Maagsere

By | 21 Junie 2015

Daar is verskillende soorte maagsere (let wel, nie ‘n “maagsweer”, soos sommige mense dink nie):

  • Gastriese erosie of ulkus:  Beskadiging van die mukosa (maagslymvlies, maagvoering) in die maag self kan lyk soos ‘n ulkus (seerplek) of ‘n erosie (net ‘n klein barsie) en veroorsaak matige simptome van ongemak en eetlusverlies. Dit kom mees algemeen voor wanneer salisilate (Disprin) of anti-iflammatoriese medisyne vir gewrigspyne (Voltaren, Coxflam ens.) ingeneem word, of oormaat alkohol, en kan lei tot bloeding in die maag. Oor die algemeen is dit stadige bloedverlies, dikwels onopgemerk, en op ‘n stadium begin die pasiënt moeg en kragteloos voel en die diagnose van bloedarmoede (anemie) word op die laboratoriumondersoek gemaak. Dit kan wel gebeur dat die bloeding skielik vererger, en die pasiënt sal oplet dat die stoelgang swart word. (Bloed wat uit die maag in die dermkanaal afbeweeg word verteer soos alle kossoorte).
  • ‘n Duodenale ulkus is geleë in die eerste deel van die dunderm, of in die maaguitgang self (‘n piloriese kanaal ulkus) en veroorsaak oor ‘n lang tyd buikpyn, dikwels snags, en die pyn verbeter met voedselinname. Dis baie pynlik, baie lastig, lei oor ‘n lang tyd tot gewigsverlies, en vererger onder stresvolle omstandighede. Dis ‘n chroniese toestand wat soms verbeter en dan weer opvlam, maar dit klaar selde spontaan op. In erge gevalle erodeer die ulkus in ‘n bloedvat in en veroorsaak ernstige maag bloeding, of die ulkus breek deur na die buikholte en veroorsaak peritonitis, of beskadig die pankreas met ernstige gevolge.
  • Kanker van die maag self kan begin met ‘n letsel in die maagslymvlies wat soos’n ulkus lyk, maar dui op ‘n dieper onderliggende probleem. Dit is aanvanklik pynloos, veroorsaak mettertyd al meer simptome (ongemak, eetlusverlies, gewigsverlies, toenemende pyn). Op ‘n laat stadium sal dit altyd bloeding veroorsaak.

Waar die fasiliteite beskikbaar is om ‘n gastroskopie te doen (waar ‘n lang buis met ‘n kameratjie vooraan deur die slukderm gestoot word tot in die maag) is die onderskeid tussen hierdie 3 duidelik. Wanneer kanker vermoed word, sal die dokter ‘n klein weefselmonster (biopsie) neem, wat onder ‘ mikroskoop ondersoek sal word om die diagnose te bevestig. Stomach Jigsaw Puzzle Pieces Abstract

Behandeling

  • Gastriese erosie of ulkus: staak die medikasie wat dit veroorsaak en gebruik medikasie om genesing te bevorder.
  • Duodenale ulkus: Hierdie voorheen ongeneeslike probleem kan deesdae heeltemal genees word.   Indien die pasiënt positief getoets het vir Helicobacter pylori word die organisme geëradikeer.  Chroniese voorskrif van ‘n protonpompinhibitor (Nexiam, Pantoloc, Losec, Lanzor en ‘n hele reeks generiese middels) kan dit heeltemal in bedwang hou, maar daar is ongelukkig ander newe-efffekte wat in ag geneem moet word.  Sien Waarskuwing: Langtermyn Gebruik van Protonpompinhibitore (PPIs) vir meer hieroor.
  • Indien kanker gediagnoseer word: in ‘n vroeë stadium kan die maag verwyder word; in later stadia word ander behandelingsmetodes probeer, dikwels sonder veel welslae.

Alarmtekens

Spreek jou dokter indien jy die volgende alarmtekens opmerk:

  • Bloed braak
  • Swart stoelgange
  • Chroniese pyn op die krop van die maag
  • Onverklaarbare gewigsverlies
  • Bloedarmoede op ‘n laboratoriumtoets.

One thought on “Maagsere

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui