Vitamien D

By | 29 Junie 2015

Free Happy Woman Enjoying Nature. Beauty Girl Outdoor.Ons sien deesdae onverwags Vitamien D-tekorte in gesonde sowel as siek mense.

Vitamien D (Vit D) bestaan in 2 vorms wat beide noodsaaklik is, veral vir gesonde beengroei. Vit. D 2 (ergocalciferol) is ‘ n vetoplosbare vitamien wat voorkom in dierlike vette, volroom suiwel en plantvette. Dit is veral volop in vis en visolie. Vit D 3 (cholecalciferol) word in die vel vervaardig wanneer sonlig op die vel skyn.

Gevolge van ‘n Vit D-tekort:

By kinders:  Onvermoë tot gesonde groei van die skelet. Neerlegging van kalsium is gebrekkig, sodat die hele skelet sag bly. Die lang bene in die arms en bene buig, die ruggraat verkrom, die hele skelet ontwikkel abnormaal. Beide gebrekkige dieetinname en te min blootstelling aan sonlig speel ‘n rol.

Die klassieke voorbeeld in mediese handboeke was altyd die lang donker Europese winters waar daar vir maande lank geen sonskyn is nie, en kinders veral in die stedelike agterbuurte nie genoeg Vit D in die dieet gehad het nie. Dit is skokkend dat ons deesdae hierdie siekte (“rickets”) sien in stede soos Johannesburg, waar klein kinders die hele dag lank net binnenshuis opgepas word en nooit in die son kom nie, saam met ‘n onvoldoende dieet. Die oormatige gebruik van sonblokroom blokkeer ook die vorming van in Vit D in die vel.

By volwassenes:  Osteoporose as gevolg van te min Vit D in volwassenes word genoem osteomalasie. Osteoporose is reeds baie algemeen veral by ouer vroue, (meer nog by rokers, mense wat hulle lewe lank onaktief was, en baie skraal vroue) en word deur ‘n Vit D-tekort vererger. Baie bejaardes kom nooit in die son nie, en die ouer vel is minder effektief om Vit D te vervaardig.

Depressie:  ‘n Ander gevolg van te min Vit D is depressie. Depressie is baie algemeen onder ouer mense, veral die in inrigtings, en kan baie verbeter word met Vit. D-aanvullings. Ons toets deesdae standaardweg ons ouer pasiënte vir Vit D-bloedvlakke, en tekorte is baie meer algemeen as wat eers vermoed was. Ons weet dat sonlig ons altyd opkikker en laat beter voel. Te min sonlig in ‘n lang koue winter speel ‘n groot rol in die “kollektiewe depressie” wat goed beskryf is in die Europese lande. Die winterreënstreke hier by ons het ook hierdie probleem.

Die behandeling is dus:

  • Sonlig op die vel op ‘n daaglikse basis, verkieslik op ‘n groot area, sonder sonblok vir 15 – 20 minute per dag.
  • Genoeg suiwelprodukte en dieetaanvulling waar nodig.

L.W.: ‘n Oormaat inname van Vit D as gevolg van te veel dieetaanvulling is toksies vir die liggaam en kan hiperkalsemie veroorsaak.

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui