Kinders moet geleer word om gesond te eet. Hulle kry dit ongelukkig oor die algemeen vanself reg om hulself vol te prop met ongesonde lekkernye, of hulle nou honger is of nie! (Hier is ‘n studie daaroor.)
Die vorige artikel (Deel 1) het bespreek hoe geweldig belangrik dit is om kinders gesonde eetgewoontes aan te leer. Dit het ook belangrike beginsels genoem wat elke ouer en versorger in gedagte behoort te hou tydens etenstyd of voordat ‘n kind snoepies ontvang.
Hierdie artikel gee wenke wat jou mag help om jou kind te leer om van gesonde kos te hou. Kinders verskil natuurlik dramaties ten opsigte van hul voorkeure en persoonlikhede, so dit verg geduld en oefening om die regte aanslag te vind vir ‘n spesifieke kind.
Praktiese wenke:
1. Sorg dat daar met elke ete ten minste twee of drie gesonde opsies is vir jou kind om van te kies. Indien hy honger genoeg is, sal hy hiervan eet. Moenie ‘n eindelose hoeveelheid opsies aanbied om te sorg dat die kind “darem net ietsie eet, al is dit dan ‘n Marie beskuitjie en slaptjips” nie.
2. Terwyl jy kosmaak, kan jy solank vir jou kind groente aanbied, byvoorbeeld wortelstokkies, bevrore ertjies (in die somer wil my kinders dit soms gevries hê!), patat, komkommer, pampoenstukke of klein tamatietjies.
3. Die volgorde waarin jy kos aanbied tydens ete is belangrik. “Honger is die beste kok”, so gee opsies waarvan jou kind minder hou eerste, byvoorbeeld groente of vleis. Gee vrugte agterna as poeding. Vrugte is gesond, maar matigheid is belangrik om te keer dat jou kind net die lekker soet vrugte op sy bord eet. Ek sny verkieslik vrugteslaai eers na ete terwyl almal saam kuier, speel of gesels om te verhoed dat dit my kinders se aptyt bederf.
4. Hou etes interessant en informeel. Danksy vandag se oopplan kombuise, kan kosmaak, etenstyd en gesinstyd alles saam gekombineer word in ‘n kombinasie wat werk vir jou gesin. Laat die kinders help kook, of in die kombuis speel terwyl kos gemaak word. Sodoende word jou kind gewoond aan die reuke van verskillende soorte kos.
5. Kleuters (en babas) het ‘n onkeerbare drang na speel en stimulasie. Moenie van hulle verwag om soos volwassenes stil aan tafel te sit en eet nie. Ek het in my kombuis roomysbakke gevul met ‘eetspeelgoed’. Alle klein verrassings wat kom uit Kersfeesklappers, partytjiepakkies, ens. beland in hierdie houers. Die kinders mag na my goeddunke tydens etes speel met hierdie ‘eetspeelgoed’.
6. Die bad is ‘n wonderlike plek om kleutertjies te voer. Ek voer feitlik elke aand my kleutertjies kos in die bad (hulle bad na aandete), veral as hulle nie veel aandete wou gehad het nie.
7. Sommige kleuters en kinders hou daarvan om self te eet. Ander verkies om gevoer te word. Wees sensitief daarvoor of jou kind gril vir vuil handjies of gefrustreed word met eetgerei. Help eers jou kind om gesond te leer eet; tafelmaniere kan later kom. Daar is ook niks daarmee verkeerd om ‘n kind te voer nie, maar voer hom slegs gesonde kos. As hy wil poeding hê, kan jy hom los om dit self te eet.
8. Kinders hou soms van koskombinasies wat jy mag vreemd vind. Laat hulle gerus eksperimenteer. Piesangwiele gesmeer met grondboontjiebotter is een van my dogtertjie se groot gunstelinge.
9. Ek dwing my kinders dikwels om ‘n eerste happie van hulle kos te eet! Kinders besluit maklik as iets vir hulle vreemd lyk om dit eerder nie te probeer nie. As hulle dit geproe het, eet hulle dit soms smaaklik op. As hulle die tweede happie weier, dan hoef hulle nie nog te eet nie. Smake moet aangeleer word. Deur ‘n kind te dwing om net een happie te eet, word die smaak hopelik (!) met verloop van tyd aangeleer.
10. Kinders moet nooit gedwing word om die laaste happie van hulle kos te eet nie. As die kind versadig voel, hoef hy nie verder te eet nie – al is daar net een laaste happie op sy bord oor.
11. Laat jou kind kompeteer vir kos! Navorsing dui daarop dat jonger kinders beter eet (minder ‘picky’) as oudste kinders. Dit het waarskynlik daarmee te doen dat jonger kinders kan sien dat kos opraak namate ouer boeties of sussies daaraan smul. Moenie skroom om (gesonde) kos wat jou kind nie wil hê nie vir ander gesinslede aan te bied nie, eerder as om dit te probeer bêre nie. Of eet dit sommer self op terwyl jou kind kyk! (Mits jy natuurlik nie al self verby jou eie versadigingspunt is nie.)
12. Moet nooit ‘n kind dwing om poeding, ongesonde ‘kos’ of lekkernye te eet nie. Moet hom nie eens dwing om daaraan te proe as hy nie lus het nie. As ‘n kind nie vir kos lus is nie, is daar rede om hom bietjie aan te moedig om ten minste daarvan te proe. Daar is nooit enige goeie rede om hom te dwing om iets te eet of drink wat ongesond is nie.
13. Eksperimenteer met eetgerei. Dalk sal jou kind meer hou van kos op ‘n rooi plastiek-lepeltjie? Of in in Minnie Muis bord? Skink melk in die teestelletjie se koppie en kyk of jou kind dan lus is daarvoor.
14. Spandeer eerder geld op interessante, gesonde, ‘luukse’ kossoorte, byvoorbeeld bloubessies, granate, aarbeie en ‘sugar snap peas’ as aan aanvullings. Tensy jou dokter ‘n spesifieke aavulling vir jou kind vir ‘n spesifieke rede voorskryf, kan jy jou gerus doof hou vir die eindelose hoeveelheid bemarkers van vitamiene en ander aanvullings waarmee jy amper daagliks te doen kry. Navorsing dui daarop dat baie van hierdie aanvullings geen voordele vir jou kind inou nie en sommige het selfs die potensiaal om skade aan te rig. Geen aanvulling kan ‘n gesonde eetpatroon vervang nie.
15. As organiese vrugte en groente nie jou sak pas nie, koop sonder aarseling die alternatiewe produkte. Daar is in ek geval nie voldoende rede om te glo dat organiese produkte noodwendig beter is nie. (Bron)
16. Moet NOOIT in die supermark lekkers koop vanaf die begeerlike rakke by die betaalpunt nie. Dit word ‘n gewoonte wat jy later nie kan vermy nie. As jou kinders weet dat jy nooit ingee tot ‘n neulery of ‘tantrum’ nie, dan sal hulle later weet om nie te vra nie. Vermy dit ook om honger of met honger kinders te gaan kruideniersware koop. Die uiteinde hiervan is voorspelbaar.
17. Wees sensitief vir die hoeveelheid advertensies vir gemorskos en ongesonde lekkernye waaraan jou kind bloot gestel word en vermy sulke advertensies waar moontlik. Probeer om jou kind vir hierdie rede so min as moontlik bloot te stel aan TV. DVDs, youtube videos en rekenaarspeletjies is beter opsies vir die (hopelik beperkte) tyd wat jou kind voor elektroniese skerms deurbring. (Maksimum 2 ure per dag, maar verkieslik minder.)
18. Die manier waarop jy van kos praat maak vir kinders saak. My kinders eet byvoorbeeld graag ‘groen ertjie-balle’, wat sekerlik meer opwindend klink as bloot ‘ertjies’. Probeer sêgoed soos: “Wonder-wortels gee woema!” en “Super spinasie laat jou hoër spring!”.
19. Moenie kos gebruik om jou kind te beloon nie! Vind ander maniere om jou kind te beloon. Klein kindertjies is dikwels in hulle skik met ‘stickers’, lees saam ‘n storie of koop ‘n nuwe storieboek – na gelang van hoe groot die beloning moet wees.
20. ‘n Goeie basiese reël waarvolgens jy kan besluit of jy ‘n sekere kossoort vir jou kind moet gee is: As jou oumagrootjie dit nie sou herken het nie, moet dit nie vir jou kind gee nie (of self eet nie). Sien die artikel op hierdie blog getiteld Hoe bly ‘n mens gesond? (Sien Deel C) vir meer inligting oor gesonde eetgewoontes.
Ek is seker dat baie blog-lesers reeds talle van hierdie wenke aanwend. Watter ander geheime het julle wat werk met julle kinders? Deel dit gerus as kommentaar hier.
* Leer jou kind gesond eet: Deel 1 en Deel 2 is beide verskaf deur Marina la Grange.