10 Beginsels van beter gesondheid

By | 29 Maart 2015

Ek het die inligting in hierdie artikel oor jare nagevors deur die lees van ‘n groot verskeidenheid wetenskaplike, sowel as mediese artikels. Ek het hierdie inligting in my mediese praktyk sowel as in my eie lewe gebruik en toegepas. Oor die jare het begrippe en menings baie verander, maar die beginsels wat ek hier noem is aangepas soos wat nuwe tegnologiese hulpmiddels beskikbaar geword het. Dit is dus ‘n samevatting van verskillende teorieë, asook my persoonlike ondervinding.

Die teiken: Gesondheid in jou leefwêreld

Die sleutel: Behou jou sellulêre integriteit deur siektes en veroudering te beveg.

  1. Hou jou mikrobioom, jou liggaam se eie ekosisteem, in stand deur gesond te leef en gesond te eet (sien Hoe bly ‘n mens gesond? vir meer hieroor).  Ek is ‘n gastroënteroloog, en vir my begin alles by die dermkanaal, die mens se eerste brein. Die klein baba se eerste onwillekeurige handeling is om kos in te neem, en die laaste aksie in die ouetehuis is steeds die inname van ‘n vorm van voedsel. (Vir meer oor die mikrobioom, lees Die Mikrobioom: Ons eie ekosisteem.)
  2. Aerobiese ontwikkeling, spesifiek ten opsigte van rooi spiere, suurstofopname, uithouvermoë: Brand 2000 kalorieë per week in oefening/aktiwiteit. Rooi spiere bewerkstellig uithouvermoë, gee die vermoë om die hele dag lank te stap of stadig te draf, dagtake te verrig, die behoud van postuur en balans teen swaartekrag. Ons word gebore met rooi spiere en die hoeveelheid daarvan in die liggaam is verskillend by verskillende mense. Marathonhardlopers ontwikeel meestal rooi spiere.Portrait of young people lifting dumbbell weights with trainer in a bright gym
  3. Krag, spoed, wit spiere: Wit spiere het groot energie-insette nodig om te kan funksioneer, d.w.s. dit verbruik kalorieë tydens die aktiewe fase maar ook tydens die verlengde herstelfase. Hierdie is die spiere wat die meeste soorte sportlui in staat stel om te presteer.
  4. Balans en soepelheid: Soepelheid beteken elastisiteit. Indien die liggaam se soepelheid nie in stand gehou word nie, trek die spiere styf, liggaamshouding verswak, gewrigte verloor bewegingsomvang en spierspasmas lei tot chroniese pyn.
  5. Die ligaam se opruimings-aksie en hersikulasie-fasiliteite, naamlik outofagie en metabolisme:  Die liggaam vernuwe homself voortdurend deur verouderde of beskadigde weefsel af te breek, die grondstowwe te herwin, en nuwe selle en weefsels daarmee te vervaardig. Die proses van afbraak heet molekulêre outofagie. Metabolisme is die somtotaal van al die fisieke en chemise prosesse wat deurlopend in lewende organismes plaasvind; dit sluit die prosesse in wat energie gebruik vir opbou van selle en weefsels (anabolisme) en die wat energie vrystel deur afbraak (katabolisme). Outofagie is ‘n sub-kompartement van katabolisme (hier is Wikipedia se meer volledige definisie van ‘metabolism’). Om sellulere integriteit te behou, wil ons outofagie stimuleer, sodat beskadigde weefsels voortdurend deur nuwe weefsel vervang word.
  6. Beheer van liggaamsmassa: Let op die verskil tussen wit vet, geel vet en bruin vet:
    • Wit vet lyk werklik wit. Dit is ‘n fisiolgies vriendelike vet wat deur die liggaam bewaar word vir metaboliese uitdagings soos hongersnood, swangerskap, laktasie, tydperke van wanvoeding (gesonde store). Wit vet het min sistemies negatiewe effekte. Dit word nie in die buikholte en tussen die organe gestoor nie, maar onder die vel, verspreid oor die hele liggaam.
    • Geel vet het ‘n geel kleur. Dit is fisiologies ‘n gevaarlike vet en word gestoor in die buikholte en veroorsaak ‘n boepens en ‘n oormatige groot middellyn. Geel vet word bevorder deur erge kalorie-pieke soos tydens die inname van groot porsies suikers en koolhidrate of met alkoholgebruik en gaan gepaard met insulienvrystelling. Dit word gemobiliseer deur beta-reseptore wat deel uitmaak van die stresrespons (adrenalienvrystelling) en veroorsaak vervetting van die lewer, en bevorder lewer- sowel as sistemiese inflammasie.Standing on scale
    • Bruin vet is die nuttigste en vriendelikse vet wat in die mens sowel as by diere voorkom. Dis die vet waarmee babas gebore word, wat hulle oorlewing bevorder. Volwassenes behou tot ‘n mindere of meerdere mate ‘n hoeveelheid bruin vet, en die hoeveelheid hang saam met ‘n gesonde en aktiewe lewenstyl. Bruin vet staan lynreg tenor geel vet. Dit lyk werklik bruin as gevolg van die mikroskopiese bloedvatnetwerk wat dit deurkruis. Metabolies funksioneer bruin vet soos spierweefsel.
  7. Die effek van daaglikse handelinge en aktiwiteite op die liggaam: Daaglikse handelinge is die somtotaal van al die aksies wat jy deur die dag uitvoer en hoe jy dit doen. Kom flink uit die vere, stap doelgerig en vinnig, sit regop, eet reg, voel goed oor jouself, dink positief en konsentreer op positiewe feite en geniet die natuur. Die natuur is vriendelik en goedgesind teenoor ons. Matige sonblootstelling werk depressie tee en help die vel om vitamien D te vervaardig. Benut al hierdie dinge om jou “Body image” te optimiseer. Vermy ook nadelige gewoontes. As jy nog rook of enige ander giftige substanse gebruik, is dit voor die hand liggend dat jy jouself willens en wetens beskadig.   Geen eetpatroon of oefenprogram kan die oksidatiewe skade wat jy aan jou liggaam doen deur te rook verhoed of verbeter nie.
  8. Genetika en epigenetika, stimuleer stamselontwikkeling:
    • Benut jou genetika. Dit is so dat ons gebore word met genes en ‘n menslike genoom wat baie faktore in ons lewe gaan bepaal. Die mens het 46 chromosome wat bestaan uit DNA met3 biljoen basispare (base pairs). Hierdie genoom bevat 23,000 gene wat eienskappe soos liggaamsbou, kleur van oë, spoed en krag, asook vele ander dinge bepaal. As ons een mens se genetiese inligting aanmekaar sou kon las, sou dit 15 keer na die son toe en terug strek, maar slegs 25% van hoe ‘n mens se lewe verloop, is te wyte/te danke aan jou genetika. Die res word beïnvloed deur omstandighede (die “nature vs nurture” debat).
    • Epigenetika. Die oppervlakte van die genoom kan beïnvloed word deur jou denke, optrede en hoe jy lewe. Ons is dus nie ‘n slaaf van ons genetika nie – ons kan nuut daarop skryf. Moet dan nie sê: “ek is nou maar so nie”. Ek hoor dikwels in my praktyk stellings soos “ons Smitte is nou maar groot (vet) mense” of “ons van Deventers het nou maar boepense”.
    • Onlangse navorsing deur die wenner van die Nobelprys vir mediese fisiologie wys selfs dat enige volwasse sel geïnduseer kan word om ‘n pleuri-potensiële stamsel te word, wat enige ou, foutiewe of defektiewe weefsel kan vervang onder sekere omstandighede.
  9. Geestelike beheer: Indien jou brein nie in beheer is nie en jou denkprosesse nie die leiding volg nie, bly jy ongemotiveerd en sal jy waarskynlik nie die teiken haal nie.
  10. Hoe hou ek my brein in beheer? Innerlike vrede skep rustigheid midde in ‘n gejaagde wêreld. Meditasie, bepeinsing en gebed bevorder innerlike vrede.Girl holding arms up against blue sky

2 thoughts on “10 Beginsels van beter gesondheid

  1. Martiens Mulder

    Dankie, DR. Francois, soos altyd weer ‘n stimulerende artikel!

    Groete,

    Martiens

    Reply
  2. j

    Very interesting but I don’t think Google Translate always gets the essence of what you are saying.

    Reply

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui