Hormoonvervangingsterapie (HRT=hormone replacement therapy) word baie algemeen voorgeskryf met baie goeie resultate. Daar is egter vir baie jare reeds kontroversie oor die wenslikheid daarvan en of die voordele die gevare oortref.
Sommige mense is van mening dat daar nie nut is daarin om hormoonterapie te gee wanneer ‘n vrou se voortplantingsjare verby is nie, of dat die risiko daaraan verbonde die voordele oortref.
Die baie groot waarde van verligting van post-menopusale simptome soos veral warm gloede (wat vir baie jare kan voortduur en uiters onaangenaam is), nagsweet, swaminfeksies van die vel as gevolg daarvan, droë vagina en vel, en ander lastighede, dra egter daartoe by dat baie vroue bereid is om die (klein) risiko te loop.
Die waardevolle hormoon hier is estrogeen, wat bogenoemde simptome teenwerk. Estrogeen speel ‘n baie belangrike rol in die vrugbare jare om die endometrium (voering van die baarmoeder) dik en bloedvatryk te maak vir in geval ‘n bevrugte ovum daar geïnplanteer moet word. Indien daar nie bevrugting plaasgevind het nie, word progesteroon deur die eierstokke afgeskei en die endometrium word weer afgebreek en as menstruele bloeding vrygestel: die maandelikse siklus van menstruasie.
Indien die vrou nie ‘n histerektomie gehad het nie en sy HRT wil gebruik, word gewoonlik ook progesteroon gegee om die afbreek van die endometrium te inisieer en te verhoed dat dit oorgestimuleer word.
Farmaseutiese maatskappye het lank prober bewys dat HRT die insidensie van hartsiektes by vroue kan veminder, maar dis onomwonde bewys dat dit geen voordeel in daardie verband inhou nie. Voorkoming van hartsiekte is egter hoegenaamd nie die rede hoekom vroue estrogeen gebruik nie – dit word hoofsaaklik gebruik om die simptome van die menopause te verlig.
Die gevaar van ‘n groter risiko vir ‘n pulmonale embolus (bloedklont in die long) of ‘n diep veneuse trombose in die kuit, is ook lank gebruik as argument van waarom HRT onwenslik is.
Die ander belangrike risiko is die moontlike ontstaan van borskanker (veral waar daar ‘n familiegeskiedenis van borskanker is) en ook kanker van die baarmoedervoering as gevolg van die stimulasie-effek van die hormone.
‘n Vroeëre artikel soos gepubliseer in die Women’s Health Initiative het aangekondig dat daar ‘n verband is tussen hormoonvervanging en ‘n verhoogde risiko van borskanker, hartaanvalle en beroerte. Hulle bevindings het aangedui dat hormoonvervanging in post- menopausale vrouens die kans vir borskanker met 75% verhoog, maar dit was net in gevalle waar beide estrogeen en progesteroon geneem was. Estrogeen alleen het geen verhoogde insidensie veroorsaak nie.
Vroeër vanjaar in ‘n artikel in die Lancet Oncology waarin hierdie risiko’s weereens onder oë geneem is, veral die insidensie van borskanker en mortaliteit in post -menopousale vrouens met ‘n histerektomie, het die bevindings gewys dat estrogeen ‘n vrou se risiko om borskanker te kry met 20% verminder, en die risiko om te sterf as gevolg van hierdie kanker met 63%.
Professor Davy het na aanleiding van dieselfde artikel wat gerapporteer is in die Medical Chronicle van Junie 2012 gesê dat: “Die voordele van hormoonvervanging, veral vir vrouens onder 60, is baie groter as die risiko’s, en kan volledig die simptome geassosieer met die menopouse verlig en ‘n betekenisvolle verbeterde lewenskwaliteit teweeg bring”.
Hy sê ook dat hormoonvervanging help om verharding en arterosklerose van bloedvate te voorkom en so die risiko van hartaanvalle en beroertes te verminder.
Ek dink dat die debat oor hormoonvervanging waarskynlik nog nie verby is nie, maar die meeste artikels en navorsing dui daarop dat dit veilig is en dat dit ‘n baie groot verskil kan maak aan die
lewenskwaliteit van ons pasiënte.
Interessant is dat die gebruik van hormoonvervangingsterapie by ouer mans nou ook op die voorgrond begin tree, en dat baie mans dit reeds gereeld gebruik. Die risiko daaraan sou wees dat prostaatkanker aangewakker kan word. Ons verwag nog heelwat polemiek or hierdie onderwerp vorentoe.