Waarskuwing: Langtermyn Gebruik van Protonpomp-inhibitore (PPIs)

By | 18 Junie 2016

Die langtermyn gebruik van protonpomp-inhibitore (PPIs), ‘n medikasie teen sooibrand, is baie algemeen en mense drink dit soms jare lank as chroniese medikasie.  Hierdie pille (handelsname sluit in Altosec, Losec, Nexium, Omez en vele meer) is baie effektief.  Dit skakel in die meeste gevalle sooibrand uit deurdat dit die vorming van maagsuur belemmer deur die maag se protonpomp te blokkeer, vandaar die naam. (Suur word in die pariëtale selle in die maagslymvlies gevorm, en word dan fisiologies “uitgepomp” na die binnekant van die maag).

Normaalweg skei die selle in die maagwand sterk suur af sodat die suurgraad van die maag ‘n pH van 1 het  (die laagste grens van suur meting in die natuur)  Hierdie maagsuur speel ‘n belangrike rol in die vertering van kos en vernietig ook die kieme in die kos wat ons eet.

Wanneer hierdie belangrike fisiologiese meganisme geblokkeer of beskadig word, kan dit verskeie newe-effekte veroorsaak:
Fotolia_104805012_XS

  • Die kos in die maag en dunderm word nie meer gesteriliseer nie. Met normale suurvlakke in ons maagsuur kan ons letterlik ‘n glas vol bakterieë drink sonder om daarvan siek te word. Wanneer mense reis en op ander plekke eet, is hulle meer vatbaar vir gastroënteritis met braking en diaree. Wanneer iemand PPIs gebruik is die persoon ook meer vatbaar vir sulke siektes.  Een van die gevaarlikste soorte diaree word veroorsaak deur Clostridium difficile (C. diff) wat baie moeilik is om te behandel en die dood kan veroorsaak.
  • Langdurige gebruik veroorsaak gastriese atrofie: die slymvlies van die maag word dun en oneffektief.
  • Gastriese atrofie kan lei tot wanabsorpsie, met ander woorde gebrekkige absorpsie van voedingstowwe uit die dermkanaal. Kalsium en magnesium, asook yster en vitamien B 12 wat nodig is vir die vorming van rooibloedselle en brein (senuwee)- weefsel is veral hier ter sprake.
  • Dit verander die mikrobioom in die dermkanaal. Die mikrobioom speel ‘n rol in ons weerstand teen siektes, die absorpsie van voedingstowwe, gewigstoename (!) en vervetting van die lewer.  Tekorte van hierdie belangrike minerale veroorsaak verskeie siektetoestande.
  • Te min kalsium (weens wanabsorpsie van die dermkanaal na langdurige PPI gebruik) veroorsaak onder andere osteoporose met die verhoogde risiko van frakture –  ons sien dikwels werwelkollaps en heupfrakture.
  • Die uitruiling van kalsium en magnesium oor die selmembrane van al ons organe is die sleutel tot verskeie metaboliese prosesse in die liggaam, waaronder die vorming van been en ‘n sterk skelet, die gesondheid en krag van al ons spiere en vele meer. Te min magnesium kan erge spierkrampe veroorsaak (en onthou die hart en die diafragma is ook spiere). Magnesium is verder belangrik in die absorpsie van sommige medisynes, waaronder Digoksien wat vir hartversaking voorgeskryf word.

PPIs is nou in Suid-Afrika beskikbaar vir ongeveer 30 jaar, en op hierdie stadium word al meer bekend oor die langtermyngevolge van chroniese gebruik daarvan.  Navorsing dui op beskadiging van die niere met verlaagde nierfunksie (deurdat die buise van Henley beskadig word), vinniger veroudering van die vel, en ‘n verhoogde insidensie van longinfeksies.

Adult Son Talking To Depressed Father At Home

‘n Ontstellende bevinding is dat dit ‘n rol kan speel in die ontstaan van Alzheimer se siekte.  Heelwat navorsing word tans daaroor gedoen.  Die verduideliking is die volgende: die sogenaamde protonpomp kom nie net in die maag voor nie, maar ook in ander organe, waaronder die brein.  As ‘n mens ‘n protonpomp-inhibitor drink, beïnvloed dit dus nie net die maagslymvlies nie, maar ook die brein.  Die suurgraad in die brein is belangrik om die neerlegging van ‘n substans wat ons amiloïed noem te verhoed.  In die brein van mense met Alzheimer se siekte is die teenwoordigheid van amiloïed opvallend, terwyl daar geen in ‘n normale brein teenwoordig is nie.

Wat is dan die rol en die waarde van die PPIs?  Hierdie medisyne het die behandeling van maagsere (peptiese ulkus) gerevolusioniseer.  ‘n Bloeiende maagseer kan die dood veroorsaak, en vroeër jare is gedeeltes van die maag chirurgies uitgesny (gedeeltelike gastrektomie).  Die Vagus-senuwee, wat ‘n rol speel in die afskeiding van maagsuur, is afgesny.  Hierdie operasies het langtermyn baie nadelige newe-effekte gehad en hierdie pasiënte het nooit weer ‘n normale lewe gehad nie. Met ‘n binne-aarse PPI kan hierdie bloeding letterlik binne minute gestop word en die ulkus sal heeltemal herstel.

Photorealistic illustration of human stomach with heartburn disease

PPIs is nuttig om erge sooibrand heeltemal te stop.  Sooibrand gaan gepaard met refluks (die opstoot van maaginhoud in die slukderm), en die suur brand dan die sensitiewe slymvlies van die slukderm.  PPIs verhoed nie refluks nie, dit gebeur nog steeds, maar aangesien daar minder suur in is brand dit nie die slukderm nie.

Wêreldwyd word nou aanbeveel dat PPIs slegs vir kort tydperke gebruik word. Dis bekend dat mense afhanklik word aan die effek daarvan.  Eksperimenteel is bevind dat as mense wat nog nooit sooibrand gehad het nie vir ‘n maand lank ‘n PPI drink, hulle daarna sooibrand kry as hulle dit staak.

Waarheen dan nou met sooibrand? Sooibrand is dikwels die ligaam se manier om protes aan te teken teen verkeerde eetgewoontes, verkeerde lewenstyl, rook en dies meer.  Om die sooibrand af te skakel is om die boodskappertjie dood te slaan.

Hanteer dus sooibrand logies deur die oorsake uit te skakel.  Mense weet dikwels wat hulle sooibrand veroorsaak.  Vermy daardie kosse en vloeistowwe!  Die wye gebruik van gaskoeldrank en gasbevattende drankies het die voorkoms van sooibrand baie verhoog.  Dit is tog ‘n eienaardige gewoonte om iets te drink wat so vol gas is dat jy dit dadelik boontoe moet uitforseer deur te “burp”.  Jy forseer die sfinkterspier wat die ondereinde van die slukderm dig toe hou (en die maagsuur binne) oop en met verloop van tyd sal dit verslap.  Dis boonop ‘n onaantreklike geluid en sosiaal onaanvaarbaar.

Indien jy oorgewig is, help gewigsverlies om sooibrand te verminder.  Die teenwoordigheid van baie buikvet veroorsaak groot opwaartse drukking op die diafragma, wat bydra tot sooibrand.Too Fat

Ons het 20 jaar gelede navorsing gedoen op mense wat vir ‘n jaar lank ‘n PPI gedrink het.  Feitlik almal het gewig opgetel.  Een man het gesê: vantevore het ek verskriklik sooibrand gekry as ek selfs net een koeksister eet; nou kan ek ‘n hele bak vol opeet!  En hy het!  In die proses het hy 30 kg swaarder geword.

Suiker en soetgoed, kaffeïene, sterk speserye, brood en vetterige kos is moontlike oorsake van sooibrand.  Skakel uit wat jou affekteer. Gebruik anti-suur middels soos Gaviscon of Rennies wat net lokaal in die maag werk en nie die fisiologie van spysvertering beïnvloed nie.

Indien jy wel ‘n PPI nodig het, gebruik dit vir ‘n maksimum van 2 maande.  Of drink net af en toe enetjie wanneer jy nie anders kan nie, maar moet dit nie elke dag as chroniese medisyne neem nie.

Sien ook die artikel Waarheen dan met PPIs (protonpomp-inhibitore)? wat as opvolg tot hierdie artikel geskryf is.

5 thoughts on “Waarskuwing: Langtermyn Gebruik van Protonpomp-inhibitore (PPIs)

  1. Gerda

    Wil graag die studie vind/lees wat wys dat pasiente wat PPI lantermyngebruik se kanse tot 44% groter is om Alzheimers te kry. My Ma gebruik een van die produkte in jou artikel wat in Sarie gepubliseer is…baie kommerwekkend. Wa kan ek die studie bekom…my suster is n psigiater en sê syt nog nooit van so n studie gehoor nie…

    Hoop jy kan my help

    Reply
  2. Dorette

    Die artikel oor die langdurige gebruik van PPI is baie insiggewend maar terselfdertyd ontstellend. Ek gebruik vir die afgelope 3jaar 40mg PPI. Die afgelope maand het 2 gesprekke oor die chroniese gebruik van PPI my onrustig begin maak. Ek het dit met huisdokter bespreek wat die dosis verminder het na 20mg per dag. In die volgende week het die artikel verskyn. Ek het alreeds heelwat leefstylverandering gemaak maar is ek is bereid om nog verdere aanpassings te maak om die chroniese gebruik van PPI te staak. Wat is die proses om dit te staak. Moet ek geleidelik afskaal.

    Reply
    1. admin Post author

      Dorette, ‘n Mens kan die PPI onmiddelik stop. Baie mense kry dan ‘rebound’ sooibrand, maar dit klaar gewoonlik na ‘n tyd op. Probeer altyd om die onderliggende oorsaak van die sooibrand op te klaar. Drink PPIs so selde as moontlik en net wanneer dit regtig nodig is, eerder as om chronies ‘n daaglikse dosis te drink.

      Onthou dat die “protonpomp” die struktuur is wat die waterstof-ione in en uit ALLE selle pomp, dus affekteer dit letterlik elke sel in die hele liggaam. Hier is nog ‘n kommerwekkende artikel wat onderstreep dat langtermyn gebruik van PPIs waar moontlik vermy moet word: Popular heartburn drugs linked to higher death risk

      Groete,
      Dr Retief se Kuberkaptein

      Reply
  3. admin Post author

    Daar was baie navrae oor hierdie artikel en Dr Retief ‘n opvolgartikel geskryf om meer duidelikheid te probeer gee.

    Let assblief op die blog se beleid oor kommentaar en vrae. Dit is ongelukkig nie moontlik of eties aanvaarbaar om ‘n diagnose of mediese opinie te gee op grond van ‘n paar sinne in kuberruimte nie. As Kuberkaptein stuur ek persoonlike vrae wat op die blog gevra word nie eers vir Dok Francois aan nie.

    Die doel van die blog is om algemene mediese inligting vrylik en gratis beskikbaar te maak, nie om diagnoses, individuele oplossings of persoonlike antwoorde te verskaf nie.

    Vir enige spesifieke simptome, siektes of probleme, maak asseblief ‘n afspraak by u dokter. Verskeie pasiënte het gevra of hulle hulle PPIs moet stop en watter alternatiewe beskikbaar is. Soos genoem in die opvolgartikel, is daar sekere pasiënte vir wie PPIs steeds chronies voorgeskryf kan word, aangesien die voordele van die medikasie in sommige gevalle swaarder weeg as die gevare en newe-effekte. Bespreek asseblief die saak met u dokter as u tans chronies op PPIs is en wil weet of u die behandeling moet staak.

    Groete,
    Dr Retief se Kuberkaptein

    Reply

Laat 'n boodskap aan admin Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui