Waarheen dan met PPIs (protonpomp-inhibitore)?

By | 29 Julie 2017

question-mark-2123967_960_720Die artikel oor die langtermyngebruik van protonpomp-inhibitore (handelsname sluit in Altosec, Losec, Nexium, Omez en vele meer) het heelwat navrae uitgelok.  Ek gee graag meer inligting daaroor.

Die maag is as’t ware die hekwag van die hele dermkanaal en reguleer dus ‘n groot aantal van die aksies in die dermkanaal.   Ons het maagsuur vir ‘n goeie rede.  Indien maagsuur permanent afgeskakel word, is dit vanselfsprekend dat daar newe-effekte sal wees.

Om met die natuur in te meng is nie altyd ‘n goeie plan nie, maar soos met alle soorte medikasie moet die  voor- en nadele versigtig teen mekaar opgeweeg word wanneer PPIs oorweeg word.

Die rol van maagsuur:

  • Dit steriliseer die inhoud van wat ons eet deur skadelike kieme in en op kos dood te maak. Mense wat byvoorbeeld op reis is, waar hulle met ander soorte kos en voorbereidingsmetodes in aanraking kom en terselfdertyd PPIs drink, kry makliker dermkanaalongesteldhede soos diaree.Die dunderm moet steriel wees om die absorpsie van voedingstowwe toe te laat, onder andere  kalsium, Vit D, B12 en yster,  As daar bakterieë in die dunderm is, soos wanneer die maagsuur nie voldoende is nie, kan hierdie stowwe nie geaborbeer word nie en bestaan die risiko van voedingstekorte en gebreksiektes.
  • Maagsuur is nodig in die verteringsproses van proteïen. Maagsuur denatureer die struktuur van proteïen en gee verteringsensiemes kans om hulle werk te doen.Suur is ook nodig vir die omskakeling van die onaktiewe ensiem pepsinogeen na die aktiewe  vorm van die ensiem, naamlik pepsien, wat noodsaaklik is vir die vertering van proteïen.
  • Suur skakel die vrystelling van somatostatien vanuit die D-selle aan, wat weer deel is van die negatiewe terugvoer wat maagsuur, gastrien en pepsinogeen inhibeer. Die verteringsprosesse is deel van ‘n goed gebalanseerde sisteem.

Maagsuur (HCl) word deur die pariëtaalselle, wat diep in die gastriese klierstruktuur van die maagmukosa geleë is, afgeskei. Een tot soveel as drie liter maagsuur per dag kan deur hierdie selle afgeskei word, en kan ‘n pH van so laag as 1 in die maaginhoud tot gevolg hê.  Die sitoplasmiese pH van die pariëtaalselle is ongeveer 7.2, wat beteken dat hierdie selle die waterstof-ione (proton) waarvan suur gemaak word pomp teen ‘n gradiënt wat ‘n ongelooflike 2.5 miljoen keer so gekonsentreerd is as die waterstof konsentrasie binne-in die selle. Dis hierdie protonpomp wat geïnhibeer (afgeskakel) word.

Balance Concept

Hierdie waterstof-ione (H) word verkry uit die water (H2O) in ons liggame, en die hele proses werk volgens  ‘n ingewikkelde biochemiese aksie waarvolgens die verskillende ione in balans gehou word.

Die protonpomp-meganisme wat die afskeiding van maagsuur bewerkstellig werk ook in ander selle in die liggaam, o.a. die brein en niere.  ‘n Protonpomp-inhibitor werk nie selektief op die maag nie, maar het ‘n effek oral in die liggaam waar hierdie sel-meganisme ‘n rol speel.

In die brein is suur nodig om beta-amiloied op te los.  Beta-amiloïed is die biochemiese verbinding wat blameer word vir die ontstaan van Alzheimer se siekte.  As jy suur in die liggaam blok deur ‘n PPI vir sooibrand te gebruik, hoop die amiloïed in die brein op, wat die ontstaan van Alzheimer se siekte kan versnel.  Hierdie aksie is egter baie kleiner in die brein as in die maag, waar ‘n baie sterk suur gevorm word.

Beteken dit nou ek moet onmiddellik my PPI stop?

Kyk vir watter rede dit in die eerste plek voorgeskryf is. In die behandeling van sekere toestande speel PPIs wel ‘n belangrike rol, bv.:

  • stomach-icon-2316627_960_720Soms kry mense herhalende maagsere wat in bedwang gehou kan word deur ‘n PPI. Hierdie is die belangrikste indikasie vir die gebruik van ‘n PPI.  Voorheen was daar geen manier om chroniese maag-en duodenale ulsera onder beheer te bring nie.   Wanneer ‘n chroniese maagseer aktief begin bloei, kan dit behandel word deur ‘n hoë dosis binne-aarse PPI.  Dit laat die bloeding baie vinnig ophou.  (Onthou egter dat ‘n maagseer of duodenale ulkus nie sal genees by ‘n pasiënt wat aanhou rook nie)
  • By die sogenaamde Barrett se esofagus, waar suurskade aan die ondereinde van die esofagus in sekere gevalle die risiko vir slukdermkanker mag verhoog. Dit is ‘n toestand wat net gediagnoseer word as daar tydens ‘n gastroskopie ‘n biopsie geneem word en die histologie bevestig dat daar ‘n verandering in die slymvlies van die esofagus is.   Die risiko vir kanker is egter baie klein.  Daar word wel aanbeveel dat pasiënte met die diagnose van ‘n Barrett se esofagus gereeld met ‘n gastroskopie opgevolg moet word.
  • Soms skryf ‘n dokter ‘n PPI voor waar ‘n pasiënt herhaalde respiratoriese infeksies kry wat moontlik te wyte kan wees aan nagtelike refluks (maaginhoud wat in die slukderm opstoot). Dan moet ons weereens kyk hoekom daar refluks plaasvind en of die oorsaak uitgeskakel kan word (byvoorbeeld staak rook, moenie in die aand groot maaltye eet nie, vermy kossoorte en drinkgoed wat jy weet vir jou sooibrand gee).
  • Sommige mense het sulke onhanteerbare sooibrand dat dit oor jare as gevolg van fibrose ‘n stenose (vernouing) van die ondereinde van die slukderm veroorsaak.

Photorealistic illustration of human stomach with heartburn disease

Sooibrand kan dikwels voorkom word deur jou eetpatroon aan te pas (sien deel C van die artikel Hoe bly ‘n mens gesond? vir advies), gewig te beheer, diafragma fiks te hou, op te hou rook, en al die ander maatreëls wat reeds in hierdie blog bespreek is toe te pas.  In hierdie geval, regverdig die sooibrand NIE die gebruik van ‘n langermyn PPI op daaglikse basis nie.

As jy dan nou wel hardnekkige sooibrand het, drink ‘n tablet net wanneer jy regtig nie daarsonder kan klaarkom nie.  Moet dit nie elke dag drink nie, gee die liggaam kans om tussenin eers te herstel.

Wanneer ‘n mens oor ‘n langtermyn ‘n PPI gedrink het en dit dan staak, vind ‘n sogenaamde “rebound phenomenon” plaas wat konstante sooibrand veroorsaak.  Die liggaam het gewoond geraak aan die pille en probeer kompenseer.  Hierdie verskynsel duur gewoonlik ongeveer twee weke en klaar dan op. Moenie tydens hierdie tydperk in die versoeking kom om weer die gewoonte te hervat nie.

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui