Slaap-apnee: Praktiese Inligting

By | 8 Augustus 2013

sleep-apneas516x516Daar was heelwat navrae oor slaap-apnee op ‘n vorige blog-artikel (sien Slaap-apnee). Ek gee dus graag meer inligting daaroor. 

Kry net oorgewig mense slaap-apnee?

Alhoewel dit meestal oorgewig mense is wat slaap-apnee kry, is dit nie die enigste bepalende faktor nie. Die struktuur van die gesig, veral die ken, speel ‘n belangrike rol.  Mense met ‘n klein ken en ‘n minder ontwikkelde onderkakebeen, is ook meer geneig om slaap-apnee te kry as hulle ouer word en hulle spiere verslap.  Die ontwikkeling van die sogenaamde riempiespiere in die keel, wat die lugweë oop hou as ‘n mens slaap en verhoed dat die keel “toe val” wanneer die spiere ontspan met slaap, is ook belangrik.

‘n Baie dik nek-omtrek is ‘n risiko-faktor vir slaap-apnee.

Wanneer is slaap-apnee beduidend?

Tot 5 episodes van apnee per uur  tydens slaap kan  nog as normaal beskou word.

5  – 15 episodes regverdig verdere aandag, en kan nog met met lewenstylaanpassing normaliseer, d.w.s. verloor gewig, vermy alkohol, slaappille en dwelms, moenie op die rug slaap nie,  versterk die nekspiere met oefening (selfs flink stap en draf verbeter die nekspiere).

Met meer as 15 episodes per uur sal ons ‘n C-PAP-masjien begin oorweeg.

Waar om die toets te laat doen?

Jou algemene praktisyn sal jou kan aanbeveel.  Die slaapstudie word gewoonlik deur ‘n tegnikus gedoen onder toesig van ‘n Internis of ‘n Oor-, Neus- en Keel arts.  Die betrokke spreekkamer sal vir jou ‘n kosteberaming opstel.

Tipes C-PAP-masjiene en kostes:
Schlafapnoe
Daar is ‘n groot verskeidenheid C-PAP-masjiene op die mark wat deur verskillende maatskappye bemark word.    Die pryse wissel ook, en dis die moeite werd om nie sommer die eerste opsie te neem nie.  Die een wat ons meestal gebruik kos ongeveer R6500.00, en die mediese fonds betaal dit dikwels as die slaap-apnee bewys is deur ‘n slaapstudie.   Sommige maatskappye het tweedehandse masjiene beskikbaar teen ‘n laer prys.

Die tipe masker en verskilende beskikbare opsies is belangrik – byvoorbeeld vol gesig masker, neusmasker, neuskanule wat soos kussinkie in die neusgate pas.

Ek noem nie graag handelsname nie, maar ons kry ons masjiene via Vitalaire (die maatskappy wat ook tuis-suurstofmasjiene verskaf).  Resmed verkoop ook in Suid-Afrika.  Handelsname van C-PAP-masjiene sluit in die Weinman-tipe, en daar kom binnekort ook ‘n goedkoper weergawe op die mark wat goedkoper is en meer masker-opsies het – die Fischer & Pagel- tipe, as ek die naam reg het. Daar is ‘n nuwe masker met ‘n klein neuskanule wat baie gemakliker is vir mense wat benoud raak met ‘n masker op die gesig.

Baie van die mediese fondse betaal vir die ondersoek, en dan vir die masjien indien die toets positief is.   Dit hang af van die fonds-opsie wat jy gekies het.  In alle gevalle moet vooraf magtiging van die mediese fonds gekry word.  Totale koste is dan die rekening van die dokter en/of tegnikus wat die masjien opsit en die verslag daaroor verskaf, die nag se hospitaalverblyf en die masjien met toebehore.

Neusbloeding

Neusbloeding as gevolg van die positiewe druk wat die masjien in die neus uitoefen, is te wyte aan die droë lug, veral in die winter en veral in die binneland. Sommige masjiene het ‘n bevogtiger by, wat uitdroging van die neusslymvlies verhoed.  ’n Groter tipe masker help soms.

‘n Kortisoon neussproei mag ook van waarde wees.

Wat as die masker my te benoud maak?

Heelwat mense het genoem dat hulle so  benoud word met die masker op die gesig dat hulle dit glad nie kan gebruik nie.  Indien die hele proses korrek gevolg word, skakel dit dikwels hierdie probleem uit.

‘n Slaapstudie behoort in verskeie fases gedoen te word.

1)      Slaap ‘n nag met die slaapmasjien wat die aantal en lengte van die periodes waar die pasiënt ophou asem haal, meet.  Hierdie behoort vir ‘n volle nag gemeet te word en word gewoonlik in die hospitaal gedoen.  Dit kan ook onder gekontroleerde omstandighede buite die hospitaal gedoen word weens koste-implikasies. (Ons doen dit soms tuis, of in ‘n gastehuis-opset as die pasiënt nie ‘n mediese fonds het nie).

2)       Indien die toets dan positief is vir slaap-apnee, word ’n opvolg studie gedoen met kalibrering, d.w.s. daar word bepaal teen watter druk die C-PAP-masjien gestel moet word vir die spesifieke pasiënt.  Ideaalweg slaap die pasiënt vir 4 – 5 nagte tuis, in sy eie bed, met ‘n masjien en die druk word aangepas tot hy/sy gemaklik is.  Verskillende groottes maskers word probeer om die mees ideale een te vind.  Hierdie dienste word gewoonlik gelewer deur ‘n neuro-fisiologie tegnikus en sluit in dat die pasiënt opgevolg word om seker te maak dat die pasiët goed aangepas het by die behandeling.

Ongelukkig word in sommige sentra ‘n sogenaamde “split”-beoordeling gedoen, dit wil sê vir die helfte van die nag word die aantal apnee-episodes gemeet, en indien positief,  dan word vir die res van die nag die kalibrering met ‘n C-PAP-masjien gedoen.  Die pasiënt het dan nie tyd om gewoond te raak aan die masjien nie, die druk waarteen die lug blaas is nie korrek bereken nie en is soms te hoog, en daar word nie genoeg aandag gegee aan die pas van die masker nie.

Indien jy gaan vir ‘n slaapstudie, maak eers seker van hoe dit gedoen word, watter tipes masjiene en maskers die betrokke sentrum gebruik, hoe lank die aanpassingsperiode is, ens.

Die persoon wat die studie doen, behoort vir jou volledige inligting te kan gee oor alles wat jy wil weet, hoe ernstig jou apnee is, ook waar om die masjien en die toebehore te koop.

Dit is ook BAIE BELANGRIK om seker te maak van instandhoudingsdiens wat die betrokke maatskappy lewer, asook die beskikbaarheid van die neuro-fisiologiese tegnikus indien jy probleme ondervind.

‘n Mens kan ook by baie ongemaklike omstandighede aanpas as die motivering daar is.  Begin bv. met net ‘n uur per nag, vermeerder die tyd geleidelik totdat jy daaraan gewoond is. By pasiënte met slaap-apnee wat goed regkom met hulle C-PAP-masjien kry ons merkwaardige resultate.

Dit mag ook help om die eerste paar nagte ‘n kalmeermiddel te gebruik terwyl jy aanpas by die CPAP-masjien.

Nadele van ‘n C-PAP-masjien

Dit is natuurlik tot ‘n mate beperkend, maar mense vind die voordele meer as die nadele.  Hulle pak hulle masjien in en ry hom saam as hulle weg van die huis af slaap.

Die masjien werk met elektrisiteit van ‘n kragprop af en maak ‘n mate van geraas, wat steurend kan wees vir jou bedmaat.  (Dit is egter baie stiller as snork! En dis ‘n egalige geluid –  die bedmaat lê nie die hele tyd en luister wanneer jy ophou asemhaal nie en slaap dus ook beter).

Watter ander maniere is daar om slaap-apnee te verbeter?

Slaap-apnee kan nie met enige medisyne behandel word nie.  Dit is gewoonlik ‘n meganiese probleem wat op ‘n meganiese wyse benader moet word.

Die volgende kan wel help:

  • Verloor gewig as jy oorgewig is
  • Moet nooit op jou rug lê en slaap nie want dan val die ken terug en blokkeer die lugweë (‘n raat wat baie vroue al gevolg het vir n man wat snork, is om ‘n groot houtkraal of ‘n tolletjie agter op sy pajamas vas te werk!)
  • Vermy alkohol, slaappille en enige dwelms
  • Oefening wat die nek- en keelspiere versterk (sien die artikel Slaap-apnee: Oefen jou keelspiere),  asook flink stap of draf

 

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui