Stories vir die Vaak

By | 13 April 2009

Slaap

Slaap is een van die wonders van die lewe wat oor jare met belangstelling nagevors is, en heelwat is reeds bekend van die komplekse fisiologiese prossesse wat plaasvind.  Is dit nie vreemd dat so ‘n eenvoudige proses soos “aan die slaap raak” nie aan ‘n  ander persoon verduidelik kan word nie?  Wat is nodig om te kan slaap?  Solank ons nie positief probeer om aan slaap te dink nie,  gebeur dit vanself,  maar die proses van dink jaag die slaap dadelik weg. (Neurofisiologies moet die brein ratte verander vanaf ‘n  wakker-hou stelsel wat as senuwee- oordragstowwe asetielcholien  en noradrenalien gebruik, na  slaap-oordragstowwe soos adenosien en GABA (gamma amino bottersuur)  wat die hele brein kalmer en non-responsief maak)

Adrenalien (wat ‘n streshormoon is) sal styg tydens strestye soos eksamens,  gesinskrisisse,  finansiёle markte wat in duie stort, en dit is juis adrenalien wat ons wakker hou. Indien vog van die brein van ‘n hond wat wakker gehou word in ‘n ander hond gespuit word raak hy dan dadelik aan die slaap.

Dat die Bybel slaap  beloof  – die slaap van die regverdige aan God se kinders  – maak dat ek boonop skuldig kan voel omdat ek slapeloos is in die moeilike tye. Die Spreukedigter vergelyk die rustelose slaap van die ryke in sy oordaad met die goeie slaap van die arme in sy meer eenvoudige maar matige lewe ( dit help my ook nie).

Gelukkig herstel die slaapparoon in die meerderheid van die mense na die strestyd verby is.  In ‘n klein groepie word slapeloosheid nou ‘n onafhanklike selfonderhoudende siekte. Daar het ‘n fundamentele denkverandering oor slaap ingetree waaroor geen beheer uitgeoefen kan word nie.  Om weer te kan slaap, word ‘n obsessie: mense voer verskillende bed-toe-gaan rituele uit, begin later slaappille drink. Die meeste slaappille werk deurdat die vlakke van GABA verhoog. Mense raak verslaaf aan die pille sowel as die EFFEK van die pille, en die drink van die pil programmeer hulle as ‘t ware om te slaap.

Julle sal onthou dat ‘n goeie nagrus en genoeg slaap  een van die hoekstene van goeie gesondheid is, soos bespreek in die aanvanklike gesondheidsriglyne wat ek gegee het.

Is daar bewyse dat slaap noodsaaklik is en wat is die basiese fisiologie van slaap?

Alle  soogdiere,  voёls en feitlik ook alle visse, amfibiёrs en reptiele slaap gereeld;  selfs plante het tydperke van rus.  Hierdie sikliese fases volg die daglig-ure.  Indien die lig gemanipuleer word deur aanhoudende ligblootstelling of aanhoudende donkerte volg die siklusse steeds,  maar verander na 24-uur siklusse.  Langdurige weerhouding van slaap het ernstige gevolge.

Slaap word ingelei deur ‘n progressiewe onttrekking van bewussyn van die omgewing.  Die liggaamstemperatuur begin daal (daarom verkies ons om onder ‘n kombers te slaap);  verskeie hormone begin verander en sekere neurologies prosesse speel af.  Daar is fases van lae en hoё  spiertonus;  asemhaling verstadig en versnel;  spierbewegings verlaag en verhoog; vinnige heen- en- weer oogbewegings kom voor, wat die sogenaamde REM-slaap (” rapid eye movement”) aandui.  Slaap word in REM- en non-REM-fases ingedeel.

Non-REM-slaap het weer drie fases van verskillende diepte en EEG- beelde of breingolwe.       REM- slaap word gekenmerk deur verlamming van alle spiere behalwe die oog en asemhaling (dit is die tydperk van drome en verklaar waarom ‘n mens in ‘n nagmerrie nie kan weghardloop van die bedreiging nie).

Waarom het die liggaam slaap nodig?

Dit is bekend dat ons brein tydens slaap die inligting van die dag verwerk en vaslê, as’t ware al die dag se inligting liasseer op die regte plekke.  Dis hoekom drome ‘n verskeidenheid van geheue-flitse is  –  as die laai waarin die tersaaklike inligting gehou word, “oopgetrek” word, onthou ons baie van vorige soortgelyke gebeure.    Sonder die slaap word kennis nie vasgelê nie en onthou die student dit nie.   Ons het almal ondervind dat ons in die aand gaan slaap met ‘n onopgeloste probleem, en in die oggend wakker word met die antwoord.   Die fantastiese rekenaar wat die brein is, het in die nag al die inligting deurgegaan en vir ons die antwoord uitgewerk.

Serkadiese ritmes.

Die hartpionier Dr Chris Barnard het in sy boek ‘n Duitse industrialis aangehaal wat op kringtelevisie gesien het hoe sy werkerskorps deur die bank almal êrens in die dag ‘n uiltjie knip, soms net enkele minute lank. Dit het hom laat besluit om een stoor in te rig met individuele slaapbanke en elke personeellid moes een maal per dag gaan lê. Die gevolg was dat produktiwiteit in sy fabrieke met 25% gestyg het.

Chris Barnard het ook slaap as voorskrif vir hart-gesondheid aanbeveel.

Daar  is bewyse dat die meeste mense minstens twee maal per dag ‘n bewussynsinsinking beleef en uitermate vaak word. Dit is nie die gevolg van ‘n ete nie,  maar is deel van die serkadiese ritme in die mens. Ons het almal ‘n biologiese klok wat ‘n konstante afteller is en aanhoudend hormonale sekresies en die hele liggaamshuishouding bestuur.  Mense het bv.’n voedingsrefleks wat +- elke 2 uur in aksie kom.

Die slaapklok werk op 12-uurlikse episodiese slaapritmes, wat kan wissel by verskillende mense.  As die klok nou inskop om 14:00 sal ons die vaak teenwerk met ‘n koppie koffie of aktiwiteit. Alle slaapskuld moet egter vroeёr of later terugbetaal word. Nou sal die volgende slag van die biologiese klok 02:00 slaan en dan nog heewat ure van diep slaap verseker.

In primitiewe gemeenskappe wat nie elektriese beligting het nie sien ons ander patrone met ‘n “eerste slaap, waaktyd en na-slaap”

Die effek van slapeloosheid en te min slaap, bv. kinders wat te laat in die bed kom (TV kyk of sommer net saans rondploeter)

Groei en opbou van die liggaam (anabolisme) vind hoofsaaklik tydens slaap plaas, d.w.s.  groei van die liggaam, ontwikkeling van die brein, o.a. deur groeihormoon. Volwassenes skei ook tydens slaap groeihormoon af  om die dag se afbraakprosesse (katabolisme ) om te keer.  Die slapeloosheids-effek is dan dat die dag se lewenskade nie herstel nie,  met versnelde veroudering, soos sigbaar is in sakke om die oё en blou kringe.

Jong mense wat min slaap sal ook die hormoonprofiel van ‘n ouer persoon ontwikkel. Studente in ‘n eksperiment by die Universiteit van Harvard het insulienweerstand ontwikkel soos ou mans wat nie enige oefening kry nie. Die immuunsisteem raak nou afgetakel,  die aantal witselle in die bloed (die liggaam se weermag ) verminder en proefdiere kan doodgaan aan oorweldigende infeksies (septisemie).

**** Sedert die honde- eksperiment is baie substanse gevind wat slaap induseer. Hulle het feitlik almal te doen met die immuunrespons en ons weerstand teen infeksies, outo-immuuunsiektes  ens.

Die effekte van min slaap op die brein is verspreid.  Eerstens volg gebrekkige konsentrasie met vertraagde reaksies wat nie onderskeibaar is van alkoholiese intoksikasie nie;  daarna swak oordeel, en  flagrante onakkuraatheid wanneer  foute begaan word wat lewensbedreigende situasies tot gevolg kan hê (bv.agter die stuurwiel aan die slaap raak).

Met min slaap  kan niks nuuts geleer of onthou word nie. (Een van die kritiese anaboliese prosesse is die ontwikkeling van 60 miljoen stamselle in die hippokampus van die brein elke dag, wat meestal afsterf indien hulle  nie gebruik word nie)

Dit is goed bekend dat mense baie meer eet wanneer hulle min slaap, maar die ongekontroleerde gewigstoename tydens min slaap is ook te wyte aan die hormonale effekte wat gewigstoename stimuleer.

In die vroeё ontwikkeling van die brein veroorsaak min slaap vertraagde ontwikkeling en ook die dood van ontwikkelende breinselle, met verminderde breinmassa.

Tipes slaap-afwykings:

Primêre slaap-afwykings is o.a. hiperaktiwiteit by kinders,  slaap- apnee,  narkolepsie (‘n tipe epilepsie), primêre insomnia,   periodiese ledemaat bewegingsiekte,  rustelose bene-sindroom, serkariese ritme-afwykings.

Slaaploosheid as gevolg van pyn, siektes, stimulante, stres.  Behandel die oorsaak.

Ouer mense het dieselfde hoeveelheid slaap nodig maar hulle verloor soms die vermoё om slaap te konsolideer, en slaap dan deur die 24 uur meer dikwels in korter episodes.

Wat kan ek self doen. Die 15 min reel.

  • 1) Herken die probleem.
  • 2) Hanteer alle steurende mediese toestande effektief. Stel ‘n slaapdagboek op oor twee weke (wanneer bed, toe wanneer wakker, opstaantyd).
  • 3) Begin terselfdertyd met die slaapprogram. Moet nie meer as 5 uur (maksimum 6 uur) in die bed deurbring in die nag nie. Die 15 minute reёl bepaal dat, indien jy na 15 minute nie aan die slaap geraak het nie, jy moet opstaan en ‘n boek lees tot jy weer vaak is. Dan kan jy terugkeer bed toe en weereens vir 15 minute probeer slaap, en so die siklus herhaal. Elke derde nag word een van die goeie hipnotiese middels voorgeskryf. Dit kan dan later onttrek word. Die biologiese kragte wat slaap beheer sal die patroon herstel oor die verlop van ‘n paar weke.

Medikasie .

Verskeie middels in verskillende klasse kan van groot waarde wees. Almal het voor- en nadele en verskillende werkswyses met wisselende newe-effekte, en moet individueel aangepas.  Soms moet besluit word wat sal ‘n aanvaarbare newe-effek wees indien opgeweeg word teen die voordeel.

4 thoughts on “Stories vir die Vaak

  1. Eliana

    Geagte Dr, dankie vir veranderde lewensstyl en baie meer energie. Jammer oor verbreking van telefoongesprek. Weens verhoogde aktiwiteite bedags, word daar beter geslaap snags, en is die medikasie vir 7 dae nie op hierdie stadium nodig nie. In besonder ook om dankie te se vir leersame artikels – dit word in diepte bestudeer en van toepassing gemaak soos nodig. Groete Folkers en Eliana

    Reply
    1. docfrancois

      Eliana en Folkers, herlik om van julle te hoor. Die tyd het so vinnig verbygegaan, ek hoop dat dit nog steeds goed gaan met julle. Soms kan ‘n mens ‘n sekere persentasie van gesonde “common sense” in jou lewe inbou. Dit is nie deel van die seremonieele of die morele wette nie. Dit is blote natuurwette wat ons almal verstaan en dit begin gewoonlik by die wet van swaartekrag ens. Groete.

      Reply
  2. Lizaan van Heerden

    Dr Retief, weet nie of dr my onthou nie, maar ek is Willouw van Heerden se vrou. Hy is met Q-fever deur u gediagnoseer, en later met Still’s disease na verwysing na Dr Pienaar in Bloem. Willouw is oorlede op 26 November 2008, na ‘n lang lyding, maar baie liefde en ‘n baie goeie voorbeeld. Ek en my 2 kleingoed mis hom so! Ek wil net vir Dr. baie dankie se vir al die moeite en bemoediging gedurende sy siekte. Ook vir u wysheid. Ons sal daardie tyd nooit vergeet nie. Ek sal ook af en toe hier kom lees. Hoop dit gaan goed. Lizaan, Victoria-Wes

    Reply
    1. docfrancois

      Beste Lizaan. Ek dink nog dikwels aan Willow; wat ‘n ‘n uitsonderlike persoon was hy nie! Dit is ‘n verlies dat ek net die vooreg gehad het om hom te ken is sy laaste siekte, maar sy stille vertroue op Onse Hemelse Vader en die lydsaamheid waarmee hy die siekte gedra het sonder klae en met vertroue sal my altyd bybly. Ek herhaal die aanbod en bereidheid om tehelp as ek enigsins kan en ek weet dat die Goeie Herder julle sal lei na stille waters waar rus julle sal niks kortkom nie.
      baie seeninge en oorvloed.

      Reply

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui