Doendinge

Hier volg ‘n lys met voorstelle vir doendinge vir elke dag – kies waarvan jy hou!  Of dink iets anders uit wat by jou voorkeure en persoonlikheid pas.

Beplan vooruit; doen ‘n indeling vir verskillende dae as jy wil. Doen gereeld iets nuuts.

Laughing guy with cell phone close upLag meer: Lees meer grappe; sê jou kinders aan om elke dag vir jou ‘n grap te WhatsApp, dit doen hulle ook sommer goed, en vertel dit vir jou buurman. Gaan kyk na snaakse flieks of videos, lees humoristiese boeke, Skype jou kinders en kleinkinders en lag saam met hulle oor iets wat jy onlangs snaaks gevind het.

Binnenshuis: Versorg ‘n potplant of troeteldier; skryf ‘n brief of gedig of boek oor jou herinneringe; bel sommer uit die bloute mense wat jy lanklaas gesien het; kook en probeer ‘n nuwe resep; bad met borrelbad en kerse; pak die garage reg; orden jou gereedskap; takel jou kaste en gooi uit of gee weg; kyk deur jou foto-albums of orden jou rekenaarfoto’s;  speel ‘n rekenaarspeletjie (daar is ‘n enorme verskeidenheid beskikbaar).

planting-780736_640Buitenshuis: Voëls kyk (sommer om jou blok, in die tuin/parkie); stap om die blok vir die lekker;  tuinmaak, plant ‘n kruietuintjie in ‘n bedding, ‘n houer op ‘n balkon of ‘n plantpot op jou vensterbank; voëls voer projek; kry ‘n hond of ‘n kat of ‘n vis; gaan jag of hengel; stap in jou buurt en kyk wat groei alles daar, lees op oor die name van die bome en plante.

Begin ‘n versameling: munte, teelepeltjies, vingerhoede, messe, brille, poskaarte, ou kameras, model-dinosourusse of mikroskope, gereedskap; aan die ander kant, gaan deur jou resepteboeke, selfdoenwenke en knipsels en probeer uit of gooi weg waarby jy nog nooit uitgekom het nie.

Intellektuele speletjies: raaisels & legkaarte; blokkiesraaisels, Soduko; skaak met ‘n vriend; lees (boeke, tydskrifte, koerant – moenie vir die nuus kwaad word nie), “apps” soos Neuronation, studeer iets (Bybelstudiekursus, kaasmaakkursus, ens.); leer ‘n ander/inheemse taal; teken in op ‘n nuwe tydskrif soos Weg, Golf Digest, Popular Mechanics; skryf  in by “The University of the fifth generation” en studeer heeltemal gratis ‘n hele aantal kursusse; skakel in op ‘n internasionale webwerf en speel byvoorbeeld skaak/rekenaarspeletjies teen mense van oor die hele wêreld.

people-2562352_640Sosiale aktiwiteite: Sing in ‘n koor; kuier by enigiemand of nooi iemand oor; groepe bordspeletjies, bingo, kaartspeletjies; Skype met vriende/familie/kleinkinders; braai; potjiekos of ete; teedrink (nooi byvoorbeeld vir interessantheid almal wie se name met die  letter M begin); nooi jou bure vir ‘n nuwejaarsontbyt/Paas-ete/Valentyns-ete; hou ‘n piekniek; nooi jou vriendinne in die lente op ‘n kwekery-uitstappie en kyk na die plante en drink tee; begin ‘n saamstapgroepie; neem Pilatesklasse of ‘n ander georganiseeerde aktiwiteit; begin self ‘n oefengroepie/handwerkgroepie/leesklub; gaan kyk na die laerskool/hoërskool se konsert of operette; lees jou plaaslike koerantjie en neem deel aan aktiwiteite/uitstallings/sportdae.

record-player-1851576_640Musiek: Sing, fluit, neurie, speel’n instrument, dans of doen aerobics saam met musiek; luister musiek uit jou jongdae en neurie saam; doen “armchair conducting” – dirigeer die orkes saam as jy na musiek luister, dis sommer goeie oefening ook; gaan na ‘n musiekkonsert (skoolkonsert, kerkkoorkonsert, professionele konsert); sing in die stort (sommer elke dag); nooi vriende van jou eie ouderdom oor en luister na die musiek van julle jong dae (jou kinders kan jou help om op YouTube daarvoor te soek), elkeen se gunstelingliedjies.

‘Sinvolle’ aktiwiteite: Gemeenskapgroentetuin, poppies en speelgoed brei vir minder bevoorregte kinders of vir die kerkbasaar; maak houtspeelgoed of goeters uit weggooi-artikels;  liefdadigheidsprojekte; sop kook vir sopkombuis; help reël die kerkbasaar; gaan help tee skink na die kerkdiens; ontwerp ‘n nuttige artikel wat ‘n leemte vul; help ‘n kind met skoolwerk; gee ekstra wiskundeklasse.

amy-velazquez-501568-unsplashWord stil en orden jou gedagtes: Bybelstudie en gebed, mediteer, joga; dankbaarheidsjoernaal;  “mindfulness”; gaan stap deur jou buurt en bid vir die huisgesinne soos jy by hulle huise verby stap; begin ‘n gebedsketting waar jy en vriende bv tussen 8 in die oggend en 8 in die aand bid vir die land of ‘n ander saak op jou hart; dink na oor al die dinge wat jy dankbaar is jou NIE oorgekom het nie.

“Finish unfinished business”: Skryf ‘n brief aan iemand wat jy te na gekom het; bel / WhatsApp ‘n ou vriend met wie jy lanklaas gepraat het; gaan doen die kuier wat jy lankal uitstel; gee aandag aan die klein stemmetjie van jou gewete of iets wat jou lankal pla en nog nie opgelos is nie; gaan maak kennis met die bure by wie jy nog nie uitgekom het nie.

Doen ‘n nuwe oefening: Fietsry; gaan roei op ‘n kano of kajak; stap ‘n voetslaanpad; skakel in by die “Parkrun” (stap of draf 5 km op Saterdae – http://www.parkrun.co.za/), sluit aan by ‘n groep vir Pilates-oefeninge of “ball room dancing”.

grandparents-2734513_640Dink aan iets lekkers wat jy saam met jou pa/Oupa of ma/Ouma gedoen het en doen dit saam met jou kinders/kleinkinders; vat jou kleinkinders na ‘n pretpark of speelparkie of gaan vlieg ‘n vlieër; gaan kyk na ‘n tekenprent saam met jou kleinkinders, leen een (‘n ‘kleinkind’) as jy nie een het nie. Kinders gee ‘n grootmens ‘n verskoning om baie lekker dinge te doen.

Ander: Lees grappies en lag; beperk TV-kyk as dit die grootste deel van jou dag opneem; doen iets vir jou voorkoms (haarstyl, nuwe hangertjie, lipstiffie, kweek ‘n snor of skeer dit af); kry meer dikwels son op jou vel; sit verkieslik op die vloer (bv. tydens meditasie); gaan winkels toe en kyk watter nuwe klere hang in die winkelvensters of gaan kooperasie toe en gaan kyk na al die cool gereedskap.

chris-barbalis-1164712-unsplashHandwerk en kuns: Maak messe, maak jou eie forelvlieë, brei, naaldwerk, borduurwerk, maak ‘n laslappiekombers van jou kleinkinders se babakleertjies, mosaïekteelwerk, Scrapbooking, skilder of skets, teken, fotografie, inkleur (mandala), houtwerk, engines ombou, enige selfdoen/nutsman projek, kry ‘n stukkende ding en maak dit reg, lapverf, popklere (ontwerp Barbie-uitrustings en bemark dit), pottebakker, bou ‘n modelvliegtuigie/ motortjie/ seilboot/ dinosourus.

senior-3336451_640“Bucket list”: Skryf 10 goed neer wat jy nog altyd wou doen en beplan wanneer jy dit gaan doen, bv. gaan op ‘n wyntoer, ry op teen Tafelberg; gaan ry op die rooi toeristebus in ‘n stad, selfs in jou eie stad –  jy sal by baie plekke uitkom waar jy nog nooit was nie; besoek die Kgalagadi/Addo/Mokala/Marakele wildtuine of jou eie plek se botaniese tuin; maak ‘n rotstuin (al is dit ‘n venstertuintjie); gaan loop jou familiegeskiedenis na en besoek die plekke waar jy of jou ouers grootgeword het; skryf jou familie se stamboom neer.

Lees jou plaaslike koerant of jou gemeente se nuusbrief en skakel in by dit wat in jou omgewing aan die gang is; nooi iemand vir tee/vleisbraai en vertel wat jy gedoen het wat lekker, interessant, mooi of deelwaardig is –  dit sal hulle ook inspireer.

As nie een van hierdie voorstelle jou aanspreek nie, as jy nie lus is of kans sien vir een hiervan nie, gaan praat met jou dokter oor anti-depressante. Laat toets jou Vitamien D-vlakke: lae vlakke dra by tot depressie.

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui