Glutensensitiwiteit is deesdae dikwels in die nuus en heelwat mense wat van mening is dat hulle daaraan ly skakel gluten uit hulle dieet – dikwels sonder dat ‘n definitiewe diagnose eers gemaak is.
Gluten kom in talle van ons stapelvoedsels voor en dis moeilik om gluten volledig uit te skakel. Waaroor gaan dit regtig?
Glutensensitiwiteit is ‘n aangebore, genetiese siektetoestand met abnormaliteite op die HLA-DQ2 of HLA-DQ8 genes (dalk is meer genes betrokke – ons sal uitvind soos die navorsing vorder). Dit is ‘n allergiese toestand wat soms geassosieërd kan wees met outo-immuunsiektes, d.w.s. dis ‘n toestand met ‘n genetiese agtergrond wat deur omgewingsfaktore geaktiveer word. Dit veroorsaak patologie in die dermkanaal met wanabsorpsie van voedingstowwe wat die liggaam nodig het.
Gluten is ‘n voedselkomponent wat teenwoordig is in graanprodukte soos koring, rog en, hawer. Wanneer iemand met die genetiese agtergrond dus enige van hierdie kossoorte eet, al is dit in klein hoeveelhede, kan dit dermkanaalsimptome veroorsaak.
Hierdie simptome kan in ‘n wye spektrum voorkom, in verskillende grade, verskillende variasies en volgens verskillende kategorieë. Die heel ernstigste vorm, wat dodelik kan wees, is die klassieke seliaksiekte wat baie ernstige wanabsorpsie veroorsaak wat lewe onmoontlik maak. Foto’s wat reeds in 1888 geneem is, toon kinders met groot opgesette magies, dun arms en bene, gedurige buikpyn, en ernstige groeivertraging.
Dit kan egter atipies presenteer, of heeltemal stil wees tot daar iets gebeur wat die reaksie aan die gang sit. Daar is deesdae ‘n groter bewustheid van hierdie toestand, en dit is ook makliker om ‘n diagnose te maak as voorheen. Glutensensitiwiteit is waarskynlik meer algemeen as wat ons voorheen vermoed het. Daar is nie spesifieke statistieke vir Suid-Afrika beskikbaar nie, maar die insidensie in Europa is 1 uit ‘n 1000 van die bevolking, en indien jy van Ierse afkoms is, is die insidensie tot so hoog soos 1 in 300 mense. Dit is onbekend (ongediagnoseer?) in die tradisionele Afrika–kulture.
Mense met chroniese buikpyn dink dikwels dit is ‘n spastiese dikderm, maar dit kan wel glutensensitiwiteit wees. Die gevaar van onbehandelde seliaksiekte en glutensensitiwiteit is die komplikasies, vanaf osteoporose (a.g.v. wanabsorpsie van kalsium), wanvoeding met vitamien- en proteiengebreksiekte, tot by limfoom.
Wie behoort te oorweeg om daarvoor getoets te word? Mense met:
• chroniese gastroïntestinale simptome, veral chroniese diaree
• erge buikopsetting
• erge spastiese dikdermsimptome wat nie respondeer op behandeling nie
• erge laktose-onverdraagsaanheid
• onverklaarbare Vitamien B12-, yster- of folaatgebrek
• chroniese sere in die mond
• herhalende migraine hoofpyn
• kinders met groeivertraging en bruin of geel verkleuring van tandemalje
• kinders wat uitsonderlik kort is of vertraagde puberteit toon
Die risiko is veral hoog indien ‘n naby familielid dit het of wanneer wanneer mense met ‘n ander outo-immuunsiekte (tipe 1 diabetes, onderaktiewe skildklier soos in Hashimoto se siekte, Crohn se siekte, ulseratiewe kolitis, rumatoïede artritis, sistemiese lupus) dermkanaalsimptome ontwikkel.
Dis moeilik om ‘n heeltemal glutenvrye dieet te handhaaf, en ‘n definitiewe diagnose behoort gemaak te word voordat ‘n mens sal oorgaan tot so ‘n lewenstyl. Dis deesdae baie makliker om die diagnose te maak as voorheen:
• Bloedtoetse is beskikbaar wat anti-liggaame toets, nl. TTG IgA of EMA
• Biopsies van die dunderm (spesifieke die tweede deel van die duodenum) word geneem tydens ‘n gastroskopie, en histologies ondersoek.
Beide hierdie toetse moet positief wees voordat ‘n vaste diagnose gemaak word. Wanneer iemand reeds ‘n glutenvrye dieet volg, is dit baie moeilik om later die diagnose te maak, aangesien die histologie van die dermkanaal dan nie tipies van seliaksiekte sal wees nie.
Sommige mense begin gluten vermy om te sien of dit hulle dermkanaalsimptome verbeter, maar dan is die diagnose nie bevestig nie. Om ‘n glutenvrye dieet te volg is so ‘n groot stap met soveel implikasies, dat ‘n mens net sowel eers kan probeer om ‘n definitiewe diagnose te maak – dit sal op die lang duur baie moeite spaar. Soms eet mense wat vermoed dat hulle glutensensitiwiteit het in die plek van gluten ander kossoorte wat meer nadelig mag wees vir hulle gesondheid as wat hulle besef.