Familiële Hoë Cholesterol en die rol van die Lipogram

By | 13 Junie 2012


Familiële of oorerflike hoë cholesterol is nie net een siektetoestand nie, maar bestaan uit ‘n wye spektrum genetiese afwykings wat van ons Hollandse voorsate afkomstig is. Enige een van die bloedvetkomponente afsonderlik, of ‘n kombinasie daarvan, kan verhoog wees.

Onthou dat cholesterol nie ‘n vloekwoord is nie: dis ‘n essensiële bestanddeel van selwande, speel ‘n rol in die liggaam se immuniteitstelsel, is nodig vir die vorming van galsoute (wat nodig is vir spysvertering), is nodig vir die vervaardiging van die steroïedhormone en is belangrik vir instandhouding van die breinweefsel. Die liggaam vervaardig self cholesterol bo en behalwe dit wat ons inneem.

In Suid-Afrika is ‘n verhoogde bloedcholesterol algemeen. In die meerderheid van gevalle is dit ‘n lewenstylsiekte. Dit beteken, net soos in die geval van diabetes, dat dit teenwoordig is by mense wat die genetiese geneigdheid daartoe het en terselfdertyd te veel vet en kalorieë eet en te onaktief is om ‘n balans te handhaaf.

‘n Verhoogde cholesterol is ook deel van die poli-metabliese sindroom wat diabetes en hipertensie insluit. ‘n Familiegeskiedenis van hartsiektes of beroertes op vroeë ouderdom, is ‘n waarskuwing om jou cholesterol te laat toets.

Om net ‘n cholesterolbepaling in die bloed te doen gee nie vir ons ‘n goeie idée van risiko nie. Daarvoor het ons ‘n vastende lipogram nodig, d.w.s. ‘n bloedmonster wat geneem word in die oggend voordat jy enigiets geëet of gedrink het.

Die rol van die Lipogram
‘n Lipogram gee vir ons die verskillende cholesterolfraksies in die bloed, wat help om die ware risiko te bepaal.

Die toetsresultaat sluit in:

  • Totale cholesterol
  • Trigliseriedes, wat veral weerspieël wat jy eet
  • HDL (hoë digtheid lipoproteien), wat GOEIE cholesterol is waarvan ons die waarde hoog wil hê
  • LDL (lae digtheid lipoproteien), wat die skadelikste deel van die cholesterolreeks is wat die meeste komplikasies (bloedvatbeskadiging met gevolglike hartaanvalle en beroertes) sal veroorsaak.

‘n Hoë HDL sal tot ‘n mate ‘n hoë totale cholesterol uitkanselleer.

Die “goeie” cholesterol (HDL) word verhoog deur oefening, genoeg slaap, een glasie rooiwyn per geleentheid saam met jou vriende en ‘n ontspanne lewenstyl. Baie stres, min oefening, swak eetgewoontes en min slaap verlaag die HDL, en ‘n lae HDL is op sigself ‘n risiko vir hartsiektess. Lag dus meer! Kry vriende om vir jou grappe aan te stuur per selfoon of e-pos! Maak ‘n punt daarvan om die lewe te geniet.

Net ‘n klein persentasie mense het die gevaarlike familiële hipercholesterolemie wat gekenmerk word deur verdikte spierpese by die elmboë en in die Achillestendon (bo die agterkant van die enkel), en xantelasmata (geel vetkolletjies rondom die oë). Hierdie tipe kan vroeë komplikasies van die bloedvatstelsel veroorsaak en moet drasties met cholesterolverlagende medikasie behandel word.

Daar is ook ander genetiese merkers beskikbaar soos bv. lipoproteien a, ‘n bloedtoets wat saam met die lipogram by ‘n laboratorium gedoen word.

‘n Maklike merker van of daar bloedvatskade is, is om met sonar ‘n meting te doen van die intima media (die voering) van die karotis-arteries (die arteries in die nek wat bloed na die brein voer). Onthou, ROOK bly een van die heel grootste risiko’s vir bloedvatskade.

Daar is ‘n verskeidenheid van cholesterolverlagende middels op die mark. Dis dikwels nie nodig om ‘n verhoogde cholesterol wat as enkelrisiko teenwoordig is te behandel nie, maar mense wat reeds ander risiko’s het soos diabetes, hipertensie, familiegeskiedenis van hartsiekte op ‘n jong ouderdoem, vorige hartaanvalle of beroertes, ens. sal deur hulle dokter op een van hierdie middels geplaas word. Daar is internasionale riglyne van die teikens wat verkieslik bereik moet word vir die verskillende lipogramfraksies.

Gesonde eetgewoontes bly baie belangrik in die behoud van ‘n normale lipogram.

4 thoughts on “Familiële Hoë Cholesterol en die rol van die Lipogram

  1. Helena

    Kan ek asseblief ‘n dieet kry vir hoë cholesterol vir ‘n dame van 75 jaar oud??
    Dankie

    Reply
    1. docfrancois

      Helena, dieselfde beginsels van goeie eetgewoontes geld op enige ouderdom. Skakel sover moontlik alle vette uit die dieet. Wat ‘n mens eet, bepaal egter nie in totaal wat die cholesterolwaarde is nie. Die genetiese agtergrond speel steeds ‘n groot rol. Indien die cholesterol betekenisvol verhoog is, is medikasie wel aangedui. Skakel ook sover moontlik alle ander risiko-faktore uit: MOENIE ROOK NIE; sorg dat jy aktief bly en oefening kry, en beperk stres.
      Sterkte hiermee.

      Reply
    2. docfrancois

      P.S. Ietwat tong in die kies, Helena: My skoonma het op 70-jarige ouderdom gesê dat ‘n mens wanneer jy so oud geword het maar mag eet net waarvoor jy lus is. As ‘n mens se grootste bekommernis op 75 jaar hoë cholesterol is, dan is jou eetgewoontes waarskynlik heeltemal gesond genoeg.

      Daar is ook nog inligting beskikbaar oor gesonde eetgewoontes in die volgende artikel op my blog: Hoe bly ‘n mens gesond?

      Reply

Laat 'n boodskap aan docfrancois Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui