Beleid oor opmerkings, kommentaar en vrae

Goeiedag blog-lesers,Global technology

Ek is Dokter Francois Retief se Kuberkaptein, met ander woorde die persoon wat hy aangestel het om die blog te bestuur.  Ek is sy oudste dogter en het self, as opgeleide arbeidsterapeut, ‘n mediese agtergrond.  Dokter Retief se vrou (my ma), wat ‘n dokter en mediese skryfster is, is ook betrokke by die blog.

Die leserstal het oor die afgelope jaar baie toegeneem en dit is ‘n riem onder die hart om te sien hoe die artikels gelees word.  Baie dankie vir die waardering wat u uitspreek.

Die blog het tans ‘n funksie wat dit moontlik maak om kommentaar te lewer op artikels.  Alle opmerkings word gestuur na my epos adres en eers geplaas nadat ek dit gelees het.

Ek hanteer opmerkings, kommentaar en vrae as volg:

  1. Opmerkings wat terugvoer gee op ‘n blog artikel of wat addisionele nuttige inligting oor ‘n onderwerp gee, word gewoonlik binne ‘n dag of twee nadat ek dit ontvang het geplaas.
  2. Lesers vra dikwels vir algemene mediese inligting oor ‘n spesifieke siektetoestand.  In die verlede het Dok Francois baie moeite gedoen om sulke vrae te probeer beantwoord, maar ek het gou besef dat dit onmoontlik is vir hom is om hiervoor tyd te maak in sy vol program, veral namate die blog se leserstal toegeneem het.  Tans neem ek kennis van hierdie vrae, maar ek stuur dit nie dadelik vir Dok Francois aan nie.  Eers wanneer daar ‘n paar vrae oor dieselfde onderwerp gevra is, noem ek aan Dok Francois dat daar ‘n behoefte is  na meer inligting en dan skryf hy op ‘n latere stadium daaroor.
  3. Soms vra ‘n leser ‘n vraag oor ‘n spesifieke probleem.  In sommige gevalle het die leser reeds een of meer dokters gekonsulteer.  Soms word die vraag gevra namens ‘n familielid of vriend.  Dit is ongelukkig nie moontlik of eties aanvaarbaar om ‘n diagnose of mediese opinie te gee op grond van ‘n paar sinne in kuberruimte nie.  Ek stuur dus nooit sulke vrae vir Dok Francois aan nie.

Dok Francois se blog het ontstaan om te voorsien in die groot behoefte aan praktiese, betroubare, verstaanbare, mediese inligting wat in Afrikaans geskryf is.  Die blog gee slegs algemene inligting, nie diagnoses, individuele oplossings of persoonlike antwoorde nie.

Maak ook asseblief seker dat u die voorwaardes en terme van hierdie blog aandagtig gelees het voordat u hierdie blog gebruik.

Belangrik:  Vir enige spesifieke simptome, siektes of probleme, maak asseblief ‘n afspraak by u huisdokter.

Groete,

Marina la Grange
Dok Francois se Kuberkaptein

4 thoughts on “Beleid oor opmerkings, kommentaar en vrae

  1. Leandri Leach

    My aarde, hier vind ek familie op die internet blog!!
    Francois Retief, Johan Retief (Dr Francois Retief se boetie) se seun was my man. Ons het die tweeling seuns ook Francois en Johan Retief.
    Ek dink julle blog is uitstekend!!!
    Liefde groete,
    Leandri Leach (Retief)

    Reply
    1. docfrancois

      Dit is so lekker om van jou te hoor, Leandri! Ek hoop dit gaan baie goed met jou en jou kinders. Ek sal jou liefde en groete oordra aan almal hier.

      Liefde,
      Marina

      Reply
    1. admin Post author

      Goeiedag Alta, Dr Retief beplan om binnekort nog artikels op die blog te plaas. Hoe dikwels daar artikels geplaas word hang af van hoe sy skedule lyk.

      Let asseblief op die beleid rondom vrae en opmerkings. Dr Retief kan ongelukkig nie individuele vrae op die blog antwoord nie vir die redes uiteengesit hierbo. Ironies genoeg word daar op hierdie einste bladsy baie persoonlike vrae gevra! Dit is egter nie moontlik om die vrae te plaas en te beantwoord nie.

      Groete,
      Dr Retief se Kuberkaptein

      Reply

Laat 'n boodskap aan admin Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui