UK is deel van ‘n groep siektetoestande wat inflammatoriese dermkanaalsiektes (IBD – ‘Inflammatory Bowel Disease’) genoem word. Die ander tipe is Crohn se siekte.
Let op dat, as jy op die internet oor hierdie siektes oplees, die afkorting IBD gebruik word vir hierdie inflammatoriese dermkanaalsiektes, en dat IBD geen verband het met die afkorting IBS (‘Irritable bowel syndrome’), wat gebruik word vir wat ons ‘n spastiese kolon noem, nie.
Ulseratiewe kolitis (UK) is ‘n siektetoestand waar die voering (mukosa) van die kolon (dikderm) inflammasie ontwikkel met ulsera (sere) wat bloeding en diaree veroorsaak. Hierdie inflammasie betrek altyd die rektum en die onderste deel van die kolon, maar dit kan die hele kolon aantas.
Ulseratiewe kolitis kan nie genees word nie, maar kan wel beheer word sodat hierdie pasiënte normaalweg met hulle lewens kan voortgaan.
Crohn se siekte veroorsaak ook chroniese diaree, maar nie bloeding nie.
Oorsake
Die oorsaak van UK en Crohn se siekte is nie bekend nie. Wanneer iemand met die genetiese moontlikheid vir hierdie siektetoestande blootgestel word aan ‘n sogenaamde sneller (“trigger”), word die immuunsisteem geaktiveer. Die immuunsisteem identifiseer dan verkeerdelik die mukosa van die kolon as vreemde weefsel en val dit immunologies aan, wat inflammasie tot gevolg het. Laasgenoemde veroorsaak dan dat die mukosa sere en bloeding ontwikkel.
Let wel: Inflammasie is nie gelykstaande is aan infeksie nie: infeksie is wanneer daar kieme/bakterieë bykom in die area van inflammasie. So ook ontstaan inflammasie normaalweg in ‘n area waar kieme in die liggaam ingekom het. Daar kan egter ook inflammasie wees in ‘n area waar daar geen kieme/bakterieë teenwoordig is nie.
Daar is dus ‘n genetiese agtergrond, d.w.s. dit loop in families, alhoewel dit ‘n redelik swak verband het (10 – 30% van pasiënte het ‘n ouer of sib wat ook IBD het).
Die omgewing speel ook ‘n rol, bv. infeksies, maar die verband is onduidelik.
Simptome van Ulseratiewe Kolitis
Simptome van UK kan gering, matig of erg wees, en kan afwisselend voorkom.
Dermkanaalsimptome: in matige aantasting is dit intermitterende bloeding, afskeiding van slym, diaree, matige krampagtige buikpyn, gevoel van drukking, en dit kan afgewissel word met episodes van hardlywigheid.
Met erge aantasting: 10 of meer episodes van bloederige diaree per dag, ook in die nag, anemie (bloedarmoede) as gevolg van die aanhoudende bloedverlies, buikpyn (soms baie erg), koors en gewigsverlies.
Soms ontwikkel hierdie pasiënte ook inflammasie buite die kolon, veral aantasting van die groot gewrigte (knieë, heupe en rug) met swelling en pyn; soms inflammasie in die oë, vel lewer, en (selde) die longe.
Simptome van Crohn se Siekte
Algemene simptome is buikpyn, diaree, moegheid, gewigsverlies, fistels vanuit die dermkanaal en absesse (laasgenoemde twee kom net by Crohn se siekte voor en nie by UK nie).
Net soos by UK kan simptome buite die dermkanaal ook voorkom, veral
- Sere in die mond (afteuse stomatitis) op die kante van die tong, selfs in die slukderm
- Oog-inflammasie (uveïtis en scleritis) in 5% van pasiënte, in een of beide oë, wat pyn, brandgevoel, dowwe visie of ligsensitiwiteit kan veroorsaak
- Anale komplikasies: fissure, skeurtjies, fistels (waar ‘n klein “tonnel” deurbreek vanaf die binnekant van die dermkanaal en op die vel open, met derminhoud wat deurlek), en mettertyd anale stenose (vernouing van die dermkanaaluitgang). Anale proleme klaar soms vanself op, maar benodig dikwels medikasie.
Indien jy enige van hierdie simptome ervaar, gaan spreek jou dokter. Sommige erge gevalle benodig die hulp van ‘n Gastroënteroloog. Indien onvolledig behandel, kan hierdie siekte lewenskwaliteit baie erg benadeel.
Diagnose
UK of Crohn se siekte word vermoed wanneer genoemde simptome teenwoordig is, en word bevestig deur ‘n kolonoskopie te doen, weefselmonsters van die mukosa te neem, en dit histologies te identifiseer.
In Crohn se siekte is dit belangrik om weefselmonsters te neem van die dunderm (die duodenum, via ‘n gastroskopie; en veral van die terminale ileum, die laaste gedeelte van die dunderm voor dit open in die dikderm, via ‘n kolonoskopie).
Waar UK die kolon (dikderm) aantas, en veral die onderste gedeelte van die kolon, kan Crohn se siekte op enige plek in die dermkanaal voorkom, vanaf die slukderm tot in die anus. Die teenwordigheid van fistels asook aantasting van die dunderm kom nie by UK voor nie, en is diagnosties van Crohn se siekte.
Behandeling van UK
Die teiken met behandeling is eerstens om die simptome op te klaar (remissie te bewerkstelling) , en tweedens om te verhoed dat simptome weer ontwikkel (relaps). Hierdie is dikwels frustrerende siektes met onwelkome episodes van relaps. Ongeveer 15 % van pasiënte met UK het net een aanval en daarna nooit weer nie. Crohn se siekte is die erger variant wat oor jare meer probleme veroorsaak, en indien dit nie behandel word nie kan die inflammasie in die derm veroorsaak dat die derm vernou.
Dieet in UK
Dis soms moontlik vir die pasiënt self om agter te kom watter kossoorte die simptome vererger. Hier is ‘n lys van kossoorte wat simptome mag vererger, maar dit wissel baie van mens tot mens. Kyk dus wat die beste vir jou werk.
Melk, alle melk-bevattende produkte, insluitende laktose-vry melkprodukte, insluitende alle kaassoorte, roomys, joghurt, room, kaaskoek, sjokolade, koek, pasteikorse.
- Produkte wat kaffeïen bevat: koffie, tee, kola-drankies.
- Alkoholprodukte.
- Vrugte en veral vrugtesappe.
- Skerp speserye en marinades.
- Alle sg. dieet-produkte met sintetiese versoeters, ook kleur- en geurstowwe.
- Gebraaide en kitskosse, roerbraai-geregte.
- Geurmiddels insluitende tamatiesous, mosterd, mayonnaise, slaaisouse.
- Volgraan brood en alle suurdeeggebak.
- Groentes soos kool, blomkool en broccoli.
- Peulgroentes: boontjies, ertjies, lensies.
- Rooi vleis.
- Vleissouse, sop, vulsels wat meel en verdikkers bevat.
- Mielies en springmielies.
- Kosse wat sorbitol, fruktose of “corn syrup” bevat.
- Hierdie kossoorte kan so vinnig as 5 tot 15 minute na inname simptome begin veroorsaak soos diaree, krampe, buikpyn, naarheid, winderigheid en opgeblaasde gevoel, sooibrand ens. Dieselfde simptome kan voorkom by mense met ‘n spastiese kolon (lg het egter nooit bloederige stoelgang nie).
Pynmedikasie
Die hele reeks van NSAID’s (sogenaamde ‘non-steroïed’ anti-iflammatoriese middels, wat veral vir pyn en artritis voorgeskryf word, (met name soos Voltaren, Ibuprofen, Naproxen) kan simptome baie vererger of ‘n akute relaps veroorsaak.
Laktose-intoleransie
Laktose–intoleransie kan voorkom by ulseratiewe kolitis en kan diaree, krampe of winderigheid veroorsaak.
Yster-toediening
Yster-toediening kan ook n terugval induseer.
Medikasie en Chirurgie
- Matige simptome: lokale medikasie soos ‘n kliesma (enema), setpil of skuim kan rektaal ingeplaas word. Dit bevat medikasie soos 5-ASA of steroïede (kortisoon), wat die inflammasie verbeter. Saam daarmee kan medikasie soos sulfasalazine per mond geneem word. Die simptome verbeter dan gewoonlik binne 3 weke. Tot 90% mense sal hiermee in remissie gaan, en tot 70% mense sal in remissie bly. Gewoonlik is lewenslange instandhoudingsmedikasie soos 5-ASA (Asacol) nodig om remissie te behou.
- Erge simptome: benodig dan gewoonlik ook kortisoon wat gegee kan word per mond, as ‘n setpil, of as ‘n skuimpreparaat. Kortisoon per mond kan lastige simptome veroorsaak, veral vermeerderde aptyt met gewigstoename, aknee, vogretensie, bewerigheid, gemoedsversteuring en moeilikheid om te slaap. Dit word dus net vir ‘n kort tyd gegee, en die dosis word dan geleidelik verminder.
- Wanneer hierdie behandelings nie effektief is nie, word immuunonderdrukkende middels soos 6-mercaptopurien en azathioprine bygevoeg. Dit kan 3 tot 6 maande duur vir hierdie middels om die meeste voordeel te gee.
- Indien nog nie goeie resultate verkry word nie, is daar middels soos cyclosporine (baie toksies, gee lewerskade) of die nuwere (baie duur) biologiese middels soos Revellex of Humira.
- ‘n Laaste uitweg is ‘n kolektomie, waar die kolon chirurgies verwyder word. Daar is 2 moontlikhede: a) die hele kolon word verwyder, met ‘n permanente ileostomie, waar die laaste gedeelte van die dunderm op die buikwand uitgebring word en die person dan ‘n kolostomie-sakkie dra om die derminhoud op te vang, of b) meer algemeen, waar die dunderm aan die anus geheg word sodat kontrole oor dermlediging behou word. Soms word die operasie in twee stadia gedoen. Lg. het die risiko dat ulseratiewe kolitis steeds in die ondereinde van die rektum kan opvlam.
UK en Kolonkanker
Mense met UK het ‘n groter risiko vir kolonkanker. Hoe langer die siekte teenwoordig is en hoe meer van die kolon aangetas is, hoe groter die risiko. Dis dus raadsaam om opvolg kolonoskopies te laat doen soos aanbeveel deur jou dokter.
Swangerskap
UK stel net die baba in gevaar indien dit aktief of akuut is. Daarom moet die swangerskap verkieslik onder kundige toesig deurgevolg word. Die risiko van die medikasie is klein behalwe methotrexaat wat kongenitale afwykings kan veroorsaak.
Behandeling van Crohn se Siekte
Lewenstylaanpassing
Dieselfde algemene maatreëls as vir UK geld wat betref dieet, pynmedikasie, laktose-intoleransie en yster-toediening.
Drie baie belangrike waarskuwings:
Rook vererger Crohn se siekte en kan die risiko vir chirurgiese ingrepe verhoog. Staak dus!
- Moet onder geen omstandighede enige NSAID (non-steroïed anti-inflammatoriese pynmedikasie) drink nie. Dit veroorsaak baie erge relaps, selfs waar die siekte onder goeie beheer was.
- Crohn se siekte verhoog die risiko vir kolonkanker, afhanlik van die area van aantasting en hoe lank die siekte teenwoordig is. Hoor by jou dokter hoe dikwels ‘n kolonoskopie nodig is.
Medikasie
Afhangende van die erns van die simptome sal die dokter medikasie voorskryf soos 5-ASA, anti-biotika, kortisoon, immuunmoduleerders ( azathioprine, 6-mercaptopurine of methotrexate), en dikwels biologiese middels soos Infliximab (Revellex) of Adalimumab (Humira)
Waar biologiese middels voorgeskryf word, moet ons onthou dat dit die immuunsisteem as ‘n geheel onderdruk en mens meer vatbaar maak vir ander infeksies. Ou tuberkulose-letsels kan ook opvlam, en daar moet voor getoets word voordat die behandeling kan begin.
Chirurgie
Voor die huidige modêrne behandelings beskikbaar was het dit dikwels gebeur dat pasiënte herhaalde dermobstruksies gekry het waarvoor ‘n gedeelte van die dunderm dan verwyder moes word. Op die lang duur het dit gelei tot wanvoeding omdat die dele van die dunderm, waar absorpsie van voedingstowwe plaasvind, verwyder moes word. Deesdae vermy ons buikobstruksie ten alle koste deur simptome betyds te behandel om die volle lengte van die dunderm te behou.
Waar net die kolon aangetas is, word chirurgiese verwydering van die aangetasde deel soms oorweeg. Die problem met Crohn’s is egter dat die aantasting dan hoër op in die derm kan hervat.
Hierdie inligting is saamgestel vanuit: verskeie mediese handboeke, Up to Date–pasiënte-inligting, asook persoonlike ondervinding.