Aspekte van die begrip melk-allergie teenoor -onverdraagsaamheid (“intoleransie”)

By | 22 September 2009

Ek beveel standaardweg die drink van een liter melk (verkieslik afgeroom) per dag aan en ek het reeds voorheen oor die voordele van melk geskryf.  (Sien Osteoporose en die storie van melk.)

milk

Kortliks weer:  Melk is ‘n unieke voedselsoort  waarin essensiёle voedingstowwe insluitende proteïen,  koolhidrate, Vitamienes A, B6, B12, riboflavien en niasien, asook minerale soos kalsium , fosfaat, magnesium, kalium en sink voorkom  –  alles essensieel in ‘n gesonde dieet, en makliker absorbeerbaar in biologiese vorm as in pille of kapsules.  Verder speel melk  ‘n rol in die ontspanning van spiere (die ou raat van ‘n glas warm melk met slaaptyd laat ‘n mens werklik makliker ontspan en slaap) en die bekamping van hoё bloeddruk.

Mense sê egter dikwels dat hulle “allergies” is vir melk,  sinusitis en soortgelyke probleme kry wat hulle aan die gebruik van melk toeskryf.  Dis meestal ‘n foutiewe begrip, want ‘n ware allergie is iets heeltemal anders as ‘n voedsel-intoleransie (lg. is ‘n vorm van wan-absorpsie).

‘n Ware allergie is ‘n komplekse immunologiese siektetoestand, wat dikwels misverstaan word.   In ‘n ware allergie word  anti-liggame teen ‘n spesifieke allergeen gevorm, wat onmiddellike simptome kan sneller in die lugweё, die vel of die dermkanaal.

Laktose- intoleransie, aan die ander kant, is die onvermoё om laktose (die koolhidraat wat in melk voorkom, dus melksuiker)  te verteer.  Laktose moet deur die ensiem laktase verteer (gehidroliseer) word.   Vertering split die laktose in twee komponete,   naamlik glukose en galaktose , wat albei enkel molekules is.   Slegs enkel molekules kan deur die dermkanaal geabsorbeer word.  Indien die laktase onvoldoende is,  sal onverteerde laktose aan die mikro- bioom (die miljoene mikro-organismes wat in die kolon teenwoordig is en wat ‘n sentrale rol speel in die verwerking van alles wat ons eet) blootgestel word.

Die mikro- organismes in die kolon sal die onverteerde suiker nou omskakel na sure en gas wat tot ‘n meerdere of mindere mate ongemaklik kan wees.

Die ensiem laktase verminder eksponensieel in die mens nadat borsvoeding gestaak is tot net 10% van die waarde wat babas het, oorbly.

Die faktore wat die kanse vir onverdraagsaamheid bepaal, is:

  • Etnisiteit (lae vlakke van laktase is baie meer algemeen in Oosterse,  Suid Europese en Swart rasse, dus kry hulle meer dikwels melk-intoleransie).
  • Mediese toestande soos wanvoeding,  infeksies van die dermkanaal, blootstelling aan anti-biotika,  of na operasies van die dermkanaal.

Die voorkoms van melk-allergie en melk-intoleransie in die RSA:

  • Allergie kom in 2% van kinders onder die ouderdom van 2 jaar voor. In volwassenes is dit uiters raar.
  • Laktose intoleransie kom weer nie in babas voor nie,  en in volwassenes in ons land is die gemiddelde voorkoms slegs 11%  –  maar weer baie minder in blanke rasse as in swart rasse.
  • Indien melk-allergie by ‘n kind gediagnoseer op grond van immunologiese bloedtoetse,  moet alle melk en melkprodukte volledig vermy word. Na een jaar het 50% van die babas reeds die allergie verloor;   na twee jaar is 75% nie meer allergies nie;  na drie jaar is 90% nie meer allergies nie en na puberteit is 97% nie meer allergies nie.

Laktose-intoleransie word gekenmerk deur diaree.   Selfs indien jy laktose- intolerant is,  kan jy steeds melk drink vir die voordele daarvan.  Hou die volgende in gedagte:

  • Gebruik melk saam met ander voedsel nie op sy eie nie.
  • Bou stadig jou toleransie op. Begin stadig en maak die inname stadig meer. Die mikro-organismes pas geleidelik aan en help nou om die melk skadeloos te verteer. Enigeen kan 250ml melk drink sonder probleme.
  • Volroommelk word beter hanteer as afgeroomde produkte.
  • Yoghurt is beter as melk.
  • Kaas word baie goed verdra omdat dit baie laag in laktose is.
  • Lae laktose melk en laktose- verteerde produkte is beskikbaar in apteke.
  • Sekere pro-biotika help.

Die nadele van onnodige oordiagnosering van gewaande allergie is dat die unieke voordeel van melk  verloor kan word.

En sinusitis is nie ‘n simptoom van melkonverdraagsaamheid nie!

2 thoughts on “Aspekte van die begrip melk-allergie teenoor -onverdraagsaamheid (“intoleransie”)

  1. arlene

    my seuntjie is 2weke oud,hy drink tans nan1,na elke 4 voeding is hy baie ongemaklik omtrent vir 3ure tot hy weer slaap,kan dit wees dat die vorige 3 bottels ni dadelik pyn gee nie en dan met die 4de een eers wys? My dogtertjie was dieselfde behalwe dat sy na elke bottel seer gehad het,op 5maande oud het ek haar op nan lactose free gesit en al die probleme was weg,is dit moontlik dat die seun ok lactose intolerant kan wees?

    Reply
  2. docfrancois

    Ek weet nie veel van babas nie enige ma kan my baie leer. Wat ek wel weet is dat laktose intoleransie uiters selde voorkom in babas. Laat asb weet of julle ‘n oplossing kon vind en hoe gaan dit tans (alllergie teen melk kom baie meer algemeen voor)

    Reply

Laat 'n boodskap aan arlene Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui