederm (appendiks) ook sit. Daarvandaan word die voedselreste deur peristaltiese golwe voortgestoot na die rektum, terwyl die vloeistof geabsorbeer word sodat daar aan die eindpunt ‘n vaste mengsel is waarvan te gelegener tyd ontslae geraak kan word.

Indien die kolon sy vermoë om vloeistof te absorbeer verloor, soos wanneer die slymvlies inflammatories raak in gastroënteritis, ulseratiewe kolitis, of  infektiewe siektes (soos chlolera of voedselvergiftigig), het ons nie alleen uiterste ongemak nie, maar dis potensieel dodelik; nie as gevolg van die siekte self nie, maar as gevolg van dehidrasie en die groot hoeveelheid vog wat verloor word.

Die grootste vreesfaktor van die kolon is egter die ontstaan van kolonkanker, wat een van die algemeenste kankers in eerstewêreldlande is. Kolonkanker loop dikwels in families, en as daar enige direkte familielid is wat dit ontwikkel het, is dit raadsaam om jou te laat ondersoek. Die voorloper van kolonkanker is ‘n poliep/poliepe wat in die slymvlies (mukosa) ontstaan.

Darmkrebs

Kolonkanker, soos gesien tydens ‘n kolonoskopie

‘n Poliep is ‘n groeisel wat in slymvliesweefsel  ontstaan (dit kan in enige slymvlies ontstaan, soos ook in die maag, neus en sinusse). ‘n Poliep kan plat bly en net weerskante toe uitbrei, of dit kan op ‘n steeltjie sit.  Poliepe in die kolon het altyd die potensiaal vir maligniteit en sal met verloop van tyd baie dikwels kwaardaardig word.  Dit is dit dan ook een van die mees voorkombare kankers (bo en behalwe nog die feit dat kolonkanker tot ‘n groot mate as ‘n lewenstylsiekte beskou word wat dikweld deur ‘n verantwoordelike lewenstyl voorkom kan word).

Poliepe kan met ‘n kolonoskopie gediagnoseer word en dikwels sommer deur die endoskoop heeltemal verwyder word in die vroeë stadium.  In die VSA word aanbeveel dat alle mense bo 50 jaar ‘n kolonoskopie moet kry vir hierdie rede. ‘n Goeie reël is om, as ‘n naby familielid van jou gediagnoseer is met kolonkanker, te gaan vir ‘n kolonoskopie op ‘n ouderdom 10 jaar voor die ouderdom van hulle diagnose.

Die kolon word ook ondersoek waar ‘n pasiënt presenteer met ystertekort anemie, wat daarop dui dat oor ‘n lang tyd stadig êrens bloeding plaasgevind het. In so ‘n geval word ‘n gastroskopie en kolonoskopie dikwels terselfdertyd gedoen. Bloeding kan van verskeie plekke af gebeur, bv van aambeie (dan gewoonlik rooi bloed) , angiomata, divertikels, poliepe of kankers (dan soms donker bloed, of geen sigbare bloed). ‘n Toets vir okkulte (onsigbare)bloed vanuit die dermkanaal kan by ‘n laboratorium gedoen word as daar so ‘n vermoede bestaan.

Die ondersoek van keuse vir enige kolonpatologie is dus ‘n kolonoskopie.  Onder sekere omstandighede kan ‘n bariumkliesma (enema) gedoen word.

Waar daar reeds ‘n kwaadaardigheid gevind is, sal verdere ondersoek gedoen word soos bv ‘n buiksonar (om te sien of daar reeds verspreiding na die lewer of kliere is), ‘n RT (radiotomogram),  of ‘n MRI (magnetiese resonans skandering),  wat ‘n baie duurder ondersoek is, maar ‘n uitstekende idee gee van watter organe betrek is en die omvang daarvan.

Die dermkanaal is een van ons grootste en belangrikste organe, beslis die een waarvan ons deurlopend die meeste bewus is. ‘n Pasgebore baba se eerste behoefte is melk, en die laaste belangstelling van bejaardes is dikwels wat op die dag se spyskaart is. Dis die basiese rede hoekom mense in die eerste plek werk vir ‘n inkomste,  en kos lê op die basis van Maslow se behoefte-hiërargie.

Die hele bedryf van wat bo in, en wat onder uit,  maak nie net ‘n belangrike deel van mense se dag uit, nie, maar van die ekonomie en politiek van die hele wêreld.  As dit op enige plek skeef loop, veroorsaak dit ongemak, pyn of siekte.

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui