Alzheimer se siekte en Beroerte

By | 28 Januarie 2010

Die ontwikkeling van Alzheimer se siekte of beroerte in ‘n huweliksmaat is altyd ‘n krisis.  Daar is wel ‘n groot verskille in die verloop van die twee toestande.

*  Alzheimer se siekte is ‘n degeneratiewe siekte wat met tyd vererger.  Dit is ‘n spesifieke diagnose met kenmerkende simptome en bewysbare breinveranderinge, en moet onderskei word van behandelbare toestande soos depressie (wat dieselfde kan lyk en baie goed op medikasie reageer), newe-effekte van medikasie, bloedvatsiekte met herhalendemikro-beroertes en ander.

Die pasiënt ondergaan totale persoonliksheidsverandering en het lewenslange omvattende sorg nodig, wat ‘n haas onhanteeerbare las op die gesonde maat lê.  Geen rehabilitasie is moontlik nie, en aanvaarding van die toestand is die enigste uitweg.

*** Daar is bewys dat Vitamien E in hoë dosisse (1000 – 2000 IE per dag) en koffie-drink (10 koppies per dag, wat nou weer ander gesondheidsrisiko’s inhou!) hierdie siekte kan vertraag of verhoed.  Rook verdubbel die risiko, en ‘n hoë vetinname verhoog ook die risiko.  (Volledige inligting oor Alzheimer se siekte is op die blog)

*  Beroerte (die gevolg van of  bloeding in die brein, of ‘n bloedklont in een van die are na die brein wat die bloedtoevoer na ‘n deel van die brein afsluit) is  ‘n voorkombare siekte,  selfs waar daar ‘n familiegeskiedenis van bloedvatsiektes is.

‘n Gesonde lewenstyl oor die jare is die beste assuransie teen hierdie soort probleem.   Eet gesond, beperk soutinname,  wees fisiek aktief, MOENIE ROOK NIE!, waak teen oorgewig, kontroleer die bloeddruk,  behandel risiko-toestande soos suikersiekte deurlopend effektief, ondersteun en motiveer mekaar deurlopend.

**  ‘n Beroerte kan baie gering wees ( ‘n verbygaande iskemiese insident, wat tydelike simptome van spierswakheid of die onvermoë om te praat, kan veroorsaak, maar volledig opklaar)  en vir ons die waarskuwing gee dat hier fout is wat vinnige en effektiewe optrede vereis met lewenstylaanpassing, bloeddrukkontrole of onmiddellike hantering van wat ook al die aanleidende oorsaak is. Staak dadelik alkoholinname en hormoonvervangingsterapie

**  OF:  Dit kan uitgesproke verlamming, onvermoë om te praat, verlies van beheer oor liggaamsfunksies en/of intellektuele inkorting gee, met of sonder persoonlikheidsverandering.  Soms gee beroerte aanvanklik baie erge debilitasie, maar die simptome kan mettertyd baie verbeter.  Vroue herstel meestal gouer en meer volledig as mans, omdat die brein van die vrou meer veeldoelig is en die onbeskadigde dele van haar brein die funksies van die beskadigde deel makliker oorneem.   Die inkorting lei tot groot frustrasie by die sieke, en baie geduld is nodig om hom/haar te ondersteun gedurende die rehabilitasieproses.  In sommige gevalle is die skade wel so erg dat min herstel moontlik is, maar gewoonlik is dit nie die geval nie.  Liefdevolle ondersteuning en hulp is van groot belang in die herstelproses.  Fisio- en Arbeidsterapie –insette kan van groot hulp wees.

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui