Sinusse en sinusitis

By | 9 Maart 2014

Sinus human nasal cavity with human headDie sinusse is deel van die mens se lugweë, dit wil sê dit is organe wat in verbinding is met die buitewêreld en wat te doen het met asemhaling.  Die sinusse werk saam met die neus .  Dit is  rondom die neus gegroepeer in die skedel, en is  uitgevoer met dieselfde soort slymvlies (mukosa) as die neus self. Die sinusse open in die neusholte.

Die sinusse is holtes in die skedelbeen, op verskeie plekke:

  • 2 frontale sinusse: in die been van die voorkop, net bokant die wenkbroue, naby die neusbrug
  • 2 maksillêre sinusse: in die wangbene, onder die oë, langs die neus
  • ‘n aantal klein ethmoïedsinusse: in die skedel langs die neus, tussen die oë
  • die sfenoïedsinus, wat in die middel van die kop, agter die neus, in die skedelbeen geleë is.

Die slymvliese van die neus en sinusse het verskeie funksies:

  •  Hierdie slymvliese is baie bloedvatryk, en bevogtig en verwarm die lug wat ons inasem.
  • Die selle op die oppervlak van die slymvlies het klein borselhaartjies (cilia) wat stof en ander ingeasemde partiekels vasvang en “uitborsel” tot in die neus.

Die openinge waardeur die sinusse dreineer is klein en as hierdie klein opening toeswel (soos tydens ‘n verkoue, of wanneer iemand allergies is en al die slymvliese geswel is), kan die mukus nie dreineer nie en hoop dit op in die sinusholtes.  Hierdie mukus is gewoonlik steriel en mag ‘n gevoel van drukking veroorsaak, maar nie veel meer as dit nie.

Wanneer daar infeksie in hierdie vasgevangde mukus kom noem ons dit sinusitis, wat meer simptome kan veroorsaak:

  • dikwels ‘n gevoel van stuwing of drukking,
  • hoofpyn,
  • oorpyn,
  • en in erge gevalle koors en sistemiese siekte.

Beautiful young woman with sinus pressure.

Enige van of al die sinusse kan aangetas wees, en die pyn en drukteerheid sal ‘n aanduidig wees in watter sinus die probleem geleë is.  Allergie hang dikwels saam met sinusitis, omdat allergieë baie meer mukus veroorsaak en ook swelling van die slymvliese, sodat die sinus-openinge vir lang tye geblokkeer is.

Die logiese manier om ophoping van mukus in die sinusse te verhoed is om die neus oop te hou, sodat die sinusse deur die openinge kan dreineer.  Hier kom ons nou by nog een van die sosiale gewoontes van ons tyd wat ons gesondheid benadeel:  die gebruik van ‘n sakdoek is die verkeerdste ding wat ‘n mens jou neus en lugweë kan aandoen.  Wanneer ‘n mens jou neus in ‘n sakdoek blaas, bou jy positiewe druk op wat letterlik mukus en ook infektiewe material uit jou neus terugblaas in die sinusholtes in.  Die gebruik van ‘n sakdoek bevorder dus sinusitis en hou dit in stand.

Vergelyk daarmee die fisiologiese beginsel van ‘n vakuum wat negatiewe druk veroorsaak en letterlik ‘n suigkrag uitoefen (die wetenskap noem dit die Venturi-effek).  As ‘n mens dus ordentlik snuif, nie net oppervlakkig nie maar diep agter in jou keel, suig jy die mukus uit die sinusse uit en hou hulle leeg.  Kyk wat gebeur as jy die oggend in die badkamer ordentlik snuif:  daar kom baie meer mukus agter in jou keel as wat in die neus alleen teenwoordig kan wees:  dus, jy het mukus uit die sinusse gedreineer.

Gooi dus die sakdoeke weg!! (Behalwe nou as jy net ligweg wil afklad).  Hou die neus oop deur indien nodig anti-histaminika te drink of soms kortisoonneussproei te snuif as die dokter dit nodig sou vind.  Om soutwater te snuif het ook die effek dat jy self die sinusse dreineer.

‘n Ander belangrike maatreël is om ALTYD met ‘n toe mond asem te haal.  As ‘n mens deur die mond asemhaal word die lug wat na die longe gaan nie voldoende bevogtig en gefiltreer nie. Indien ‘n mens daarop konsentreer om met ‘n toe mond asem te haal, help dit op sigself ook om die neus oop te hou.   Hou ook die mond toe as jy draf of oefen en haal deur die neus asem, vir dieselfde rede.

Nog ‘n belangrike komponent van die liggaam se fisiologiese hantering van sinusitis is om rekening te hou met een van die belangrikste komponente van die immuunstelsel, nl. die mikrobioom in die dermkanaal.

60% van die liggaam se immuniteit word in die dermkanaal opgewek, en as die dermkanaal in aanraking kom met ‘n antigeen (of dit nou ‘n allergeen is, of ‘n mikro-organisme), maak hy volledige immuniteit daarteen.  Dit is bv. hoekom polio- entstof ingesluk word en nie ingespuit word nie:  die immuniteit word in die dermkanaal opgewek.

Dit beteken dan ook dat as ons die allergene insluk wat in die mukus van die neus en die sinusse vasgevang is, die liggaam se immuunsisteem in die dermkanaal die allergene identifiseer, en dan die gepaste antiliggame (wat die allergene beveg) sal produseer.  Allergene/mikro-organismes wat in ‘n sakdoek beland help nie om immuniteit op te wek nie.

Maak 'n opmerking

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui