Helicobacter pylori: Die “Kiem” in die maag

By | 13 Junie 2015

Helicobacter pylori (H. pylori) is ‘n bakterie wat reeds eeue lank in die mens se dermkanaal teenwoordig is en dit vorm dus deel van die menslike mikrobioom.

Die belang van H. pylori vir die pasiënt is dat, indien die pasiënt ‘n chroniese duodenale ulkus (‘n tipe “maagseer”) het, hierdie ulkus nie sal genees tensy die H. pylori uitgeroei word nie. Gevolglik is dit ‘n organisme wat dikwels voor die voet uitgeroei word wanneer dit gediagnoseer word, maar soos met alles rakende die liggaam en gesondheid is die saak nie so eenvoudig nie.

Hierdie organisme speel waarskynlik, soos alle dermkanaalflora, ‘n belangrike rol in die liggaam, alhoewel dit nie altyd so duidelik is wat daardie rol is nie.

Indien H. pylori uitgeroei word by pasiënte wat sooibrand kry, vererger hulle sooibrand.
Helicobacter Pylori - Stomach
Nog interessante feite oor Helicobacter pylori:

  • H. pylori kan gevind word in die maag van Egiptiese mummies.
  • Dit is teenwoordig in alle bevolkings oor die wêreld, maar verskillende variante kom in die verskillende bevolkingsgroepe voor.
  • Meer as 50% van die wêreldbevolking het H. pylori in hulle maag, maar meer as 80% van hulle het geen maagsimptome nie.
  • Van die 20% wat wel simptome het, is die simptome meestal te wyte aan ander toestande van die dermkanaal soos sooibrand, spastiese dikderm, hardlywigheid ens.
  • By pasiënte met H. pylori in die Westerse opset is daar ongeveer 10% wat die gevaar loop om ‘n peptiese ulkus te ontwikkel.
  • H. pylori kan net in ‘n baie suur omgewing oorleef.
  • “Helico” verwys na die Griekse woord vir ‘n spiraal; bakter dui daarop dat dit ‘n spiraalvormige bakterie is; pyloros beteken hekwagter: die pilorus is die hekwagter tussen die maag en die duodenum (dunderm).
  • Drr Barry Marshall en Robin Warren het in 2005 die Nobelprys vir Medisyne ontvang vir hulle werk in die 1980’s om die organisme te identifiseer, te kweek en te beskryf.
  • Daar is ‘n baie lae assosiasie tussen die teenwoordigheid van H. pylori en maagkanker, alhoewel daar gastroënteroloë is wat glo dat dit in sekere bevolkingsgroepe ‘n beskermende rol teen maagkanker speel.

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui