Gesond leef: 7-dae beginprogram

By | 29 Desember 2018

Goeie gesondheid kan ons baie gelukkige en produktiewe jare laat beleef.  Behoud van ons gesondheid soos wat ons ouer word speel oor die langtermyn ‘n kardinale rol in goeie lewenskwaliteit.

1. Doel van hierdie program

Die doel van hierdie program is om lewenskwaliteit te handhaaf of te verbeter sodat jy die lewe meer kan geniet.

Die teikengroep is ouer mense wat onafhanklik woon en op die stadium van hulle lewe is waar hulle beheer het oor hulle dagprogram, alhoewel alle ouderdomsgroepe die riglyne met vrug kan volg.

Senior couple playing tennis

Een van die dinge wat ouerwordende mense die meeste vrees, is dat hulle so swak sal word dat hulle hulle onafhanklikheid verloor en sorgbehoewend of bedlêend sal word. Hierdie program het ten doel om algehele gesondheid te verbeter en sodoende lewenskwaliteit te behou of verbeter.

Die program is gratis, individueel, en kan aangepas word by jou persoonlike voorkeure.  Hierdie is nie maar net nog ‘n lys van dieetvoorskrifte en oefeninge nie. Dit is ‘n omvattende gesondheidsprogram wat ‘n lewenstylaanpassing verg.

Die Wêreldgeondheidsorganisasie definieer gesondheid as welsyn van liggaam en gees.

Gesondwees is tot ‘n groot mate ‘n besluit wat ‘n mens neem en soos met alle doelwitte verg dit beplanning oor die kort, medium en langtermyn. Ouderdom is nie sinoniem met ‘n afname in liggaamskrag (alhoewel dit op die lang termyn wel gebeur) en toenemende kwale nie. Mense word deesdae baie ouer en met beter gesondheid en lewenskrag as voorheen. Dit is goed om so vroeg as moontlik te begin, maar selfs tagtigjariges wat onaktief is kan in ses weke hulle krag met tot 180% verhoog as hulle ‘n oefenprogram volg, en daarmee saam hulle intellek opskerp.

Doctor Holding Money with Focus on MoneyIn ‘n tyd van stygende mediese kostes en onsekerheid oor voldoende gesondheidsorg, is dit logies en relevant om mediese uitgawes so laag as moontlik te hou. Dit is veral die chroniese siektetoestande wat op die lang duur die meeste pyn, ongerief en uitgawes meebring.

Baie van hierdie toestande is grootliks voorkombaar, o.a. gewrigs- spier- en skeletale siektes en pyne, chroniese obstruktiewe lugwegsiekte en emfiseem, en iskemiese hartsiektes. Gekontroleerde navorsing in die Skandinawiese lande het gevind dat gesonde denkwyse en lewenstyl die beste manier is om Alzheimer se siekte en die intellektuele agteruitgang van ouderdom te voorkom.

Dink vir ‘n oomblik:

  • Hoe lyk en voel ek op hierdie stadium van my lewe?
  • Is daar iets wat ek nalaat/uitstel wat my lewenskwaliteit kan verbeter as ek dit nou aanpak of afhandel?
  • Is ek die mens wat ek graag wil wees, binne die raamwerk van my lewe?

Ons teiken is om veroudering en agteruitgang teë te werk deur die volgende:

  • Free Happy Woman Enjoying Nature. Beauty Girl Outdoor.Dink reg! Die brein is jou belangrikste orgaan en bepaal nie net jou denkprosesse nie, maar ook hoe gesond jy voel en veral hoe jy die uitdagings in jou lewe aanpak.
  • Verbeter en behou jou intellektuele vermoëns en kreatiwitiewe denkwyse.
  • Verbeter of behou ‘n voldoende aktiwiteits/oefeningsvlak om gemaklik te wees in alles wat jy in die loop van jou dag moet doen.
  • Volg ‘n gesonde eetpatroon, versorg jou dermkanaal op die regte manier, voel goed, en bereik of behou jou ideale gewig

Die kortste definisie van geluk wat ek gelees het (dikwels toegeskryf aan die filosoof Immanuel Kant, gebore 1724), lui: “someone to love, something to do, and something to hope for”. Voeg hierby goeie gesondheid, bou elke dag daaraan, en jy het die resep vir ‘n lewe van vrede en vreugde.

2. Uiteensetting van die program

Die program gee voorstelle vir al die aspekte wat in ‘n dag behoort te wees, byvoorbeeld:

  • sosiale kontak
  • lekker doendinge
  • strekprogramme
  • behoud van voldoende spierkrag en balans

people-2562352_6403. Stel doelwitte vir jouself

Wat wil jy graag in jou lewe hê? Trek ‘n papier nader en skryf gou vir jouself ‘n lysie.

Hier is ‘n paar voorbeelde van algemene doelwitte:

  • Meer kuier – meer kontak met mense/kinders/kleinkinders/familie
  • Meer nuttig voel
  • Die natuur meer geniet: sonlig, plante, sterre kyk
  • Meer produktief wees
  • Wil 3 grappe kan onthou
  • Wil meer blymoedig wees

IMG_20160911_151738Hier is voorbeelde van fisiese doelwitte:

  • Sonder hulp aantrek en myself versorg
  • Vinniger kan loop
  • Saam met my eggenoot/kleinkinders/hond kan gaan stap
  • Aansluit by ’n stapklub; Tafelberg/Sederberg/Drakensberg klim
  • My gholf- voorgee verbeter
  • Die tennis/rolbal klubkampioenskap wen
  • Gaan op ‘n natuurstaptog, bv in die Kruger Wildtuin
  • Saam strandaktiwiteite kan doen
  • Hele dag in die mall rondloop sonder om moeg te word (“mall walking” is deesdae ‘n bekende sportsoort!)
  • Leer duik
  • Van Bloubergstrand na Robbeneiland swem

Intellektuele doelwitte kan insluit:

  • Verbeter my geheue
  • Meer lees
  • Meer rekenaarvaardig (of selfoonvaardig) raak; kommunikasie moontlikhede
  • Leer iets nuuts by
  • Stig ‘n aktualiteitsbesprekingsgroep
  • Begin voëls kyk en identifiseer
  • Gesels met jou kinders/kleinkinders oor hulle werk/ideale, lees daaroor op en maak jouself deel van ander mense se werklikhede

Geestelike doelwitte kan wees:

  • people-2598752_640Lees die Bybel deur (met kommentare indien moontlik)
  • Lees elke dag ‘n hoofstuk in Spreuke (daar is 31 hoofstukke) en pas dit in jou dag toe
  • Lees meer Letterkunde/gedigte
  • Sit elke dag ‘n spesifieke tyd opsy vir gebede en meditasie
  • Raak betrokke by mense wat swaarkry (eensaamheid, hartseer, verlies aan selfstandigheid, siekte) in jou omgewing
  • Sluit aan by ‘n Bybelstudiegroep

4. Doen

Wat hier volg is voorstelle vir ‘n 7-dag beplannning wat beskryf hoe om sistematies te werk te gaan om die program se doelwitte te bereik. Doen elke dag die basiese stappe soos geskryf vir dag 1 en volg dan die verdere riglyne vir die spesifieke dag (kliek op elke dag se skakel om die dag se program oop te maak):

Dag 1Dag 2Dag 3Dag 4Dag 5Dag 6Dag 7

My gesondheids-“blog” www.dokfrancois.co.za bevat baie addisionele inligting wat verduidelik wat ‘n mens kan doen om jou gesondheid te behou of verbeter.  ‘n Goeie beginpunt is die artikel Hoe bly ‘n mens gesond?

One thought on “Gesond leef: 7-dae beginprogram

Laat 'n boodskap aan Ria Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui