Na aanleiding van die Coronavirus (Covid-19): Aspekte van lewe en dood

By | 26 Maart 2020

virus-4937553_1280Een van die opvallende feite oor die coronavirus (Covid-19) is die vrees wat dit by mense inboesem en die angs dat hulle daaraan sal doodgaan.  Die volgende aspek wat ter sprake kom is die vrees van die moderne mens vir die dood oor die algemeen.

Dit laat ons opnuut dink oor lewe en dood. Wat is lewe, en wat is dood?

‘n Funksionerende mens het hoofsaaklik 2 komponente wat lewe bepaal:  ‘n anatomies/fisiologiese tasbare struktuur wat in feitlik alle mense dieselfde is (ons hardeware) en ‘n onsigbare komponent wat van ons ‘n individu maak:  intellek, persoonlikheid, siel/gees (ons sagteware) wat selfstandigheid en volheid van lewe insluit  –  nie net die tenwoordigheid van asemhaling, hartklop en biologiese funksie nie.

Gesondheid sou dus gedefinieer kan word as die ideale staat waar altwee komponente volledig funksioneer. As die hardeware ophou werk, volg die dood, en dis ononderhandelbaar. Ons hedendaagse mense steek egter vas by die begrip van dood van die sagteware. Wanneer hou ‘n mens op om ‘n mens te wees?

Is iemand wat nie meer intellek of persoonlikheid het nie, nog lewend? Voldoen die groot aantal totaal verswakte en demente mense wat hulpeloos in beddens deur vreemdes versorg word, nog aan die definisie van lewe?  Waarom klou die familie verbete van aan behoud van hierdie “mense”, al word hulle soms met uitsondering besoek?   Mense het nie meer begrip van die proses van doodgaan nie.  Dit is ‘n feit waarmee ek daagliks in my praktyk as internis in een van ons gewilde aftree-dorpe te doen het, waar die verkoopbaarheid van afree-oorde deesdae gemeet word aan die teenwoordigheid van ‘n chroniese siekeboeg.

elderly-hospital-patient-1437289-640x480Die klein baba is afhanklik van voeding en versorging. Ons voer hulle met groot vreugde, ruil doeke, leer hulle woordjies, geniet die ontwikkeling van ‘n hulpelose klein mensie tot ‘n selfstandige kind.  In die laaste fases van ouderdom is die proses omgekeerd:  hulle moet weer gevoer word, doeke moet weer geruil word, hulle verloor die vermoë tot sinvolle kommunikasie, en dis baie hartseer wanneer die woord “kinds” ‘n werklikheid word, sonder die aangename vooruitsig wat ons by die baba het.

Een van ons groot probleme is dat mediese tegnologie mediese etiek verbygesteek het. Waarmee is die mediese wetenskap in hierdie gevalle besig? Ons kan mense feitlik onbepaald aan die lewe hou as ‘n biologiese preparaat, maar is dit gelykstaande aan Lewe?  Ek praat nie nou van geneesbare siektetoestande of beserings wat behandel word en die pasient gesond of dan goed genoeg funksionerend ontslaan kan word nie, maar van situasies waar daar geen hoop op verbetering of ‘n gunstige uitkoms kan wees nie.

Die statistieke van mediese fondse bewys dat die laaste paar maande van lewe die duurste is, en dikwels meer kos as wat die individu in sy hele leeftyd aan mediese uitgawes spandeer het. Die frenetiese geveg teen die (onvermydelike) dood is heeltemal futiel, en dit is hartseer dat mense dikwels desperaat na strooihalms gryp om net ‘n paar weke of maande langer te lewe, met dikwels baie swak lewenskwaliteit te wyte aan bestraling of chemoterapie van kankersoorte wat geen werklike verskil aan hulle lewensduur kan maak nie.  Dieselfde geld vir operasies op degeneratiewe toestande wat weinig nut inhou.

Dit is wel so dat die verwagting wat mense van moderne geneeskunde het, dikwels nie gegrond is nie.  Met mutilerende ongelukke of ingrypende operasies verwag die familie dat hulle dieselfde mens sal terugkry as voor die insident, en dit is dikwels nie die geval nie.  Die pasiente oorlewe meestal indien hulle goeie mediese sorg kan kry, maar die mens wat ontslaan word is selde weer wat hy/sy was.  Die behoud van intellek en persoonlikheid is ‘n uiters belangrike doelwit in die totale benadering tot hierdie pasiente.

aron-visuals-BXOXnQ26B7o-unsplashHoekom dan permanent nie-funksionerende wesens aan die lewe hou? Dikwels word dokters letterlik gedwing om mense as biologiese preparate aan die lewe te hou op aandrang van die familie. Ek vra myself dikwels af waarom die familie aandring: is dit uit skuldgevoelens? Gebrek aan insig oor die genade van sterf? Selfsugtige redes, soos om nie alleen te wil agterby nie? Afskuif van die verantwoordelikheid van besluitneming?  Ons moenie die genade van die dood ontken nie.  Ek sê dikwels vir familie: gee die pasiënt toestemming om te gaan.  Dit is verstommend hoe dikwels mense hulle lewe afsluit as die familie met liefde en deernis vir hulle hierdie toestemmming gee.

Dit is glad nie sinvol om demente mense met anti-biotika te behandel vir byvoorbeeld longinfeksies nie (wat hulle onder andere opdoen deurdat hulle nie self kan eet nie, gevoer word, dan stik en kos in die longe beland). In die ou dae was daar die gesegde: “pneumonia is the old man’s friend”  –  omdat dit ‘n vinnige, maklike afsluiting van lewe is.

Ons moenie inmeng met die gang van die Natuur nie.  Die Natuur is baie meer genadig as wat mense is.  Die mens is die kroon van die Skepping en moet as sulks gesien word. Ek dink dis ‘n groot vernedering om nie toegelaat te word om te sterf wanneer die lewe afgeloop het nie. Meer mense het deesdae ‘n “Living will”, wat baie goed is, want dit gee aan hulle kinders en naasbestaandes die vrede om nie self ‘n besluit hoef te neem nie, maar ek het selfs al gesien dat hierdie dokument geïgnoreer word deur ‘n versorger wat ‘n “baba” nodig het om te versorg vir hulle eie selfsugtige redes.

autumn-3186876_640Ek lees hierdie skokkende paragraaf in die Burger van Dinsdag 24 Maart, na aanleiding van maatreels wat getref is om bejaardes in ouetehuise te beskerm:  “Een van die werklikhede van Covid-19 is dat demensielyers en verswakte bejaardes blootgestel is aan die virus en ‘n groot gevaar loop om te sterf, maar dalk nie eers bewus is daarvan nie”.  Na aanleiding hiervan, vra ek myself af: Waarmee is ons besig?!

Die Prediker sê:   Daar is ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan, ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterf.  Ons is almal een dood skuldig, en ons is geseënd as dit eers op ‘n hoë ouderdom gebeur. “Mother Nature always bats last.” (Rob Watson)

Naskrif: Hierdie artikel gaan nie oor die Covid-19 as sulks nie  –  natuurlik is voorsorgmaatreels om verspreiding te bekamp van die uiterste belang.

Dit gaan ook NIE oor euthanasia nie, eerder oor die onvervreembare reg tot sinvolle lewe.

Lees gerus ook: Etiese dilemmas rondom die sterwensproses

5 thoughts on “Na aanleiding van die Coronavirus (Covid-19): Aspekte van lewe en dood

  1. Cathy Kroch

    Ek stem volkome saam met dr. Ek persoonlik sal wil gaan as die tyd daar is moet dit nie verleng nie.

    Reply
  2. E Krige

    Stem so 100% met u saam. Laat gaan. As dit iemand se tyd is, laat hom/haar gaan. As mens nie meer “bewustelik” lewe nie, wat is die punt. My ma het altyd gesê: Sometimes you have to be cruel to be kind.”

    Reply
  3. Martiens Mulder

    ‘n Uitstekende, opregte en myns insiens ‘n korrekte siening wat jy in hierdie artikel verwoord, dr. Retief!

    Reply
  4. Carol Koster

    Dankie. ek glo dit is baie pertinent op hierdie tyd om weer aan die waarde van regte lewe herrinner te word. Sterkte en krag vir u in hierdie vermoeiende tyd.

    Reply
  5. Dr Ronald A van Steenderen

    I fully agree with the statements made in Dr Retief’s article. When in a state of sheer hopelessness all one does is wait for the end and hope it’s quick and not having to endure pain. I’d say this only applies to cases to which we know that there is little chance of cure ,of which there are many, and are left to the mercy of strangers, like the cases mentioned in Dr Retief’s article. My feeling is that in many countries the idea of making it legal to end some ones life
    for humane reasons could well be used for “different reasons” however also. I don’t know how to express myself here correctly though.

    Reply

Laat 'n boodskap aan Martiens Mulder Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui