Ouers ontsien dikwels geen tyd, geld of moeite om hulle kinders die beste geleenthede in die lewe te gee nie. Tussen al die indrukwekkende babatoerusting, goed ingerigde skooltjies, musiekklassies, swemlesse, opvoedkundige speelgoed en vele ander voorregte, faal ons as samelewing egter ons kinders in ‘n geweldig belangrike opsig. ‘n Skokkende hoeveelheid van ons kleuters, kinders en tieners is deesdae oorgewig of ly aan vetsug.
‘n Studie wat in 2014 gedoen is onder 6- en 7-jariges in Suid-Afrika se Noord Wes Provinsie, het bevind dat 2 uit 10 (of 19.7%) van blanke Graad Een kindertjies oorgewig is of lei aan vetsug. (Bron hier.)
Navorsing dui verder daarop dat kinders met gewigsprobleme dikwels as volwassenes ook oorgewig is of ly aan vetsug. Sulke kindertjies het dus met verloop van tyd verhoogde risiko’s wat betref ‘n legio van gesondheidsprobleme, onder andere:
- Tipe 2 diabetes
- insulienweerstandigheid
- hipertensie
- hart- en bloedvatsiektes
- beroerte
- slaapapnee
- osteoartritis
- niersiektes
- tandbederf en tandverlies
- fertiliteitsprobleme (onvrugbaarheid) by beide mans en vrouens
- sekere kankers, insluitende borskanker, kanker van die kolon en rektum, galblaaskanker en nierkanker
- swakker breinfunksie (Vir meer hieroor, sien Child’s obesity, cognitive function linked, study finds en Obesity messes with the brain.)
Tipe 2 diabetes kan volgens studies ‘n mens se lewe met soveel as 15 jaar verkort. Daarmee saam is diabete se lewenskwaliteit veral in hulle laaste jare dikwels erg ingekort weens die komplikasies van die siekte, byvoorbeeld hartsiektes, niersiektes, blindheid en neurologiese probleme weens beroertes.
Tipe 2 diabetes was voorheen ‘n bykans onbekende entiteit onder tieners, maar deesdae word al meer tieners en jongmense hiermee gediagnoseer.
Wanneer ‘n kind van kleins af leer om gesond te eet, het dit ‘n lewenslange positiewe effek:
- Jou kind se spiere, bene van die skelet en al die organe in sy liggaam (insluitende die brein, longe, hart, pankreas en spysverteringskanaal) groei en ontwikkel optimaal.
- ‘n Kind wat groot word met ‘n gesonde eetpatroon het ‘n baie beter kans om eendag as volwassene ook te kies om gesond te eet. Dit sal weer jou kind se risiko om as volwassene te ly aan vetsug (met al die gepaardgaande risiko’s) dramaties verlaag.
Om kinders so veel as moontlik kos te wil voer is deel van die moederinstink. In ons samelewing is daar egter ‘n oorvloed van ongesonde kos, sap, koeldrank en eetgoed wat gepak is met kalorieë. Dit is elke ouer se verantwoordelikheid om te sorg dat ons kinders sover moontlik ‘n gesonde eetpatroon volg.
Hou die volgende punte in gedagte wat betref jou kind se eetpatroon:
- Geen normale kind sal wanneer hy toegang het tot genoeg gesonde kos en water sterf van die honger of dors, of aan wanvoeding begin ly nie.
Volwassenes het aangeleer om drie maal ‘n dag te eet, maar kinders sal eet as hulle òf honger is, òf deur heerlike eetgoed verlei word om te eet.
Ouers word maklik paniekerig as ‘n kind ‘nie wil eet nie’. ‘n Normale, gesonde kind wat voor ‘n bord met twee of drie verskillende soort gesonde kos sit en nie wil eet nie, sal egter weer eet as sy liggaam kos nodig het. Leer om nie met elke maaltyd van jou kind verwag om te eet nie. Konsentreer eerder daarop om deur die loop van ‘n hele week te sorg dat jou kind genoeg geleentheid kry om gesonde kos te eet.
Indien jy voel dat jou kind ondergewig is, gesels met jou dokter hieroor eerder as om die kind te probeer aanmoedig of forseer om meer te eet. Een studie het bevind dat die grootste meerderheid van ouers wat dink dat hulle kinders ondergewig is, se kinders in werklikheid ‘n mooi normale gewig is! (Bron hier.)
- Respekteer jou kind se gevoel van honger of versadiging
Die meganisme waarvolgens kinders (en volwassenes) honger of versadig voel, word gedryf deur ‘n komplekse interaksie tussen die liggaam en brein. Respekteer altyd hierdie meganisme!
Wanneer kinders daagliks geforseer word om te eet wanneer hulle nie honger is nie, of deur snoephappies verlei word om te eet tot verby hulle versadigingspunt, kan hierdie meganisme ophou funksioneer. Die uiteinde hiervan mag wees dat sulke kinders as tieners of volwassenes nooit versadig voel nie – duidelik ‘n resep vir gesondheidsprobleme.
Ja, hierdie punt geld ook vir ontbyt! Ontbyt word dikwels ‘bemark’ as die belangrikste maaltyd van die dag. Daar is egter verstommend min ordentlike, onafhanklike studies wat hierdie siening ondersteun! Laat jou kind toe om behoorlik wakker te word voordat ontbyt aangebied word. Pak eerder ‘n gesonde kosblikkie in skool toe as om ‘n kind in die oggend te forseer om te eet. (Vir meer inligting hieroor, lees hier en hier.)
Gesels met jou dokter daaroor as jy ‘n oorgewig kind het wat altyd ‘n onbeheerbare aptyt het. ‘n Klein groepie kinders het nie ‘n normale versadigingsmeganisme nie. Hierdie groep se etes moet versigtig bestuur word deur ouers en versorgers.
- Kinders se energiebehoeftes wissel baie na gelang van hulle daaglikse akwiteite, groeifases en gesondheid
Kinders in ‘n vinnige groeifase het ‘n groter behoefte aan voedingstowwe en energie. Moenie bekommerd wees as jou kind op sommige dae eenvoudig soos ‘n emmertjie sonder ‘n bodem is nie! Wanneer jou kind honger is nadat hy reeds twee of drie skeppe kos gehad het, gee hom met ‘n gerusde hart nog KOS (nie lekkernye of snoepies nie!).
As jou siek kind nie honger is nie, moet hom nie dwing om ‘n hele maaltyd te eet nie. Naarheid is die liggaam se manier om vir ‘n kind (of volwassene) te vra om asseblief nie te eet nie. ‘n Siek kind se liggaam benodig rus en vrede, nie ‘krag’ wat kwansuis uit kos moet kom nie. Onthou dat die verteringsproses op die korttermyn baie energie vereis. Laat ‘n kind met enige van die tipiese kwale waarvan kleintjies soms las het (soos verkoues, omgekrapte magies, mangelontsteking of kindersiektes) eerder rustig herstel en vertrou dat die meganisme van honger weer sy verskyning sal maak wanneer die kind se lyfie reg is vir kos.
- Sny vrugtesap en koeldrank heeltemal uit
Studies het bevind dat kinders wat gereeld sap drink nie na wense groei nie. Hulle is korter as hulle maatjies wat nie sap drink nie, maar het natuurlik ‘n groter risiko om oorgewig te wees.
Sap bevat nie die nodige voedingstowwe wat jou kind benodig nie, maar onderdruk sy aptyt omdat dit vol suikers is. Die kind eet dus nie genoeg kos om sy lyfie en brein te voed nie, aangesien sy magie altyd vol leë kalorieë is.
‘n Kind wat dors is, sal water drink. Wanneer ‘n kind nie meer water wil hê nie, het die kind se liggaampie genoeg vloeistof ingeneem om optimaal te funksioneer. Dit is onsin dat ‘n gesonde liggaam daagliks vol gepomp moet word met soveel as 8 glase water om goed te funksioneer! Hierdie mite is grootliks te danke aan die bemarkers van energiedrankies, sap en gebottelde water. (Vir meer inligting, lees hier.)
‘n Kollega van Dr Retief het op ‘n keer ‘n oorgewig pasiëntjie gesien wat volgens die ma daagliks groot hoeveelhede Coke gedrink het. Toe die dokter voorstel dat die kind in die vervolg slegs water moet drink, het die ma ontsteld uitgeroep dat die kind sal doodgaan as daar nie Coke in die huis is nie, want hy “sit sy mond nie aan water nie”!
“Toemaar,” het die dokter onsimpatiek gepaai. “Julle sal sien, net voor hy doodgaan van die dors sal hy begin water drink.”
- Wees realisties oor die porsies van lekkernye en snoepgoed
Die gemiddelde tweejarige weeg min of meer 12 kilogram. ‘n Volwassene wat 60 kg weeg is ongeveer 5 maal swaarder as die gemiddelde tweejarige.
Wanneer jy jou kind lekkernye, poeding of snoepgoed gee, verbeel jou dat jy self ‘n soortgelyke hoeveelheid gaan eet, in verhouding met jou eie gewig.
As jy 60 kg weeg en jy wil vir ‘n kleutertjie wat 12 kg weeg ‘n pakkie aartappelskyfies of ‘n koekie gee, verbeel jou jy gaan self 5 pakkies skyfies of 5 koekies eet!
- Moet nooit skuldgevoelens aanwakker nie
As jou kind nie die kos voor hom/haar wil eet nie, moet hom nooit laat skuldig voel deur te sê daar is baie honger kindertjies is wat die kos baie graag sou wou hê nie. Dit help die honger kindertjies van die wêreld niks as jou kind oorgewig of siek is nie!
Moenie van jou kind verwag om kos te eet uit dankbaarheid of enige ander rede nie (“Ek het ure lank voor die stoof gestaan..”), behalwe om aan sy of haar lyfie die nodige voedingstowwe te verskaf nie.
- Stel ‘n goeie voorbeeld
Volwassenes kan grootliks kies wat hulle wil eet. ‘n Ouer kan besluit wat om in die supermarkwaentjie te laai en bepaal wat op die gesin se borde beland.
Almal weet dat kinders eerder doen wat hul ouers doen, as om te doen wat hulle ouers hulle aansê om te doen.
Wat kan beter motivering wees om jou eie lewenstyl en eetgewoontes te verbeter as blink kinderogies wat jou daagliks dophou?
- Die 80 / 20 reël
Een van die newe-effekte van ouerskap is skuldgevoelens. Die lys van dinge waaroor ouers skuldig voel is lank en genadeloos.
Aanvaar dat kinders daagliks gebombardeer word deur lekkers, snoepies, sap en koeldrank. Kinderpartytjies, skoolmaatjies, supermarkgangetjies, advertensies en oumas met goeie bedoelinge is van die uitdagings waarmee ouers te doen kry wanneer hulle probeer om ‘n kind te leer om gesond te eet.
Daarmee saam is daar min dinge wat ‘n ma se hart so goed laat voel as om haar geliefde kleintjie lekker te sien weglê, sjokolade op die wange en breë glimlag om die tevrede bekkie.
Dit is reg dat modêrne kinders blootgestel word aan lekkernye en begeerlike, ongesonde kos. Ons kan hulle tog nie vir altyd daarvan weerhou nie. Laat dit egter so ver moontlik oor aan oumas, vriende en verjaarsdagmaatjies om jou kind hierdie blootstelling te gee.
Wanneer jy jou kind wel wil bederf met ‘n lekkerny, sorg dat dit ‘n heerlike ervaring is! Bak as gesin saam pannekoek. Of nooi ‘n goeie vriendin en die se dogtertjies en bak en versier koekies met pragtige versierings.
Moenie van stryk gebring word wanneer jou kind vandag net partytjiekos geëet het nie. Dit is ook waarskynlik nie die laaste keer dat jy so ‘n dag gaan beleef nie. Probeer jou eerder daarop toespits om jou kind te kry om ten minste 80 persent van die tyd gesonde kos te eet.
Voor jy moed verloor, dink weer na oor die voordele verbonde aan ‘n gesonde eetpatroon, vergeet van gister se mislukkings en sê weer ‘Ja!’ vir die uitdaging om jou kind deur die loop van die volgende week te kry om gesond te eet.
Slotsom
Geen ouer wil hê dat sy kind op die skoolgrond gespot moet word oor hy die “vet kind” is nie. Deur ‘n kind te leer gesond eet, verminder dit sy risiko om as kind of volwassene te lei aan vetsug. Natuurlik speel ander faktore (soos genetika) ook ‘n rol, maar ‘n oorgewig kind met ‘n gesonde lewenstyl gaan soortgelyke gesondheidsvoordele as enige ander kind geniet weens sy gesonde gewoontes.
Om ‘n kind in ons modêrne samelewing te leer om gesond te eet, vereis baie toewyding en geduld van ‘n ouer. Die opbrengs van hierdie belegging in jou kind se toekoms is egter van onskatbare waarde. Jou kind se eetpatroon gaan lewenslank ‘n geweldige impak hê op alle sfere van sy of haar lewe, insluitende:
- algehele gesondheid
- geestesgesondheid, selfbeeld en risiko vir depressie
- energievlakke en lewenslus
- breinkrag en akademiese prestasie
- fisiese voorkoms
- fertiliteit
- lewensverwagting
*Hierdie artikel is verskaf deur Marina la Grange. Sy is die ma van twee kleutertjies en ‘n opgeleide arbeidsterapeut. Sy het ook ‘n BSc graad in Informasie Tegnologie & Rekenaarwetenskap agter haar naam (verwerf cum laude deur UNISA in 2012) en is Dr Retief se kuberkaptein vir hierdie blog. Sy is dokter Retief se oudste dogter.