Die begrip “metabolies” het te doen met die wyse waarop die liggaam se energiestelsels werk (energie = brandstof, kragbronne wat die die selle en organe gebruik) Dit sluit in die tempo waarteen hulle hulle werk verrig en die afvalstowwe wat so geskep word.
Indien jy enige 3 of meer van die volgende tekens en simptome het, het jy die METABOLIESE SINDROOM:
- Hoё bloeddruk
- Abnormale lipogram (enige van die cholesterol-komponente wat abnormaal is)
- Tipe 2 diabetes
- ‘n Gewigsprobleem – oormassa
- ‘n Vergrote middellynomtrek – vet wat om die middel sit
- Jig
- Verhoogde stolbaarheid van bloed (‘n geskiedenis van trombose/bloedklonte)
- ‘n Familiegeskiedenis van diabetes, hartsiekte, beroertes, oormassa
Die metaboliese sindroom is een van die toestande wat die vinnigste toeneem as gevolg van ons moderne leefwyse, die sg. Westerse lewenstyl. Sien dit teen die eeue-oue geskiedenis van die mens: onthou, ons wat vandag lewe, is die nasate van die oorlewers van die verlede. In die vroeё geskiedenis kon slegs mense wat liggaamsvet kon stoor, oorleef. Die maeretjies is dood in die eerste hongersnood, koue winter of oorlog waarin hulle beland het. Ons is dus geneties geselekteer om vet op te gaar. Ons vroeё voorouers het egter onder uiters ongunstige omstandighede gelewe, met hongersnood, uiterste temperature, harde fisieke arbeid aan die orde van die dag.
Ons lewe in ‘n Utopia in vergelyking daarmee: die lekkerste, aanloklikste kosse vryelik beskikbaar reg deur die jaar; geen harde fisieke arbeid; luukse behuising; energieslawe wat ons werk vir ons doen (kettingsae wat swaar bome afsaag, hyskrane en vurkhysers wat swaar gewig optel en verskuif, slootgrawers, wasmasjiene, motorvoertuie wat onsself en ons goedere vir ons dra – hoeveel van ons sou bo teen die heuwels, waar die mooiste uitsig is, wou bou as ons alles wat ons nodig het self daar moes opdra?)
Die vloek van voorspoed: Die prys vir hierdie weelde is egter baie hoog: siektepatrone waarvan ons voorouers niks geweet het nie, vetsug, metaboliese en bloedvatsiektes, neuro-degeneratiewe siektes, kanker, en vele meer – bo en behalwe al die psigiese versteurings van mense wat nou te veel tyd het met al hulle arbeidsbesparende hulpmiddels.
Daar is verskillende soorte diabetes:
Tipe 1 kan reeds by babas en kinders voorkom, en hierdie kinders benodig van die begin af insulien inspuitings aangesien die pankreas geen insulien kan vervaardig nie.
Tipe 2 diabetes:
- Kom meestal eers op volwasse ouderdom aan (maar begin deesdae selfs by tieners kop uitsteek).
- Is geneties, d.w.s. dit loop in families.
- Kan dikwels net met die regte eetpatroon, oefenprogrem en tablette beheer en selfs voorkom word indien daar vroeg genoeg mee begin word.
- Die basiese patologie is insulienweerstand, wat beteken die pankreas skei wel nog insulien af, maar die insulienreseptore op die wand van die liggaamselle neem nie die insulien wat in die bloedstroom is, genoegsaam op nie sodat daar ‘n relatiewe tekort aan insulien binne-in die selle is (die begrip van insulienweerstand wat aan die wortel van die metaboliese sindroom lê).
Ander tipes diabetes, bv. wat volg op beskadiging of vergiftiging van die pankreas, as deel van ‘n simptoomkompleks van ander endokriene siektes ens. Daar is ‘n groot aantal siektetoestande waarin diabetes ‘n rol kan speel.
Tipe 2 diabetes is, saam met vetsug, een van die siektes wat in ons moderne tyd die vinnigste toeneem. Dit is ‘n wêreldwye epidemie en die farmaseutiese bedryf (en ‘n hele aantal ander meëlopers) is in kompetisie om meer en meer middels op die mark te sit vir hierdie goudmyn van bemarking. Dit is ‘n lewenstylsiekte wat voorkom in mense met die genetiese samestelling daarvoor, wat nou verkeerd eet, onaktief is, en gewig optel.
Dit beteken die wegspringplek van die behandeling van diabetes is eerstens die regte eetgewoonte aankweek, tweedens die vlak van fisieke aktiwiteit so hoog as moontlik te hou elke dag, en eers derdens die medikasie neem (verskillende soorte tablette, of insulien inspuitings soos nodig.)
Indien daar diabetes in die familie is: beheer jou gewig en bly so aktief moontlik, eet reg, en dis moontlik dat jy nooit die diagnose van diabetes kry nie. Wees pro-aktief en voorkomend: moenie wag tot die perd by die stal uit is, en dan begin behandel nie! Laat toets gereeld jou bloedglukose. ‘n Lukraak bloedglukose van bokant 11 mmol/l, en ‘n vastende bloedglukose van 7 mmol/l en meer, gee die DIAGNOSE van diabetes. ‘n Vastende bloedglukose van meer as 5.5 mmol/l, en ‘n lukraak waarde van 9 en meer, dui reeds op pre-diabetes en vereis vroeё optrede. Onthou om aandag te gee aan al die verskillende komponente van die metaboliese sindroom wat jy mag hê.
Die inflammatoriese proses speel ‘n groot rol in die metaboliese sindroom en ander hoё risiko-siektes soos vaskulêre siektes, neuro-degeneratiewe siektes soos seniliteit en Alzheimer se siekte, Parkinsonisme en sekere soorte kanker – meer daaroor in ‘n latere brief.
ek is 55 jaar oud en vir die laaste 6 jaar sukkel ek met my gewig en hare wat groei op my ken. metaboliese sindroom hoe word dit getoets en na watter dr. moet n mens gaan.
Roleen indien jy enige drie van die tekens het wat ek in my Blog genoem het moet jy die diagnose vermoed. Dit is nog in die vroee fase en jy kan baie daaraan doen. ‘n Internis sal vir jou goeie raad kan gee en behandeling voorskryf. Jy moet net onthou dat die bal in jou kant is. Jy is die een wat die verskil gaan maak. Kry ‘n nuwe momentum in jou lewe iets wat jou volledig in beslag sal neem. As jy voorbeelde soek kan ons praat.