Inligting oor ‘n Gastroskopie

By | 15 Oktober 2017

Hierdie ondersoek kan in ‘n hospitaal, of in sommige spesialiste se spreekkamer gedoen word.  Om alles mooi te kan sien, moet die maag heeltemal leeg wees.   Die dokter sal vir u presiese aanwysings gee vir hoe lank nie geëet mag word nie, wanneer om aan te meld en ander nodige inligting. Maak ook seker dat u die nodige magtiging by u mediese fonds kry.patient at a reception at the endoscopist

Die gastroskoop is ‘n lang, buigbare buis met ‘n kameratjie aan die voorpunt, wat dan ‘n baie duidelike vergroting van die beeld op ‘n rekenaarskerm projekteer.  Hierdie buis word baie versigtig deur die mond, af in die keel, deur die maag, tot in die duodenum (eerste deel van die dunderm) gestoot.  Soms sal ‘n weefselmonstertjie (‘n biopsie) met ‘n klein biopsietangetjie geneem en na die laboratorium gestuur word vir verdere ondersoek onder die mikroskoop. ‘n Biopsie kan ook in ‘n chemise jellie geplaas word om te toets vir die teenwoordigheid van Helicobacter pylori.

Die ondersoek self duur gewoonlik net ‘n paar minute en word gewoonlik gedoen onder sedasie in die vorm van ‘n binne-aarse inspuiting. Hierdie inspuiting is baie effektief, en veroorsaak ook na die tyd vertraging van reflekse en kortstondige geheueverlies.  Die pasiënt moet dus vergesel word deur ‘n volwassene wat teenwoordig kan wees by die bespreking daarna, en wat die pasiënt weer by die huis kan besorg. Weens die vertraging van reflekse is dit nie toelaatbaar om vir minstens agt ure daarna self ‘n motor te bestuur nie.  Onthou dat daar regsimplikasies aan verbonde is.

‘n Gastroskopie is ‘n baie veilige prosedure wat baie selde komplikasies het.  ‘n Bietjie ongemak in die keel mag daarna voorkom.  ‘n Allergiese reaksie op die inspuiting is ‘n teoretiese moontlikheid, maar is uiters skaars.

Sien ook die artikel Ondersoeke vir maag- en dermkanaalsiektes.

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui