Osteoporose en die storie van melk

By | 3 Februarie 2009

milk3

OSTEOPOROSE is ‘n sluipende siekte wat ons altyd onverhoeds betrap.  Die mees ontstellende feit i.v.m. osteoporose is die lae lewenskwaliteit wat deel is van die siekte nog voordat dit enige simptome veroorsaak. In groot reekse het 41% van osteoporose-lyers baie swak lewenskwaliteit teenoor net 11% in ‘n kontrole groep.

Been is kompleks omdat dit enersyds ‘n hefboom moet wees wat nie meegee nie,   maar andersyds elasties genoeg moet wees om maksimaal skok te kan absorbeer.  Frakture van rugwerwels het ernstige effekte op lokomotoriese funksie,  maar die pasiёnt  verlooor ook  9% van sy longfunksie  met elke werwel wat kollabeer a.g.v. osteoporose, sodat hierdie mense selfs kan sterf in respiratoriese versaking omdat die longe eenvoudig nie meer kan uitsit met asemhaling nie. 

Die syfers oor osteoporose is nie algemeen bekend nie,  maar 20% van mense wat ‘n heupfraktuur opdoen,  sterf binne die eerste jaar en 50% is nooit weer volledig onafhanklik nie .   Voor heupvervangingsoperasies was dit ‘n doodsvonnis, en die operasies is nie orals beskikbaar of bekostigbaar nie.   Kollaps van rugwerwels is ‘n baie ernstige en pynlike toestand wat erge debilitasie veroorsaak.

 Feite oor been:  Been ontstaan as ‘n vlegwerk van kollagene weefsel wat dan verkalk word deur die liggaam.  Been bly lewenslank lewende weefsel.  “Moment of inertia” is ‘n fisiese begrip wat breekkrag verteenwoordig van ‘n been.  Weens fisiese en chemiese faktore is been die sterkste materiaal bekend en pond vir pond onoortrefbaar. Die verouderingsproses het verskeie effekte op die mens, wat agteruitgang van been, spiere, senuwees, hormonale profiele en vele ander faktore insluit.

Kalsium is die sleutel katioon verantwoordelik vir mineralisasie van been  –  maar kalsium is ook essensieel vir bloedstolling,  neuro-transmissie in senuwees, spiersametrekking (ook van die hart en die arteries), die tonus van bloedvate.

Vitamien D is  saam met kalsium vir normale beenvorming nodig.  Vit  D  verlig ook stress, angs, pyn and depressie. Slegs 10 minute volle sonlig op die vel per dag is genoeg vir die liggaam om self al die Vit D te maak wat nodig is;  of 400 mg as tablet per dag.  In lande met lang winters en min sonskyn kry die hele bevolking ‘n kollektiewe depressive a.g.v. die gebrek aan Vit D; en kinders wat nie in die son kom nie en boonop min melk inneem, kry ragitis (skeletale  verswakking waar been sag bly, nie kan verhard nie as gevolg van ‘n gebrek aan kalsium en Vit. D),  en waar die bene letterlik ombuig as die kind sy eie gewig moet dra, soos op skokkende wyse in hedendaagse Johannesburg gevind word waar klein kinders die hele dag in ‘n kamer in ‘n woonstelblok opgepas word.

 Voorkoming is die wagwoord:

Maak baie seker dat veral groeiende kinders genoeg melk  drink (of kalsium in ‘n ander vorm as die kind melkonverdraagsaamheid het).  ‘n Liter melk (afgeroom indien kaloriebeperking nodig is) verskaf genoeg kalsium per dag en dit geld vir kinders sowel as volwassenes.

Bo en behalwe voldoende inname van kalsium en Vit D,  is oefening ‘n belangrike modaliteit van voorkomende behandeling.  Nie-gewigdraende oefening soos aerobiese oefening, swem,  fietsry ens het geen effek in die behandeling of voorkoming van osteoporose sover dit beendigtheid aangaan nie.  Die ander effekte van al hierdie oefening is natuurlik steeds baie gunstig!!.   

Die tipe oefening wat beendigtheid verbeter kan in drie S’e saamgevat word:

  • Skok (strike)
  • Sterkte (strength)
  • Strek (stretch).

Bokant 30-jarige ouderdom verloor ons  .3-.5% van ons skelet per jaar.   Dit versnel tot selfs 2-4% menopausale verlies vir +/- 10 jaar.  Vroue kan maklik  25% van die hele skelet verloor in die paar jaar.  Vroue het ‘ n lewensrisiko van 40% vir vertebrale frakture, en ‘n bietjie  laer vir femur fraktuur.  Mans het ‘n  18% risiko vir vertebrale frakture en ‘n 6% risiko vir femurfrakture.

 Addisionele risiko’s vir osteoporose is legio, onder andere:    Ouderdom,   vroulike geslag,   ras (swart rasse het ‘n baie lae risiko),   rook,  post- menopousale hormoonprofiel,   familiegeskiedenis van osteoporose (ma of ouma het ‘n boggelruggie ontwikkel),   lae liggaamsgewig (baie maer mense)  onaktiwiteit,  hipogonadisme,  verskeie hormoonafwykings,   rumatoïede artritis en baie ander. 

Die voorkoming van osteoporose is ‘n voorbeeld van een van die moderne tyd siektes wat goed met samewerking in ‘n groep aangepak kan word soos oefengroepe,  gewigsverliesprogramme,  rookstaakprogramme,  diabetiese ondersteuningsgroepe en vele ander. 

Meer oor melk

The greatest obstacle to progress is not ignorance but the illusion of knowledge(Barry Marshall)

Die nie-melkliefhebbers sê dikwels smalend  dat melk bedoel is vir kalwers en nie vir mense nie.   Is melk gevaarlik of nadelig? Ons moet onthou dat mense deur al die eeue melk gedrink het en in baie gevalle van melk afhanklik was vir kos.  Dit is bo alle twyfel bewys dat melk al die makronutriёnte (proteïen, koolhidrate, en vet wat die vetoplosbare vitamienes A, D,E en K bevat) verskaf.   

Melkproteïen het ‘n besonder hoё biologiese waarde.   Voor die tyd van allerhande –  dikwels sintetiese en nadelige  –  spierbouende maaksels wat aan oningeligte atlete en gimnasiumondersteuners verkwansel word,  het  kragatlete vroeёr net afgeroomde melk as kragvoedsel gebruik.   Dit was waarskynlik baie beter as die duur en dikwels minderwaardige, sintetiese saamgestelde voedsels,  wat net in kombinasie met die toevoeging van gevaarlike en onwettige steroïedhormone enige effek het. 

Benewens die makronutriёnte bevat melk  ook minerale en spoorelemente:  kalsium,  magnesium,  selenium,  fosfate,  vitamiene A D E en K,  Vit B (riboflavien en niacien)  –  alles wat nodig is vir die bou van been maar ook vir algemene gesondheid. 

Genoeg melk in die dieet het ‘n belangrike effek  op vetmetabolisme,  en daar is heelwat navorsing gedoen op die effek van melk in ‘n gewigsverminderingsdieet.  Veral “boepensvet” smelt weg tydens gewigsverminderingsprogramme as genoeg melk gedrink word  (as kos, nie as vry drinkgoed nie) maar dit is ‘n ander storie.  Vit. D het, soos reeds genoem,   ook ‘n kritiese rol in die absorbsie en metabolisme van kalsium. 

Melk maak oor alle ouderdomme ‘n verskil aan ons osteoporose- risiko.  In jong mense kan dit die piekmassa van been met 10% verhoog, en dit hou been in stand  na die ouderdom van +/- 30-jarige leeftyd,  wanneer geen verdere neerlegging van been plaasvind nie.   Hierdie 10% ekstra been verhoed 50% frakture in latere leeftyd. Dis ‘n feit dat almal van ons osteoporose ontwikkel  soos die tyd aangaan, dus het diegene wat met ‘n groter, dikker beenmassa begin, ‘n beter kans om frakture vry te spring.  Beengesondheid word in ‘n alkaliese omgewing bevorder, dus is die groente en vrugte voorskrif wat ek in die eerste brief gegee het,  nog steeds in die kol. 

Negatiewe effek op beenvorming:

  1. Genetika bepaal 60-80% van ons beenmassa,  maar juis dit maak aan die anderkant dieet en oefening so krities belangrik.
  2. Hoё  soutinname veroorsaak hoё urinêre uitskeiding van kalsium
  3. Rook versnel osteoporose baie erg, en is HEELTEMAL VOORKOMBAAR.  HOU OP ROOK!!
  4. Alkohol vererger osteoporose.  Hoё alkoholinname gaan boonop gepaard met wanvoeding.
  5. Koffie ( meer as drie bekers vir mans per dag), koeldranke en vrugtesap gee swak bene waarskynlik agv die “melkverplasings-effek”  – die hoё kalorieё in sappe met origens weinig voedingswaarde, maak dat mense te min kos eet en ‘n mate van kalorie-wanvoeding ontwikkel.
  6. Meisies wat te skraal is, soos anoreksie-lyers, modelle, gimnaste en ballerinas,  loop ‘n groot risiko. Erika Goodman, een van die wêreld se bekende  ballerinas,  het op 54 jaar gesê:   “The really perverse irony of this is that what has been taken away from me,  are my legs”.   Meisies moet ‘n BMI van meer as 22 hê om gesond te wees.

 

2 thoughts on “Osteoporose en die storie van melk

  1. Karin

    Hi Dokter

    Ek het ‘n mantelvliesbreuk en nou wil ek net . Watse kosse kan ek eet en watter kosse moet ek los.

    Reply
    1. docfrancois

      Dankie Karin, Daar is baie menings maar daar is ‘n groot variasie in mense se reaksie. Die eerste wat in alle gevalle help, is om toe te sien dat jou middelyn onder beheer is (waneer jy jou hande op jou heupe plaas en direk daarbo meet moet die afstand minder as 88cm wees). So is kaloriebeperking dan nodig. Moet nie eet as jy nie honger is nie. Chemiese middels baie medikasies trisikliese antidepressante rook alkohol ens . Hoe kalorie vetterige voedsels en speserye ens mag bydrae.
      Spanning vererger dit en ons moet op ‘n plek van RUS kom. Indien jy ook instaat is om 2000 kaloriee (nie kilojoues nie)kan verbrand per week sal jy ook ver vorder op die pad van verligting.

      Reply

Laat 'n boodskap aan Karin Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui